Regstreekse telbord
Telbord in die derde kriekettoets tussen Suid-Afrika en Australië in Sydney.
Beeld
Matriekuitslae 2008
Beeld publiseer uitslae soos dit van die dept. van onderwys ontvang word.
  • Kliek hier vir die matriekuitslae.
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    Winterbach se roman 'Niggie' verbeeldingryk
    Dec 15 2002 07:56:37:560PM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend
    Niggie deur Ingrid Winterbach . Human & Rousseau (sagteband, 251 pp.), R99,95. ISBN 0798142863 .
  • Koop die boek
     
    In Ingrid Winterbach se Niggie is die drie hooffigure meer op reis as op kommando. Dis die laaste paar maande van die Anglo-Boereoorlog; die neerlaag 'n voldonge feit; wat heroïes begin is, is nou 'n lys van verlore veldslae en sterftes.

    Willem Boshoff, Reitz Steyn en Ben Maritz (let op die klinkende Afrikaanse heldename) kry verlof om die ylende jonger broer van 'n gestorwe maat na sy ouerhuis te bring. Onderweg beland hulle in die kamp van kommandant Gert Smal en sy "gevegsongeskiktes". Hulle vertoef 'n hele tyd in dié kamp en sy grotskuiling.

    Reitz en Ben, geleerdes vir hulle tyd, teken geologiese en natuurkundige waarnemings op om die tyd sinvol te benut. Hul joernale word kosbare besit, 'n stuk genade wat hulle beskore is en wat hulle die trouste bewaak. Dat ook hierdie joernale uiteindelik verlore gaan, voltooi die sirkel van verlies wat hierdie roman kenmerk.

    Die grootste verdienste van Niggie lê in die oortuigende uitbeelding van 'n groot verskeidenheid karakters. Hulle is almal so Afrikaans as wat kan kom, maar wie sou kon sê watter van dié grotbewoners in deug of ondeug die tipiese Afrikaner verteenwoordig? Is dit generaal Bergh, die redelike man, na wie die hoofkarakters op soek is? Is dit die onbevoegde en agterbakse kommandant Senekal? Die bitterbek Gert Smal? Die vuurvreters oom Mannes en oom Honne? Of miskien Oompie, die siener en salwer?

    Daar is die bittereinders, die vertwyfeldes, die koggelaars, die weemoediges, die gelowiges. Geen een staan egter in 'n sentrale, tiperende posisie nie. Die mosaïek van Afrikanerskap is bont.

    Daar word in die roman maar een "veldslag" gelewer. Ben, Reitz en Gert Smal word in 'n hinderlaag gelei (deur wie?). Op kommando was die manlike karakters geïsoleer; die vrou 'n droomverskynsel of 'n kwelling. Nou kom hulle egter by vroue uit. Niggie, Anna en Tante neem die gewondes in hulle sorg. In hierdie "helende sfeer van vroue" - soos dit met kwalik bedekte feministiese didaktiek genoem word - vind hulle genesing.

    Die Niggie-karakter is vir my die teleurstelling van die boek. Sy is 'n mooi vrou van so in die 30, positief en opbeurend, maar sy het die hinderlike gewoonte om klokslag met dieselfde woorde te vertroos of te versug. Haar "God help haar" (p.187), "God help hulle" (p.183), "deur God se genade" (p.182), "God help hom"(p. (179), "God help ons" (p. 189) word so dikwels herhaal dat dit egtheid inboet, 'n emosionele stoplap word.

    Oor haar swaarkry vertel sy vlot en maklik, terwyl sy oor 'n handwerkie op haar skoot buig. Sy lewer hier en daar kommentaar op die oorlog, die lewe van ander en hul lot, maar 'n diep en helende invloed word sy nooit nie.

    Anna se invloed op Reitz gaan dieper. Haar man word in die oorlog vermis, sy weet nie of hy nog lewe nie. Sy en Reitz word minnaars. As haar man terugkeer, kies sy egter in getrouheid vir haar huwelik.

    Dis jammer dat 'n bedenklike stukkie moraliteit haar karakter moet skaad: Reitz mag liggaamlik met haar verkeer maar hy mag haar nie op die mond soen nie. Dis maar 'n yl morele skansie wat so opgewerp word.

    Niggie is 'n verbeeldingryke roman, die vaal kolle ten spyt. Dit gee 'n blik op die Anglo-Boereoorlog wat ver verwyder staan van die heroïese. Dis 'n boek van verlies, van stukkies bymekaarmaak en verder probeer lewe.

  • louissventer@hotmail.com

  • Prof. L.S.Venter was verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands en moderne Europese tale, Universiteit van die Vrystaat.
    .
  • Koop die boek

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |