Hoe kan postmodernes sê Satan bestaan nié?
Stemme gaan deesdae op dat ons van die gedagte van die duiwel en die bose magte moet afsien.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Om ’n Bok te verstaan
Mar 31 2008 12:33:50:827PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Op 'n vaal vlakte het ons hom die eerste keer gewaar; Bok van Blerk kort ná sy aankoms op Oudtshoorn. Foto: Simone Scholtz
ONS het gewag op die magtige dreuning; die 100% Boer-klonge wat hul held Vierkleur-in-die-hand salueer. Maar op dié louwarm Woensdagaand by die Huisgenoot-musiekplaas op Oudtshoorn was daar slegs ‘n ingehoue skare van sowat 3 000, taamlik traag vir dans of saamsing. ‘n Taamlik afgehaalde Bok van Blerk moes die skare vermaan met: “Komaan, julle kan nie nou al ry nie, die paartie het nou net begin” of: “Ek sien hier’s omtrent 15 van die ouens wat saamsing.”

Eers toe hy afhaak met “op ‘n berg in die nag lê ons in die donker en wag”, het hulle gewyd hul arms deur die naghemel gewuif. Bebaarde mans het hand-op-die hart saamgesing, en meisies met “mevrou van Blerk” t-hemde het op die tafels gedans. Toe die laate note van De la Rey wegsterf, het hulle egter drupsgewys huis toe begin suiker.

Die rede? Die ongekende histerie om dié lied het gaan lê soos ná ‘n storm ter see, en Bok van Blerk is deesdae…wel, net ‘n doodgewone ou.

Toe ek twee dae voor die konsert met hom praat op die lowergroen landgoed Fancourt, waar hy saam met vriende en lede van sy band kom uitspan het voor die KKNK, lyk hy soos die soort oopgesig Boerseun wat enige Afrikanermoeder heimlik vir haar dogter sou wou inpalm. Op die vooraand van sy dertigste verjaardag (dis môre) is hy steeds min gepla oor die sosio-politieke gevolge van sy liedjie. Hy stuur weg van moeilike vrae met die verweer dat hy “‘n kunstenaar is, nie ‘n politikus nie”, en bowendien, sê hy, is hy in George om te rus.

Bok, of te wel Louis Pepler, kyk met slaperige oë na die weelde rondom hom. “Dis oom Schalk Burger-hulle se plek. Op Oudtshoorn bly ons weer by hulle. Ons probeer maar verblyf kry, want die afgelope twee jaar het dit altyd iets gekos om na die fees te kom, ons het nie geld gemaak nie.”

Vir die eerste keer merk ek so ‘n halwe beneuktheid in sy mooi, helder oë. “Dis baie snaaks, laas jaar het die een show 13 000 mense getrek, dit was die grootste show wat nog ooit by die KKNK aangebied is, maar dan kan hulle jou nie betaal nie, dis nogal sad.”

Tog, met De la Rey se verkope wat op 193 000 staan, en die rugby-album Ons vir Jou Suid-Afrika op 89 000, het Bok seker nie veel om oor te kla nie. Boonop werk hy aan ‘n nuwe CD wat na alle verwagtinge weer die kasregisters sal laat klingel.

Hy’s versigtig om te veel daaroor te sê. “Obviously is al die oë nou op ons gerig, so jy wil seker maak dat als reg is. Met die vorige album het ons gesê ons sal bly wees as ons 8 000 CD’s kan verkoop, en toe’s dit die grootste debuutalbum ooit in Suid-Afrika. Dis ‘n lekker platform om van te werk, dis ‘n uitdaging.”

Die kanse dat dié album weer so ‘n treffer soos De la Rey sal oplewer, is egter te betwyfel. Hy aarsel, steeds effe op sy pasoppens. “Ons gaan nie die volgende generaal op die lysie aftick en sê kom ons vat nou vir De Wet nie. Ek sien baie mense in die industrie het nou gesien dit werk, en nou volg hulle dieselfde rigting, maar ek dink ons moet liewer iets nuuts probeer.”

Maar nee, gee hy sy oranje-blanje-blou glimlag. Die CD sal maar weer ‘trots Afrikaans’ wees. “Dit sal altyd so wees, want dis maar hoe ek voel. Dis hoekom ons dit ook tevore gedoen het, want dis die boodskap wat ek wou uitdra: trots Afrikaner, trots Afrikaans. Almal is deel van die reënboognasie, maar ons is een van daai kleure, ek steek my hand op en sê: ‘kyk vir ons ook’.”

Hy skep asem. “Daar’s daai skuldgevoel waarmee ons grootgeword het met apartheid was verkeerd en ons moet so half die agterseat vat en sê jammer jammer jammer.”

Hy lyk half uitgeboul wanneer ek vra of hy nie tóg die sin daarin sien om jammer te sê nie. “Ja, jy moet seker maar jammer sê…” Hy hap na woorde. “Maar ons is ‘n trotse nasie en ons het grootgeword met hierdie halwe skuldgevoel, en ons moet basies maar net aanbeweeg en trots wees op wie en wat ons is.”

Hy vertel van Steve Biko wat “destyds ook so gesê het vir die swart jongmense”. “Hy’t gesê dis belangrik om jou kultuur en jou waardes te behou – veral vir die swartmense om nie te verwesters of so nie”.

Sy hande vroetel aan die stoel langs hom. “Wat sal Suid-Afrika wees sonder die Zulu’s en die Zuludansers? Al het ons elf verskillende tale, moet jy steeds jou identiteit behou, en jou kultuur, en jy moenie skaam wees vir wat jy is nie.”

Hy’s half verbaas wanneer ek vra wat hy bedoel met Afrikanerkultuur. “Ons hou van rugby en braaivleis en feeste vier, en die mense het in die laaste tyd baie feeste gereël. Dis klomp Afrikaners wat saamtrek en die lewe geniet en met smiles op hul gesigte rondloop.”

Hy ontken steeds ten sterkste dat De la Rey ‘n politieke wekroep was. Hy lag onseker. “Ja, dit was ‘n storieliedjie. Soos wat Bruce Springsteen sing; baie mense vertel nou maar stories uit die verlede.”

Sy hand vroetel weer aan die stoel wanneer ek vir hom sê geen storie is onskuldig nie. “Ja…ja, dit was nie polities bedoel nie. Dit was nou maar om terug te gaan na ‘n plek en tyd toe Suid-Afrika in ‘n goeie stadium was. Die hele Suid-Afrika het teen die Britte baklei, insluitende die Zulu’s en die Xhosa’s, en elf swartmense het De la Rey se vrou opgepas omdat hulle so baie respek vir hom gehad het. Afrika moet dalk gaan kyk na wat goed was aan daardie tyd.”

En nee, beantwoord hy die vraag wat al so dikwels vir hom gevra is. Hy dink NIE die regses het sy liedjie gekaap en gebruik vir hul eie doeleindes nie. Al wat hom gepla het, was toe die AWB verlede jaar op die KKNK plakkate opgeplak het “waar hulle iets van de la Rey gesê het”. “Soos ek al tevore gesê het, ek assosieer my nie met die ou landsvlag of met die T-shirts wat hulle print met die ou landsvlag en die de la Rey de la Rey nie.”

Die ophef wat verlede jaar tydens die KKNK gemaak is oor hom – toe daar glo gedreig is met betogings tydens sy optrede – was volgens hom grootliks die media se skuld. “Twee laaitjies hier op Oudtshoorn het in die klas baklei, ‘n bruin outjie en ‘n wit outjie, en as daar so iets gebeur, sal daar mos nou dadelik gesê word dis die een of ander rassisme. Dit sal nie gesien word as twee jong seuns wat ‘n meningsverskil het nie.”

Hy skep asem. “Op die een of ander manier was daar ‘n de la Rey konnotasie ook met die storie. Dit was in die tyd toe die De la Rey koors so hoog geloop het en die media het die De la Rey-situasie uitgebuit.”

Trots vertel hy hoe hy daarna deur die strate van Oudtshoorn geloop het en agtergekom het 90% van die taxi’s speel sy liedjie. Hy lag. “Oral waar ek kom wil die kleurlinge foto’s hê saam met my, en ek moet handtekeninge uitdeel. Een keer het so ‘n kleurling my gesien…”

Hy maak sy weergawe van die man se aksent na: “Hei man, Bok, kom hiesô, djy moet nou ‘n liedjie vir die coloureds ok sing.”

‘n Pouse vir effek. “Toe sê ek partykeer doen ek dit. Ek sing: De la Rey De la Rey, sal jy die coloureds kom lei? Die kleurling sê toe: ‘ons sing hom ook so!’

“Ek lag altyd so vir hulle, want ek dink nie hulle het enige haat teenoor my as gevolg van die liedjie nie.”

Sy seunsgesig is seergemaak-verbaas toe ek vertel van die swart sekerheidswag by die ingang van Fancourt wie se oë groter gerek het toe sy hoor die De la Rey-man gaan daar tuis. “Aikôna,” het sy gesê. Daai liedjie is nie vir haar mense nie.

Bok kyk na die tafel. “Ja, dis weird.”

Die rede hoekom sy liedjie in hierdie vreemde wêreld soveel opslae gemaak het? Hy’s vinnig met sy antwoord: omdat mense dit gebruik het vir eie gewin: “as ‘n soort sneller om oor goeters te begin praat.”

Hoofsaak is egter “dat die mense daarbuite weet wie ek is”. Per slot van sake, sê hy, “is dit tog wat jy wil hê as kunstenaar, dat mense jou naam begin ken”.

Hy dink na. “Ek het geweet dis ‘n goeie liedjie, potensieel ‘n hit song, maar ek het nie gedink dat daar so ‘n ontploffing in die media daaroor sou wees nie.”

Want die media is telkens maar die sondebok. Sy oë kry ‘n droewige uitdrukking.

“Ek het gevoel nadat die De la Rey sage oorgewaai het, het mense ‘n ander manier gesoek om my te target. Baie koerante en tydskrifte het ook ‘n manier gesoek om nog koerante en tydskrifte te verkoop.”

Hy sug. “Almal sê nou jy’t die Afrikaner weer saamgetrek, en jy voel jy’t geslaag, maar aan die ander kant probeer hulle jou weer aftrek. Dit het my baie seergemaak. Baie mense sê die goewerment het jou soveel nonsens gegee, en die ANC, maar daar was niemand – nie een swarte of kleurling of iemand in die parlement wat my moeilikheid gegee het oor die hele ding nie. Dit was ons eie mense.”

Hy haal die bewerings op wat in die media gemaak is dat hy “onbeskof” en ‘n “geldwolf” is. “Ek weet dit het baie rof gegaan, ek was moeg gewees en ek het nie ‘n road manager gehad op daai stadium nie, ek het maar self alles probeer doen. Almal wou gehad het Bok van Blerk moes daar sing, maar daar’s nie regtig organiseerders wat die goed organiseer nie. Ons sou daar kom en dan’s daar ‘n substandaard stage of klank of beligting.”

Hy vertel dat hy verlede jaar net vir twee uit sy 220 vertonings nie opgedaag het nie – en dit toe hy van ‘n brug afgeval het en toe hy laringitis gehad het.

Hy’s ‘n gewonde bok. “Ek word ook siek soos enige ander mens, asseblief! Maar daar word nie geskryf oor die 218 shows waarvoor ek wel opgedaag het en dat dit ‘n great show was nie.”

Seker daarom dat hy versigtig antwoord op die vraag of hy verlede jaar sou wou oorhê. “Baie mense wat in die army was sê dit was die lekkerste jaar van hul lewe, maar…hulle sou dit nooit oor wou hê nie.”

Hy glimlag. “Mar dit was vir my baie lekker en ek geniet dit nou nog steeds, want dis my passie en my liefde – veral nadat ek nou so ‘n bietjie gerus en asemgehaal het. Die hele experience was vir my baie goed, want ek geniet dit om te wees waar ek nou is in die musiek. Van kleins af het my ma-hulle vir my gesê ek’s ‘n gebore entertainer, en dis wat ek moet doen.”

En ja, erken hy, “obviously kom geld maar saam met sukses”. Hy stuur laggend weg van presies hoeveel hy sedert de la Rey se verskyning gemaak het. “Ek het nog steeds nie ‘n kar nie, ek het ‘n bus, want meeste van die tyd is ons maar op die pad.”

In elk geval, dis nie asof hy nó eers aan die goeie lewe gewoond geraak het nie. Tot onlangs was hy nog in die konstruksiebedryf waar hy in ‘n belangrike posisie was. “Ek was hoof van ‘n perseel van R280 miljoen. Ek het altyd maar ambisie gehad, en ek was die enigste wit outjie wat ‘n beurs gehad het by Group 5. Toe ek gewaai het, was dit vir hulle ‘n redelike skok, en die board of directors het almal na my gekom en gesê ek moet mooi dink oor hierdie besluit, want hulle is besig om my te groom om direkteur te word van Group 5.”

In daardie stadium het hy egter reeds gegradueer vanaf musikant tot ‘n fenomeen, iemand wie se liedjie op repeat gespeel is by Bok van Blerk braaie; ‘n kultusfiguur onder die gatvol-generasie wat gevoel het hulle is leierloos.

Oor of hy dié groep se politieke sentimente deel, is hy weereens versigtig. Sy fyn besnede gesig is vroom: “As dit die vraag is: Nee, ek is nie ‘n rassis nie.

En toe: “Ek het in ‘n baie liberale huis grootgeword, en my pa het gestaan vir…daai tyd vir die NP.”

Hy aarsel, vertel hoe hy “saam met die swartes op die plaas grootgeword het” en saam met hulle visgevang en sokker gespeel het.

En toe maak hy tog ‘n uiters gewaagde stelling: Hy’t simpatie met “die outjies wat die Reitz video gemaak het”, want net soos met sy de la Rey-liedjie is hul video uit verband geruk. Die skuldige party? Weereens Die Media.

Hy skud sy kop oor of hy nie meen die video was rassisties nie.

“Ek dink glad nie so nie. Die ouens het maar net ‘n video gemaak.” Hy lag. “Dit was moerse snaaks, op ‘n stadium kry hulle nou die skoonmaker ousies, die dik mama’s, en hulle speel Vat hom Dawie en hulle pass die bal daar teen die lyn af. Die swart werkers het saam met hulle fun gehad en gelag en so aan, en hulle het nou hierdie kandidate gaan identifiseer vir die inlywing. Ons rugby-eerstespan op skool het baie erger goeters gedoen en gedrink as dit, en ek dink ook die ou het net iets uit sy sak gehaal en gemaak of hy daarin pie en so aan.”

Sy stem is beslis. “Ek dink nie dis reg dat mense verneder word nie, maar die ding word heeltemal uit verband geruk. Daar word swartmense met busse aangery om te kom toyi-toyi in die strate oor hierdie storie, en ek dink regtig nie dit was so ‘n groot issue nie.”

Meteens beweeg daar iets soos ‘n mislaag oor sy gesig en hy vertel van sy jarelange vriend, ook ‘n musikant, wat dieselfde naweek toe die Reitz-bom gebars het in sy tuisstad Port Elizabeth opgetree het. “Toe hy besig was om op te pak, kom daar vyf swart ouens aangehardloop, slaan hom disnis, bind hom teen ‘n paal vas en al vyf verkrag sy meisie voor hom op die vloer van die plek. Toe kyk hulle so vir hom en sê: Ons gaan dit nog met al julle witmense doen.”

Hy lyk ontredderd. “Daar’s niks dáároor geskryf in die koerante nie, en dit het my seergemaak. Hoekom kon dit nie oornag die internasionale nuus haal nie?”

Die tyd stap aan, en ek vra my laaste vraag: die verpligte een oor waar hy homself oor twintig jaar van nou sien.

Hy lag, maar nie sonder ironie nie. “Seker maar Australië.”

‘n Pouse. “Nee, ek hoop hier’s nog genoeg Afrikaanssprekende mense oor in Suid-Afrika dat ek nie in Australië hoef te gaan sing nie. Ek het nog altyd gesê ek sal nooit êrens heen gaan nie, Suid-Afrika is my plek, maar dis ‘n onwillekeurige ding, want helfte van jou vriende kom jy agter is oorsee.”

Hy dink na. “Ek sal maar uithou hierso, maar ek dink as ek ‘n man was met ‘n vrou en ‘n jong kind, het ek anders daaroor gedink.”

Hy staan op, vir die eerste keer iets broos aan sy figuur “Ek kom redelik goed met mense oor die weg…totdat iemand in jou huis instap en nie omgee of jy rerig nice is en saam met die swartes gaan visvang het toe jy tien jaar oud was en saam met hulle sokker gespeel het nie. Hulle worry nie daaroor nie. Hulle vat net jou lewe. Hulle maak jou dood.”

Hy groet vriendelik, ‘n relatief naïewe speler in ‘n komplekse verhaal.

Maar tog…tog: As jy ‘n Bok is, moet jy verstaan daar lê jagters op loer.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |