Slegter as hoenderspel kan dit nie gaan
Ai, droefheid, maar dis 'n gesukkel om daai All Blacks onder te kry!
Beeld
Drienasies-rugbyreeks van 2008
Die bepalings, uitslae en puntestand.
  • Statistieke van Curriebeker-reeks
  • Statistieke van die Super14-reeks
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    By: 'Hier bly ons, al ly ons'
    Nov 23 2007 02:40:56:630PM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend

    Tant Stienie en Bruce Beyers van Agter Elke Man het ’n sekere bekoring aan die armoede in Jan Hofmeyrverleen. Nou is die fliekweergawe van Marlene van Niekerk se boek Triomf ook hier gemaak. MARIDA FITZPATRICK en die fotograaf DAWID ROUX het die rooibaksteenhuisies in dié klein Johannesburgse woonbuurt besoek en besef daar is niks romanties aan die werklikheid van ellende nie.

    SNAGS is die maan en die liggies van die Brixton­toring oral in Jan Hofmeyr sigbaar.

    Op die maan is ’n mens ses keer so lig as hier. Die swaartekrag daar is net ’n sesde van wat dit op aarde is. Dít is hoekom ’n mens op die maan net tussen tien en twintig kilogram weeg. Dit is hoekom ’n mens nie op die maan loop nie, maar sweefspring.

    In Jan Hofmeyr weeg ’n mens ’n ton. Gewelddadig en vasberade trek die swaartekrag mens en dier aarde toe.

    As die maan reg bo Jan Hofmeyr gehang het, het hy seker ook met ’n slag aarde toe gekom en vaal en stowwerig tussen die rooibaksteenhuisies neergeval.

    Want hier is die swaartekrag genadeloos sterk. Só sterk dat dit moeilik is om jou voete op te tel, wat nog te sê spring of sweef.

    DIT is ’n mooi somerdag. Op die sypaadjies van Jan Bom, soos die inwoners die woonbuurt noem, staan die bome groen en welig en die spits sinkdakke glinster in die oggendson.

    Mnr. James en me. Wendy Victor staan en sweet voor hul hek. Hulle is besig om panele van ’n prefab-muur op die grond uit te pak. “Hulle steel die bakstene en die sand, nou kan die karre nie hier op nie,” verduidelik Wendy (37) terwyl sy orent kom.

    “Nee kyk,” vertel sy binne verder, “hierdie is ’n plek op sy eie.”

    Hul klein drieslaapkamerhuis is donkerig en dit ruik benoud. Die agtjarige Nikita spring met sprinkaanbene langs haar ma op die lendelam bank. “Haar juffrou is op ’n kursus,” verduidelik Wendy hoekom Nikita elfuur op ’n Dinsdagoggend in haar pajamas by die huis is.

    Hulle woon al tien jaar in Jan Hofmeyr. “Ek is ’n huisvrou; hy maak plan,” sê sy en mik met haar kop na buite, waar James nog met die prefab-blokke spook. “Dan het hy werk, dan het hy nie.”

    Jan Hofmeyr is aan die agteruitgaan, meen sy. “Kinders begin op 13 met prostitusie en drugs. Die plek word erger en erger,” sug Wendy en gee haar sigaret vir Nikita aan, wat dit behendig tussen haar wys- en middelvingertjies vat en die as in die asbakkie afskud voordat sy sigaret in die hand buitentoe hop – seker om vir pa te gaan gee.

    “Die drugs gee die plek ’n slegte naam,” sê James later toe hy ook binne kom gesels. “Die hoere ook!” voeg Wendy by.

    Maar bly sal hulle bly. “Die rent is goed­koper. Ons betaal R163. Ek kan nie kla oor die plek nie.”

    STRAATOP gaan dit jollie-patrollie. ’n Groepie mans en vroue staan op die straathoek oorkant die Jan Hofmeyr Café en lag en drink en gesels.

    Een van die vroue, wat bier uit ’n afgebreekte Coke-bottel drink, het haar twee kleuterseuntjies by haar.

    Tussendeur die geselsery noem ’n ander vrou sy “doen hier besigheid”. Watse besigheid? wil ek weet. Die frons tussen haar oë vra: Is jy stupid? “Ek hoer,” sê sy.

