Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: McCann-sage en 'n wrang eietydse mite
Die verhaal van Madeleine McCann, wat vier maande gelede in Portugal verdwyn het, het vandeesweek in ’n asembenemende wending opnuut die wêreld se voorblaaie gehaal. Jean Meiring vra wat dié tragiese verhaal van ons en van die media sê. Met haar pruimmondjie op ’n knop getrek sou Miss Marple die hele spulletjie afgetrokke, agterdogtig deurgekyk het. Opeens sou sy haarself na die voorhuis van ’n ver-langse, uitgeweke niggie in Praia da Luz gewend het. Dáár, oor skons en flou tee, sou sy die wêreld se tergendste raaisel tjoef-tjaf kafgedink het. MAAR helaas, glo dit as jy wil, Miss Marple is ’n karakter uit ’n boek – en die prille Madeleine McCann is waaragtig, skynbaar onomkeerbaar, wég. Tog het haar Britse ouers, Gerry en Kate McCann, sedert haar verdwyning op die aand van 3 Mei eweneens as karakters in ’n sepie ontluik – ’n melodrama wat die ganse mensdom se aandag op ’n voorheen onbekende Portugese kusdorpie gerig hou. Soos die vinger al hoe sterker na die McCann-ouerpaar wys – terwyl ek skrywe lyk dit elke uur aanlyn asof die uitwysing al hoe oortuigender raak – neem die koue ongeloof, natuurlik, in ’n mens toe. Hoe is dit immers moontlik dat dié aantreklike, gelowige egpaar die allemintige front wat hulle die afgelope vier maande sou moes opgesit het, kraakvry voor hordes klikkende kameras in stand kon hou? Waar het hulle die verstommende chutzpah, die toneelvernuf vandaan gekry om die wêreldmedia, die Britse premier en selfs die pous om hul pinkie te draai? Of was dit juis die (veral Britse en Amerikaanse) media se gretigheid in daardie eerste klompie dae om ’n tradisionele verhaal van die stryd tussen goed en kwaad te vertel wat die resepsie van dié moderne mite van alle kritiese ondersoek vry verklaar het? Die opbreek van die intieme kring van ’n goed opgevoede kardioloog en sy beskaafde dokter-vrou en kinders kan mos aan niemand anders as ’n indringer van buite, ’n Raka, verkieslik uit Noord-Afrika, te wyte wees nie. Soos Proserpina is die kleine Madeleine in ’n eietydse Pluto se greep die pedofieleonderwêreld in. Soos Cassandra is haar wil wreed deur ’n donker Ajax onderwerp. BESLIS kan die ouers in geeneen van dié taferele iets anders as lydende, onskuldige figure wees nie. Die McCanns is inderdaad in ’n sin tot heiliges verklaar – deur openbare foltering gepuur. En ten spyte van statistiek wat oorweldigend sterk daarop dui dat kinders in Wes-Europa bitter, bitter selde uit huise ontvoer word, het die hoofstroommedia uit die staanspoor verseg om die moontlikheid dat die ouerpaar betrokke kon wees te bespreek. Tog weet sielkundiges en sinici ewe goed dat klein kinders wat leed oorkom in die meeste gevalle onder hul ouers of ander naby aan hulle deurloop. En boonop is Praia da Luz, soos ’n oudpolisiehoof in die Britse koerante opgemerk het, ’n erg onwelkome plek vir pedofiel-ontvoerders en ander boosdoeners. Dis nie landelik genoeg, soos Soham op die Engelse platteland byvoorbeeld, om ’n ontvoering maklik ongesiens te laat gebeur nie. Eweneens is dit nie stedelik genoeg sodat iemand doodluiters met ’n (dalk skreeuende?) kind in die massa kan verdwyn nie. Verder is die risiko wat ’n indringer loop as hy in ’n onbekende woonstel in ’n kusoord inbreek ’n tamaai ene: Dis vakansietyd, en vakansiegangers is berug vir hul minagting van roetine – vir hoe graag hulle spontaan huis toe jaag om ’n kamera of ’n bottel soetwyn te gaan haal. Tog was sulke bespiegelinge maar net praatjies in die wind, veral gesien in die lig van die Portugese polisie se beleid van geheimhouding in die vroeë stadium van ’n strafregtelike ondersoek. Dít totdat die nuus oor die afgelope anderhalf week begin uitsyfer het dat daar DNS-getuienis is wat ernstige vrae oor die McCanns se rol in die tragedie na vore laat kom. TOTDAT die egpaar einde verlede week aan dag lange ondervragingsessies onderwerp is, en hulle na berig word onwillig was om sekere belangrike vrae te beantwoord. Veral vrae oor genoemde DNS-materiaal, én hare, na bewering van hul