Slegter as hoenderspel kan dit nie gaan
Ai, droefheid, maar dis 'n gesukkel om daai All Blacks onder te kry!
Beeld
Drienasies-rugbyreeks van 2008
Die bepalings, uitslae en puntestand.
  • Statistieke van Curriebeker-reeks
  • Statistieke van die Super14-reeks
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    Uselessly wil skryf vir dié wat meen ‘om boeke te lees, is absurd’
    Oct 02 2006 07:21:40:540AM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend
    Salomé Snyman

    Uselessly deur Aryan Kaganof. Jacana Media (sagteband), R138. ISBN 1-77009-100-9

    Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

    Die postmodernistiese skrywer John Barth het dié skryfvorm ’n “literature of exhaustion” – gebore uit die uitputting van tradisionele letterkundige vorme – genoem.

    As jy meen dat niks anders as letterkundige anargisme uit dié “dilemma” kan voortspruit nie, moet liefs nie kosbare tyd verkwis met die lees van Aryan Kaganof se Uselessly nie.

    Diegene wat egter hou van tekstuele speelsheid, stilistiese nie-konformiteit en die uitdaag van die tradisionele, sal waarskynlik dol wees op die boek. (Dit sal ook help as jy ’n stywe dosis toilethumor kan verduur wat sterk herinner aan dié in oorsese televisiereekse soos Beavis and Butthead (vgl. die karikatuur op die voorblad) en Little Britain.)

    Die persona “Aryan Kaganof” is die “reïnkarnasie” (te Randburg in 2001) van ene Ian Kerkhof ná sy terugkeer uit Nederland waarheen hy tydens die apartheidsjare geëmigreer het. Daar het hy hom as rolprentregisseur bekwaam en vele toekennings ingeoes.

    Sy geesteskinders Wasted! en SMS Sugarman, die eerste vollengte rolprente onderskeidelik geskiet op ’n digitale videokamera en ’n selfoonkamera, prosawerke met titels soos Hectic! en digbundels (Post-mortemist poems, Jou ma se poems en so meer), verklap iets van dié kreatiewe gees wat ook ’n “kulturele terroris” en enfant terrible genoem is.

    J.J. (James Joyce!) Uselessly, die verteller-protagonis in Uselessly, is in 1964 in Johannesburg gebore, “the illegitimate son of my mother The Sinner Lady and my daddy The Devil”. (Daar is inderdaad heelwat intertekstuele names dropping – Nietzsche, Wittgenstein, Burroughs, Kierkegaard, ens. in Uselessly, ’n parodiese weergawe van Joyce se Ulysses.)

    Die roman is in epistelvorm geskryf. In briewe aan God eis Uselessly antwoorde op persoonlike eksistensiële vraagstukke soos waarom sterflinge hul brood in die sweet des aanskyns moet verdien en of winter God se idee van ’n wrede poets is. (Dit noop die hoofkarakter om sy meubels as vuurmaakhout te gebruik!)

    Uselessly – 39 jaar oud, werkloos en onderhou deur sy vriendin, ’n kroegmeisie – verduidelik sy lewensfilosofie só: “I was sent here in order to contribute to the slowing down of the universe, . . . I was forever re-moved from the grim social disease that unites most people: the sickness of ambition. Slowness is the alchemical formula for getting ahead through the medium of time and back to where it all began, the ultimate destination, which is You.”

    God, reken hy, het die duiwel geskep as teenvoeter vir die saaiheid van alwetendheid en voorsienigheid.

    Uselessly deel sy veelbewoë lewensverhaal met God en die leser (dié gedeeltes, “a tear-jerker, a melodrama with echoes of Euripides . . . ”, wek empatie vir die verteller!).

    Sy enkelma het hom grootgemaak in Yeoville, Johannesburg. Die hoogtepunt van sy voorskoolse jare was weeklikse wandelings saam met die huishulp Dorothy na die Ou Fort-tronk waar haar man toegesluit was vir ’n pasboekoortreding.

    Naweke het hy en sy ma deurgebring by sy tannie Nelly, oom Sam (wat sy goue Valiant elke naweek, die hele naweek lank, gepoets het) en niggies Moira en Myrna. Saam het hulle na Springbokradio se treffersparade – die ander hoogtepunt in sy lewe – geluister.

    Heelwat later in sy lewe maak sy biologiese pa sy opwagting. Uselessly word per brief verwittig dat sy pa, Harry, aan kanker ly en graag met hom herenig wil word. Sy verblyf in Seepunt saam met dié eksentrieke karakter (wat onder meer ’n jokkie en ’n aandelemakelaar was) is die gelukkigste in sy lewe: “There was no process. No complicated session, no therapy, no discourse. I was healed. I had my Dad.”

    Intussen begin Uselessly sy lewensverhaal Uselessly skryf. Dié metafiksionele aspek van die verhaal is kenmerkend postmodernisties. Die skrywerkarakter verduidelik: “The Dutch word “staart” means tail. The start is the tail end of this tale. This is a tale that keeps on starting over. It doesn’t have a surprise ending. It doesn’t have an ending at all. Just when you think that it’s finally ended, it simply starts up again. It starts with a “start”. It’s startling.”

    Aryan Kaganof is slim (slinks?). Hy is terdeë bewus van die paradokse wat, soos Pandora, deur hom en sy alter ego-karakter losgelaat word. Hy spot trouens daarmee. In ’n onderhoud het hy gebieg dat mense soos hy wat, terwyl hulle voorgee om anti-establishment te wees, agter ’n sekuriteitsheining woon, skynheilig is.

    Op sý beurt bieg die skrywerkarakter, Uselessly: “The problem with most books is that they’re written by and for people who read books. I want to write books for people who consider the very idea of reading a book absurd.”

    Na aanleiding hiervan tree die verknorsing van die postmodernisme ook op die voorgrond: Wanneer hegemoniese strukture, literêr of andersins, gedekonstrueer word, word ander nie noodwendig in die proses geskep nie? Uselessly som dié ironie raak op wanneer hy lakonies opmerk: “subversion is my version”.

  • Salomé Snyman is ’n doktorale student, departement Engels, Universiteit van Pretoria.

    Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |