Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Volgende item!’
Afrika se groot stede is toenemend belemmer deur reuse-verkeersknope, swak infrastruktuur en ongereguleerde informele handel. Waldimar Pelser, wat pas in Lagos, Nigerië, as Media24 se verteenwoordiger begin werk het, vertel die regering poog om nou die lastige, maar noodsaaklike motorfietstaxi's te beheer. Lagos is ’n reuse-mark met rou charisma en onstuitbare smouse wat begin beweeg wanneer die res van die stad in die druk verkeer tot stilstand kom. Pienk tandepastaskuim land met ’n boog in die oop drein. Dis 08:15 en opstaantyd in Sangrosmark. Die reuk van vrot vleis hang swaar in die lug en die kwik mik na 30ºC. Drie skoolkinders en hul ma klou aan mekaar agter op ’n okada, die brommende motorfietstaxi’s wat die enigste oplossing bied vir Lagos se groot kopseer, die go-slow: verkeersknope wat soms ’n honderd kilometer ver oor brûe en deur markte kronkel. Die groot gelykmaker hier is die verkeer. Selfs saans is dit soms buffer aan buffer en ook dan brand klein olielampies op sypaadjies by warm suja (dun repe vleis met peper of grondboontjies), vrugte of bakke peperhoendersop. As jy die dood nie vrees nie en laat is vir ’n afspraak, bly die okada bedags die beste roep. Die fietsies is onlangs verbied ná 19:00 op Victoria Island, in Lekki en Ikoyi, wat dié gegoede buurte opnuut omgeskep het in die eksklusiewe laataandspeelplek van dié met Range Rovers en BMW’s. Die okada-verbod is beskou as die regering se poging om in die verkeer in te gryp. Vakbonde is erg ontstoke oor dié verbod en het luidkeels protes aangeteken. Tog sê die okada-bestuurders dit gee sommige van hulle wat in dié gebied werk wel ’n blaaskans. En in elk geval is Lagos ’n groot stad en daar is baie werk. Wanneer die son skyn is okadas beslis koning op straat. “Okadas is vir spoed, shah,” sê mnr. Adam Dauda (37), ’n okadadrywer met diep etniese snymerke aan sy wange (dit wys hy is van Kogi-staat, een van Nigerië se 36 deelstate) en ’n werklose vrou by die huis. Die egpaar se enigste kind het pas begin skoolgaan. “Dis gevaarlik. Daar is baie ongelukke. Maar ek moet werk, en kyk hoe lyk die verkeer,” sê hy ná ’n warrelwindrit in eenrigtings op, oor slote en op sypaadjies. Agter op sy Suzuki en ander okadas lees passasiers boek. Hulle dra Shoprite-inkopiesakke, vensterrame, heel stelle van vier motorbande, en selfs ruikers vars blomme (’n afleweringsdiens). Die go-slow maak van motorvensters winkelvensters, en byna alles is op straat te koop. ’n Mens leer Lagos deur sy strate en markte ken. Handel begin met sonop. Op die lughawepad om 05:50 luier vlote geel minibustaxi’s, die kleiner danfo ’s en die groter molues, met vragte mense en rys en matrasse en groente agterin voor hul vertrek na die weeklikse mark by Asade. Een bussie se as sleep byna op die pad, maar daar is ’n bed op die dak en ’n man op die bed. Op die Falomobrug, wat die sakebuurt Victoria Island en gegoede Ikoyi verbind, is daar soggens in die rigting van die eiland vyf bane waarvan net twee uit motors bestaan. Heel links is smouse met woordeboeke, die jongste Vanity Fair, DVD’s van die plaaslike fliekbedryf, Nollywood, yskoue mineraalwater in deursigtige plastieksakke gestapel, selfoonlugtyd, besems, nagemaakte Rolex-horlosies, pynpille, sigarette en badkamerspieëls. Heel regs is zoemende okadas, hul truspieëls ingevou sodat selfs die kleinste gaping deug. In die middel, met twee rye