    Een van die jong mans in die groep vat ’n sluk uit ’n Black Label-bottel en lag. “Dis haar kantoor hier’ie,” proes hy en gooi sy arms oop. Hier waar jy nou staan, is die VIP lounge!”

    Sy doen dit net vir haar drie kinders, sê die 35-jarige prostituut. Sy wil nie haar naam genoem hê nie. Haar kort hare is wit en bros gebleik; haar vel verniel en bruin geskroei.

    “My ma kyk na my kinders. My laaitie loop al hoërskool, my kleintjie gaan nou skool toe,” sê sy. “My ma weet van my. Sy laaik dit nie, maar wat kan sy doen?”

    Waar hulle staan, is nie eintlik Jan Bom nie, dis Fietas (die inwoners se bynaam vir Vrededorp en Pageview, twee klein woonbuurte wat aan Jan Hofmeyr grens). “Of Varkepark, soos ons dit noem,” sê mnr. Thinus Barnard (28). “Jy moet pasop, die kokkerotte dra Nikes hier.” Hy skater.

    Thinus is werkloos. Hy kán werk kry, sê hy, “maar wat’s die use? Ek het drie sake.” Hy praat van strafsake waarop hy verhoorafwagtend is. “Huisbraak, diefstal en assault GBH,” rammel hy die klagte en die afkorting vir grievous bodily harm af asof hy dit honderd keer moes uitskryf.

    Hy’s nie bang vir die tronk nie. “Neeeeeee,” sing hy. “Ek’s my lewe lank in en uit, in en uit.”

    Maar hy’t nou ge-change. “Ek was op drugs daai tyd.”

    Hulle almal was al of is steeds op drugs. “Ek sal ’n drug addict wees tot ek doodgaan. Ek love rocks,” sê ’n ander jong man, net bekend as Dirkie. “Ek het baie diplomas,” sê hy. “As ek jou al my diplomas wys, gaan jy skrik. Thinus, hoeveel diplomas het ek?”

    Thinus hoor hom nie. Dirkie gaan aan. Hy is ook gedurig in en uit die tronk, sê hy. “Ek steel al vandat ek 14 is.”

    Maar sy’s happy in Fietas, sê die prostituut. “Wat lekker is, is dis redelik crime free.”

    ME. Sheila Fouché (53) kom om die hoek aangestap. “Tannie, gee my ’n skyf,” vra Dirkie. Sy gee. Haar stiefdogter, me. Josie du Preez (42) is saam met haar. In haar arms hou sy haar babadogtertjie van ’n maand oud. Haar twee ouer seuntjies is ook by haar.

    Hulle almal is op pad na die sopkombuis ’n paar blokke verder. Die sopkombuis gee elke dag vir ’n paar honderd inwoners van Jan Bom en Fietas kos. Vir baie is dit hul enigste maaltyd van die dag.

    By die sopkombuis vra iemand wat die baba se naam is. “Susanna Deborah Ve­ronica,” sê Josie trots. “Ai, die kind dra maar swaar,” is die vrou se kommentaar.

    Almal dra swaar in Jan Bom.

    As ’n mens vinnig kyk, kan dit ’n oomblik soos ’n knus dorpie met oulike, klein huisies en mooi, groen bome en blou lug en wit wolke lyk.

    As jy jou oë toemaak, kan dit ’n oomblik soos ’n rustige, voorstedelike middag klink – met geluide van krieke, duiwe, kinders en ’n roomyskarretjie.

    Maar die swaartekrag is te sterk. Dit trek al jou sintuie af tot teenaan die swaarkry: die muwwe reuk van ellende, die droë smaak van desperaatheid, die getjank van ’n maer, dragtige hond wat spartel om deur ’n gat in ’n ogiesdraadheining te ontsnap.

    Hier en daar probeer iemand die swaartekrag uitdaag: ’n Paar kinders speel in die parkie en maak bolmakiesies deur die lug van ’n stapel gaar matrasse en matte af. Twee tieners speel sokker en moet koes toe ’n rooi Uno windgat en doef-doef in die straat afgejaag kom. ’n Jong man sit agter die stuur met ’n wat-kyk-jy-ek-donner-jou-uitdrukking op sy gesig.

    “Hierso maak hulle jou sommer salig dood,” sê mnr. Willem Steyn (59), wat al 33 jaar in Jan Bom woon. “Daai jare, as jy baklei het, dan gaan drink jy ná die tyd saam. Maar nie vandag nie. Vandag maak hulle jou dood.”

    Ons sit in Willem se suster, me. Hettie Brits (57), se huis. Daar is muurpapier op die vloer en Footprints teen die muur.

    “Dis hoekom ek so min as moontlik hier is,” sê Willem, sy mond klein en geplooi van min tande. “Ek gaan Westgate toe, na my meisiekind toe. Dan gaan speel ons Bingo.”

    OP een van die sypaadjies kry ons ’n 50-jarige vrou. Haar hare is geel gekleur en haar oë blou geslaan – nuwe kneusplekke oor oues. “Ek wag vir die poelies,” sê sy en suig met bewende vingers aan ’n sigaret. “My seun het my geslaan. Hy slaan my elke dag.” Sy en haar seun bly in ’n klein woonwaentjie op een van die erwe.

    Die verrinneweerde vel om haar oë kreukel en sy begin huil. Haar ken ruk. “Hy is ’n handicapped child, maar hy is baie sterk.”

    ’n Straatblok verder sit ’n jong ma op die muurtjie van die stoep. Sy is 25 en sy en haar drie kinders woon nog hier by haar ma. Sy het op skool swanger geraak. Die kinders se pa het haar kakebeen afgeslaan, toe trek sy terug na haar ma toe, sê sy. “Maar nou ek het ’n ander man ontmoet. Hy kyk baie mooi agter my. Ons trou volgende maand.” Haar swartomlynde blou oë blink. “Ons wou die troue hier in die jaart in hou, maar dan nooi te veel mense hulleself. Wag, ek wil jou iets wys.”

    Sy klouter oor hopies vuil klere en speelgoed wat oor die vloer gesaai lê. Op die stoof staan ’n pot met die oorblyfsels van ou pasta, wat al in die water begin oplos het.

    “Kyk,” sê sy en hou ’n verfrommelde blaai uit ’n tydskrif na my toe uit. As ’n mens mooi tussendeur die derduisende voutjies en skeurtjies op die voosgevatte papier kyk, sien jy dit is tydskriffoto’s van Riaan Cruywagen se dogter se troue.

    “Dit is hoe my trourok gaan lyk,” sê sy en vryf dit nog ’n bietjie dowwer voordat sy langs ’n hoop stukkende speelgoed gaan sit.

    In die erf langsaan staan ’n huisie met mooi geverfde pilare en ’n netjiese tuin soos ’n baken van hoop tussen die verwaarloosde erwe. Dit behoort aan me. Rosalind Kingma (67), ’n weduwee wat al 20 jaar in Jan Bom woon.

    Binne is dit skoon en eksie-perfeksie. In die kombuis, aan dieselfde hakie as ’n geborduurde groen-en-wit vadoek, hang ’n houtbordjie waarop staan: “Hier bly ons, al ly ons.”

    Buite gaan sit sy op ’n swaaistoel in haar tuin. “Ek raak verskriklik eensaam hier, vernaam die naweek. Noudat jy nie meer kan gee nie, het die wind al jou vriende weggewaai.

    “Hier is my beste tjommie,” sê sy en slaan met haar hand langs haar, “hierdie broken down swing.”

    Sy bly ’n oomblik stil en vryf dan met haar duim en wysvinger oor haar oë waaruit trane skielik loop. “But that’s life. Ek gaan nie weer tjank nie.”

    SONONDER ry ons terug. Ons ry af met Aandblomstraat, regs in Gousblom, op met Caroline en uit in Henley.

    Verby die Brixton-toring, oor Kingstonlaan, uit Jan Bom, nader aan die maan.

    Tuiste van vele generasies

    DIE Jan Hofmeyr-stadsraads­behuisingskema is in 1935 verklaar, bouwerk het in 1936 begin en mense het in 1937 begin intrek in dié gebied wat deel van die oorspronklike plaas Braamfontein was.

    Jan Hofmeyr was die stadsraad se eerste behuisingskema in Johannesburg, volgens dr. Irma du Plessis, ’n navorser verbonde aan die Wits-instituut vir maatskaplike en ekonomiese navorsing (Wiser).

    Die woonbuurt was aanvanklik vir, onder andere, wit spoorwegwerkers en hul gesinne, skryf Du Plessis in haar navorsingstuk getiteld: Living in “Jan Bom”: Making and imagining lives after apartheid in a council housing scheme in Johannesburg.