verdwene dogter wat in ’n motor gevind is. Die motor is ’n volle 25 dae ná Madeleine se verdwyning deur die McCanns gehuur, die dag voordat hulle Rome toe gevlieg het om die pous te ontmoet. Die implikasies hiervan is gedrogtelik, en byna gans en al buite die geloofwaardige: Hoe kon Gerry en Kate McCann, met die hele wêreld se oë op hulle gerig, die lyk van hul kind êrens opdiep en dit elders gaan wegdoen? Selfs die Griekse tragedieskrywers sou met dié intrige moeite hê. Maar dis presies wat die Portugese polisie en vervolgingsgesag glo gebeur het. Te midde van al dié wilde beweringe, skynbaar ongelooflike teorieë en opstapelende getuienis, staan een ding vas: As die McCanns vervolg word, en skuldig bevind word, sal die Britse en Amerikaanse hoofstroommedia saam met hulle in die beskuldigdebank sit. Vandag reeds is daar sekerlik die wêreld oor ’n norring kommunikasiekundestudente wat voorleggings vir Ph.D.-navorsingsprojekte oor die geval McCann en die media voorberei. ’n Moontlike titel? “McMedia and the abduction of its critical faculty.” EEN van die kernvrae wat dié navorsers sal trag te beantwoord is hoe dit moontlik is dat daar daagliks wêreldwyd duisende kinders vermis raak, maar dat één geval die wêreldmedia soos nou op loop laat sit. Presies tien jaar ná die afsterwe van Diana, prinses van Wallis, en die stortvloed onbevraagtekende schmaltz wat dit ontketen het, is dit in die jaar 2007 weer so. Presies waarom ons juis nou, juis oor dié kind, só voel, sê tog baie oor ons en oor die media wat ons, na bewering, dien. As die rede is dat Madeleine wit, én oulik, én lid van 'n opgevoede, welgestelde Westerse gesin is, is ons en die media se voortstorting van sentimentaliteit ten beste bedenklik selektief. As dit aan die McCanns se konneksies toegeskryf kan word en aan hul en hul adviseurs se vernuf as beeldpoetsers en media-stratege, wonder 'n mens eweneens oor die media se ewewigtigheid en geloofwaardigheid. Oor hul gewaande onpartydigheid. En as dit sou blyk waar te wees dat die McCanns enigsins by hul dogter se verdwyning betrokke was, sal dit 'n galdonker wolk oor die wêreld se joernalistieke gemeenskap skuif. 'n Wolk wat moeilik sal wyk. Dit sou die falanks TV- en koerantjoernaliste wat sedert Meimaand in Portugal uitkamp as 'n spul naïewe klakpraters uitwys - kritiekloses wat statistiek en common sense aan sentiment en mitiese denke ondergeskik stel. Miss Marple sou stellig met al haar granny print-ingetoënheid talle vrae aan dié lede van die media wou stel. WAAROM is dit dat die McCann-egpaar op Warholagtige wyse wêreldwye ikoonstatus verwerf het - onthou onder meer die foto met hul hande in dié van die pous - maar so min is oor hul agtergrond en individuele geskiedenisse bekend? Waarom, in die era van Facebook, is vriende wat saam met hulle op skool of universiteit was nie opgespoor en ondervra nie? Privaatheid is tog geen antwoord nie, nie in die geval van mense wat ? ongeag die omstandighede - die media in so 'n mate opsoek nie. Selfs al was dit volkome duidelik dat die McCanns geen sweem van skuld kan hê aan die verdwyning van hul dogter nie, is dit tog die media se natuurlike instink - én plig - om meer te wete te kom van figure wat so oorweldigend téénwoordig is. Wat só vinnig só magtig geword het. Verder sou Miss Marple wou weet waarom dit is dat daar te midde van soveel duisende kilometers koerantberigte geen enkele duidelike uiteensetting is van wat die McCann-gesin en hul sewe vakansieganger-vriende die middag en vroegaand van 3 Mei gedoen het nie. Die laaste foto van Madeleine, langs haar pa en suster op die rand van 'n swembad, is volgens die kamera se tydfunksie om?streeks halfdrie die middag van 3 Mei geneem. Presies wat het elkeen van dié groep gedoen tot hulle teen halfnege daardie aand na die tapas-restaurant toe is? Dís tog direk relevante nuus in 'n geval soos dié. Dit kan betrekking hê op wat later met Madeleine gebeur het. En teen die agtergrond van bogenoemde statistiek, waarom het die media Kate McCann se dalk heel onskuldige, instinkmatige uitroep tienuur daardie aand dat ongespesifiseerde mense "haar geneem het" net so vir soetkoek opgeëet? Die drif en welsprekendheid waarmee die McCanns hul lot op die televisie bekla het, die mate waarin hulle (en talle beeldpoetsers) hulself as die perfekte ouerpaar voorgestel het, moes tog sekerlik nie die media hul kritiese oordeel ontneem het nie. Dit is nie mooi om 'n ouerpaar wat ly van kritiek te bedien nie, maar 'n bespreking van wat op die aand van 3 Mei gebeur het, sou tog sekerlik effe meer gebalanseerd kon gewees het. Effe meer gewig verleen het aan die feit dat die McCanns hul drie piepklein kinders in 'n vreemde land alleen in 'n oop woonstel gelaat het. En dít terwyl hulle in 'n restaurant gekuier het wat, volgens foto's, anderkant 'n groot swembad, heel deeglik omhein en afgeskort is. Dit is byna asof die beelde van hul verdwene dogter en van hulself wat die McCanns digitaal die wêreld vol gestuur het, alle stemme teen hulle gestil het. Nes Diana het hulle gou uit al wat koerant en televisie is soos eietydse heiliges op ons blote mense afgekyk. Stil, broer, daar gaan 'n martelaar verby. TOG lees 'n mens, as korrektief, maande terug al op 'n blog dié siniese opmerking, rofweg onthou: "Ek kyk altyd so na die betraande siel wat die perskonferensie toespreek, en weet in my agterkop: J? gaan op die ou end as die skuldige uitgewys word." En dit is juis hiér - in die ongekarteerde blogosfeer - waar die ontmande hoofstroommedia sedert die begin van dié sage al lelik op hul herrie kry. Waar al die ongevraagde vrae dawer. 'n Mens moet toegee sekere van dié blog-kommentatore is onnodig venynig, sekere saal weer wilde samesweringsperde op ("die ouers het haar aan 'n Katolieke sekte verkwansel") en ander is satiries van aard ("in an astonish-ing new twist to the Madeleine McCann enquiry, the Pope has been arrested and brought to Portugal for questioning"), maar sonder hulle sou die algemene publiek volkome aan die dwingelandy van die McCann-mite uitgelewer gewees het. Soos die net klaarblyklik al hoe stywer om die McCanns getrek word, kan 'n mens nie anders nie as om te dink: Die mediamonster wat h?lle geskep het, wat hulle maande lank bloots gery het, keer nou sy wrede tande op h?lle. Dié tande wat eers vir die Portugese polisie geslyp is - die onbeholpe Keystone Cops wat tog so lief is vir uitgerekte middagetes in die son - dreig nou om die McCanns lewend te verslind. In Brittanje het die regsgesinde en by tye nogal xenofobiese Daily Express- en Daily Mail-koerant reeds vroeg vandeesweek hul stemme teen die McCanns begin dik maak. Die getuienis, was die implikasie, lyk al hoe leliker, en al hoe oortuigender. Die Portugese polisie onbeholpe? Watwo. Wie't dit ooit gesê? Maar soos dié kentering plaasvind in hoe die media die McCann-storie oordra, kan 'n mens nie anders as om te sidder nie. Oor die media se brutale eenogigheid, en hoe hulle telkens, keer op keer, die nuus tot eenvoudige, eendimensionele verhale probeer reduseer. Hul rolverdelings sluit altyd een of twee volslae booswigte in wat teen die ander goeie karakters in die wêreld te staan kom. Wie wie is, is van weinig belang. En 'n mens se gedagtes draai onwillekeurig terug na Lindy Chamberlain. Nadat haar nege maande oue kleintjie, Azaria, in 1980 in Australië deur ?n dingo weggevoer is, het sy deels weens die media se toedoen jare in die tronk geslyt voordat haar skuldigbevinding uiteindelik opgehef is. Selfs al lyk die getuienis hoe sterk, sal dit die media baat om nou weer Chamberlain se lot in herinnering te roep. WAT die uitkoms van die volledig bisarre McCann-sage ook al is, 'n klompie dinge staan vas. Die Westerse hoofstroommedia sal indringend selfondersoek moet doen. Om na dese ewewigtige, intelligente ondersoek en 'n kritiese ingesteldheid te herwin gaan 'n opdraande stryd wees. En so baie van ons sal ons moet afvra waarom ons vanjaar in Meimaand op so 'n vreemde, anderwêreldse wyse op loop gegaan het. Ons rede laat vaar het. Waarom die mite, die waarheid daarvan, vir ons so belangrik was. Dié vraag sal selfs Miss Marple ontgaan.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|