groot viertrekvoertuie aan weerskante, sit ’n man op ’n plastiekstoel, met ’n luidspreker daaronder waaroor “Jingle bells” blêr. Dis jou kans om simpatie in nairas om te skakel: sy verrotte been, twee maal die gesonde grootte en nou onbruikbaar behalwe as lokaas vir kleingeld of maaiers, rus op ’n staander en twee helpers voor en agter swaai op maat van die Kersmusiek verweelsakke rond. ’n Makabere silwerkollekte. Die vroegoggend-gemaal van koop en verkoop lê die stad van meer as 15 miljoen mense se kapitalistiese gees bloot en ’n ontembare entrepreneursdrif. Almal bied iets en selfs een klein transaksie is ’n oorwinning. Winkeliers is trots al is hul winkel ’n sambreel: agter ’n ry glasbottels op ’n tafel op die sypaadjie sit ’n jong vrou maskara en lipstiffie aan. Haar spesialiteit: gesoute kasjoeneute. Onder ’n brug verkoop ’n man truspieëltjies van die jongste Peugeots en ander motors wat aan vislyn hang, soos vertoonstukke in ’n museum. Daar is verskeidenheid – en drama. Om 07:30 Maandagoggend gooi John, ’n soepel Ghanese immigrant, en sy maat Seba, ’n tandelose Togolees, ’n groen kombers op die grond voor die Franse konsulaat in Ikoyi. Dis waarskynlik een van die dag se eerste stukkies straatteater. Die gehoor is sowat 50 mense, Nigeriërs en buitelanders, wat wag om visumaansoeke te bring. Met ritmiese begeleiding tol John twee groot tinskinkborde op sy vingers, dan op ’n stok wat hy met sy tande vasklem, dan is sy een voet agter sy kop, dan albei. “See my show now! Next item !” skree hy. ’n Dansende marionet kom te voorskyn, en die veiligheidswagte lyk liggies geamuseer (vroeër is ’n kruipende bedelaar – ’n poliolyer – summier weggejaag toe hy vir aalmoese kom vra). John het die klein skare in die palm van sy hand, en verlaat die vertoning met meer as 1 000 naira, sowat R55. Dit is verskeie kere meer as wat die gemiddelde Nigeriër daagliks huistoe neem. “Ons moet eet en hierdie is beter as om te steel,” sê John agterna. In Lagos word jy geken aan jou motor, die plekke waar jy koop, die klere wat jy dra en die buurt waar jy woon. In die baai speel die rykes met hul motorbote, terwyl Porsche Carreras om slaggate slalom op pad na die Palms, Lagos se eerste inkopiesentrum in eg Suid-Afrikaanse styl. Die ankerhuurders daar is Game en Shoprite, maar Nando’s en Newscafe doen ook flink sake, terwyl Nu Metro bo flieks wys en boeke en CD’s in ’n multimediawinkel verkoop. Hier is die sonbrille Gucci en spel die kakaosprinkel op die cappucinos by Caffé Vergnano “1882”. Daar is boetieks en plasma-TV’s. Na die ooste lê ’n uitgestrekte skiereiland Lekki, waar reuse-behuisingskomplekse herinner aan iets uit Fourways of Doebai. Die geld is sigbaar en die kontras met die res groot. Paleise met Doriese pilare en vergulde hekke staan in ’n herwonne moeras, maar langs een van die buurt se besige paaie wys ’n kombers wat in ’n geroesde hyskraan hang dat ’n gesin daar woon. Lekki is een van slegs ’n paar buurte in Lagos naby aan Victoria Island, die stad se Sandton en die vernaamste sakekern. As jy binne trefafstand van die eiland woon en dus slegs ’n uur of twee per dag in verkeer wag, moet jy betaal. Dié wat hier woon besef dit gou: Lagos hou nooit op met asemhaal nie. Die okadas hou aan met beweeg. Die smouse hou aan met verkoop. En op die sypaadjie voor die Franse konsulaat lag John die besoekende akrobaat vir sy jongste toertjie. “Next item!”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|