    Die oorspronklike Jan Hofmeyr-skema het 198 huise, vyf openbare gebiede en twee munisipale eiendomme ingesluit. ’n Paar aftree-eenhede het later bygekom. Vandag bestaan Jan ­Hofmeyr en Vrededorp gesamentlik uit meer as 400 wooneenhede.

    Volgens Du Plessis is die skema na mnr. Jan Hendrik Hofmeyr, voormalige minister van binnelandse sake, genoem.

    Aan Jan Hofmeyr se westelike grens is die voorstad Brixton, suid is die Brixton-begraafplaas, oos is Vrededorp en noord ­Cottesloe.

    Die huise bevat onderskeidelik twee slaapkamers (totale huisoppervlak sowat 55 vierkante meter) en drie slaapkamers (totale oppervlak sowat 75 vierkante meter).

    Sedert daardie vroeë begindae het baie families generasie vir generasie daar aangebly. Van vroeg in 1992 het Jan Hofmeyr nierassig geword nadat die Groepsgebiedewet afgeskaf is. Vandag is dit ’n diverse woonbuurt.

    In 1999 het die raad aansoek gedoen om Jan Hofmeyr tot ’n voorstad te verklaar en aangekondig dat hy die eiendomme aan die inwoners wil verkoop.

    Mense wie se dienstegeld op datum was, kon hul huise goedkoop oorkoop.

    Die proses is nog nie afgehandel nie, omdat baie mense agterstallige raadskuld het.

    “Daar het intussen ’n lewendige eiendomsmark in Jan Hofmeyr ontstaan,” sê Du Plessis. “Van die eiendomme verkoop vir soveel as R300 000.”

    Daar is teenstrydighede oor waar presies die name “Jan Bom” en “Fietas” (die bynaam vir Pageview en ’n gedeelte van Vrededorp) vandaan kom, maar volgens Du Plessis is dit “liefdevolle name” wat deur die inwoners self toegeken is – nie neerhalende name van buite nie.

    Die kinders hier het geen sterre in hul oë

    DIE maatskaplike verval in Jan Hofmeyr is erg, sê me. Cindy Grobbelaar, wyksraadslid en ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker.

    Een van die groot redes is die hoë werkloosheidsyfer. Die meeste mense het nie ’n vaste werk nie.

    Die kinders kry baie swaar, sê sy. “Die meeste van die kids het opgehou droom. Ek sien nie sterre in hul oë nie.”

    Die ondersteuningsraad is verantwoordelik vir die welsyn in Jan Hofmeyr, maar volgens Grobbelaar werk daar nie tans ’n maatskaplike werker nie.

    Volgens haar is die grootste probleem dwelm- en alkoholmisbruik. “Daar is ’n kultuur waarbinne dit aanvaarbaar is om drank en dwelms te misbruik. Strenger wetstoepassing is nodig.”

    ’n Ander groot probleem is kinderprostitusie. “Meisietjies van twee, drie jaar word misbruik, met ’n tussenganger wat geld daaruit maak. Ons het ’n geval gehad van ’n pa wat sy 13-jarige dogtertjie ‘uitgehuur’ het vandat sy drie jaar oud was.”

    Grobbelaar bied vakansies vir die kinders vakansieprogramme aan, “want dit is wanneer kindermishandeling op sy ergste is”.

    Sy meen die storie van die boek Triomf is tipies van Jan Hofmeyr en Vrededorp. “Dis ’n siklus waarin geslagte vasgevang is. Dit het van die 1940’s nooit verander nie.”

    Daar is egter dinge wat haar hoop gee. “Gister het ek gesien hoe ’n klomp kinders vir hulle ’n sokkerveld maak. En elke Saterdag kry ons ’n klomp inwoners bymekaar om die gebied skoon te maak. Ons begin met 30 inwoners en eindig met 80. Dis wonderlik.”

    Die stadsraad behoort meer ekonomiese ontwikkeling in die woongebied te bewerkstellig, sê Grobbelaar. “Daar is nie ’n apteek, ’n bank of ’n kliniek nie. As daar nie ekonomiese groei in die omgewing plaasvind nie, gaan die siklus nooit verbreek word nie.”

    Kyk na 'n fotogalery

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |