Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Die wêreld sonder mense
Uiteindelik het ons ’n antwoord. Dis katte – en (jammer!) nie mense of honde nie – wat die aarde eendag sal erwe. Die jaar se fassinerendste stuk dokumentêre televisie, met die enigmatiese titel Life After People, word Donderdagaand om 19:30 op DStv se History-kanaal (254) uitgesaai. Die boeiende popdokkie van twee uur (’n halfuur sal advertensies wees) is ’n meesleurende en aangrypende stuk televisie met spesiale digitale effekte deur LucasFilm. Die program wat nie fokus op hoekom mense verdwyn nie, maar kyk hoe ons moderne wêreldbeskawing daarna in duie stort en verval en wat van die aarde word, doen dit in ’n toekomsbetragtende aftel-tydstrekking van een dag tot 10 000 jaar nadat die mensdom nie meer daar is nie. Wat sal gebeur indien elke mens – elkeen van ons – eensklaps net verdwyn? Hoe sal die aarde – en alles wat agterbly – voortgaan en verander? Hierdie jongste toevoeging tot die populêre kultuur se hipotetiese apokalips-genre is krullekker en gepak met wetenskaplike kenners in die velde van ingenieurswese, botanie, ekologie, biologie, geologie, klimatologie en argeologie wat oor die “wat as”-vraag tob. Hulle postuleer oor die toekoms van alles, van kokkerotte tot beton (nie so goed soos wat die Romeine dit gemaak het nie) en selfs wanneer die Eiffel-toring sal omval. “Dit is nie meer so vergesog om te dink ’n aarde sonder mense is nie moontlik nie,” merk David Brin, astrofisikus en outeur, heel droog in die program op. “Ons is die eerste generasie wat deur ons doelbewuste optrede ons eie ondergang kan bewerkstellig.” Maar hoe lyk ’n wêreld sonder mense? Volgens die goed nagevorsde stuk spekulatiewe wetenskapfiksie, en gebaseer op bestaande kennis oor ons wêreld en sommige tasbare bewyse soos die gevallestudie van die verlate stad van Prypiat in die Oekraïne, wat in 1986 ná ’n kernkragsentrale-katastrofe deur alle mense verlaat is, is die antwoorde eintlik makliker – en baie verrassender – as wat jy dink. “Ons word gefassineer deur stories oor ons eie vernietiging, en gefassineer deur die vraag oor wat ons sal vervang as die eienaars van die aarde,” sê Brin. Die program – hoewel ’n toekomsblik – is ook gelaai met ironie oor ons eie tyd, hoewel dit nie ’n waarde-oordeel vel nie. Is dit enigiets anders as ironies dat ons geskrewe verlede binne ’n paar honderd jaar alles tot niet sal wees – verwoes deur motte en afgetakel deur muf en tyd? Dat ons moderne wêreld met al ons uitvindsels en tegnologie nog nie iets meer duursaam kon skep om ons geskiedenis te bewaar as die Egiptenare se kleitablette en rotsgravures nie – die enigste rede hoekom ons eeue later darem iets van hierdie antieke beskawing weet? En dan is daar ons beton. Steeds bou ons hoër en groter, maar selfs die beste wolkekrabber sal sonder herstelwerk gouer ineenstort as die Romeinse Colosseum, wat eeue gelede met veel beter sement gebou is. Die program ontrafel watter (nuwe) ekologiese stelsels geskep sou kon word en watter bestaandes sou herstel en/of verander, watter mensgemaakte strukture sou duur en watter leidrade daar uit die verlede is oor hoe ’n toekoms sonder mense sal ontvou. Die bekoring van dié informatiewe program met sy vele post-apokaliptiese scenario’s en ’n lieflike visuele aanbieding, lê in die vele verrassings: Watter diere en dinge floreer, watter sukkel, wat dit byvoorbeeld is wat iets soos New York se Empire State-gebou tot ’n val sal bring. Daar is ook fassinerende inligting oor hoekom wolkekrabbers glad nie so bestand is soos wat ons dink nie. En dan is daar die katte, wat nes piramide-stene voortbestaan. Van die antieke Egiptenare tot 10 000 jaar in die toekoms is kat se kind klaarblyklik die ware erfgenaam van die aarde.
Binne ure is daar geen elektrisiteit in stede regoor die wêreld nie. Kernkragsentrales sal nie ontplof nie. Hulle kan gemiddeld twee jaar lank krag opwek, maar sonder mense wat dit gebruik, sal hulle eenvoudig outomaties ná twee dae begin afskakel. Ná weke is die wêreld saans donkerder as wat hy was voordat die mensdom die eerste keer vuur ontdek het. Die aardbol se laaste kunsmatige lig sal gesien word in die Amerikaanse suidweste. Die magtige Hoover-dam se hidro-elektriese kragsentrale sal die laaste ding wees wat ingee - na 'n paar jaar, gefnuik deur ietsie so klein soos 'n duimnael: mosseltjies wat oral groei, vassuig teen die binnekant van pype en dit heeltemal verstop. En in Las Vegas verdoof die lokkende neonligte. Ander stelsels gee ook in. Elke stad se ondergrondse tonnelstelsel vir riool, dreinering, kabels en moltreinstelsels moet voortdurend leeggepomp word van see-, reën- en opvangwater. New York se moltreinstelsel sal binne 36 uur onder water wees. Kos vrot op winkelrakke. Huisyskaste is niks meer nie as broeiplekke vir kieme. En die oomblik wat mense verdwyn, begin miljoene honde sterf. Wagter is net eenvoudig nie aangepas om te lewe sonder sy oubaas nie. (Katliefhebbers het geen rede tot kommer nie.) Die 400 miljoen huishonde sal moet probeer ontsnap, water drink uit die swembad en leer jag of sterf. Klein honderasse en die groter diere wat glad nie aangepas is nie, is gedoem, terwyl dit heel moontlik die gemiddelde huishond is wat sal aanpas en oorleef. Rotte en huismuise, wat skynbaar sonder ons oor die weg kom, gaan skielik sukkel. Hulle leef omdat hulle van ons kosvoorrade leef. Nadat huiskos en winkelrakke geplunder is, sal hulle begin om karton, gom en saagsels te vreet. Daarna sal hulle weer regtig moet begin werk vir hul kos. Hulle sal moet padgee uit huise en stede.
Stedelike gebiede begin reeds wildernisse raak. Roofdiere soos wildekatte en wolwe sal vinnig terugkeer omdat die mensdom hulle nie meer terughou nie. Groter karnivore sal langer neem totdat daar meer prooi beskikbaar is, maar hulle sal ook uiteindelik terugkeer. Stede en dorpe is steeds herkenbaar, maar Moeder Natuur is besig om terug te neem wat eers ten volle hare was. Plat oppervlaktes gee mee onder plantegroei, van grasse tot bosse en rankplante. Paaie, geboue, parkeerareas en sportstadions gaan agteruit. Oral waar daar sonlig is, kan 'n saadjie in 'n krakie groei en alle strukture eenvoudig verwoes. Eens perfekte tuine word velde, wilde diere pas aan en bly nou in verlate stede se strukture. Rome brand weer nes in Nero se tyd raai hoekom? Paaie verdwyn onder grasvelde en bogrond asof hulle nooit daar was nie. Rusland se Rooi Plein is groen. Buckingham-paleis se hekke is oorgroei met plantwortels, nes in Kambodja se antieke verlate tempels.
New York se Central Park is 'n woeste oerwoud wat eenvoudig ongetemd uitbrei na die res van die stad. Nie alle diere sal ontsnap nie, maar 'n paar sal wel. Dieretuine skep ekologieë soos diere wat dalk nooit eens in daardie wêrelddele hoort nie, ontsnap, aanpas en in hul nuwe omgewings floreer. Selfs betongeboue begin kraak en verkrummel. Stede soos Londen en New York is halfpad onder water. Wolkekrabbers is uiters fragiele goed. Kyk hoe maklik hulle verweer, breek en ná 'n skamele kwarteeu vergaan en hoekom! Kyk wat maak tortelduiwe en hoe hulle aanpas. Kokkerotte het al ons boeke, manuskripte en bykans ons volledige geskrewe geskiedenis ná 'n kwarteeu verorber. Wolwe is die hoofroofdiere. Baie diere sal weer oor groot afstande migreer. Selfs die bes-ontwerpte mensgemaakte strukture verval en tuimel ineen. Van geboue tot brûe roes. Van motorvoertuie is daar niks behalwe staalgeraamtes oor nie - net die bande se rubber bestaan eeue lank. Wat oor is van wolkekrabbers, is vertikale ekosisteme gevul met diere, ruie plantegroei en voëls. Katte regeer die wêreld. Hulle is die nuwe konings van die voedselketting. Die oseane - eens tevore tergelykertyd die toilet en uitgeputte kosmandjie van die wêreld toe daar mense was - is nou weer vol lewe. Ikoniese yster- en staalkonstruksies van regoor die wêreld - van die Eiffel-toring tot die Seattle-ruimtenaald en New York se Empire State-gebou is op die punt om ineen te stort. Hierdie era - 200 jaar nadat mense verdwyn het - sal die era van groot ineenstortings van massastrukture regoor die wêreld wees.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|