Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Hoe vra ’n mens verskoning vir apartheid?
Ek het nog nie verskoning vir apartheid gevra nie en dit pla my. Dit pla my, want ek is regtig jammer oor apartheid. Apartheid was my skuld ook, al was ek nog nie gebore toe die NP in ’48 aan die bewind gekom het nie. Malan was al dood toe ek gebore is. Strijdom ook. Toe Verwoerd vermoor is, was ek vier jaar oud. Ek onthou somber musiek oor die draadloos en tant Pop van langsaan wat oor die draad na my ma roep: “Het jy gehoor van Doktor, ou Nan? Is dit nie vreeslik nie, hê?” Ek wens ek kan sê ek het nooit vir die NP gestem nie. Ek wens ek kan sê ek het nie in die ou Suid-Afrikaanse weermag gedien nie. Ek wens ek kan sê ek het op die ouderdom van veertien André P. Brink se boeke ontdek en besef apartheid is ’n gruwel ver anderkant woorde. Maar toe ek veertien was, het ek Heinz Konsalik gelees, en een middag gekyk hoe slaat ’n konstabel ’n swartman met ’n knuppel in Tamsenstraat in Nylstroom, wat nou Modimolle is. Die swartman het nie sy pasboek by hom gehad nie, en ek het niks gedoen om hom te help nie. Trouens, nie lank daarna nie het ek een Saterdagoggend op pad na ’n rugbywedstryd op Warmbad ’n swartman met ’n hardgekookte eier uit ons International-skoolbus gegooi. Sommer net om my pelle te laat lag. Tog was ek ook altyd goeie vriende met my pa se tuinmanne wat in die bediendekamer agterin ons jaart gewoon het: Frans en Johannes en Simon. Ek ken nie hul vanne nie, want ek het hulle nie gevra wat dit is nie. Ek wens ek kan sê ek het geweet wat het van Frans en Johannes en Simon geword. Ja, ek weet, ek klink nou soos een van hierdie mense wat sê: “Ek het saam met hulle grootgeword. Ons het saam pap uit dieselfde pot geëet, MAAR . . .” Ek is nie ’n rassis nie, MAAR, blah, blah . . . Ek wil nie soos een van daardie mense klink nie, want dis nie wat in my hart aangaan nie, hoor my lied. Ek is een van die gebreinspoeldes wat nou als probeer ontspoel. Ek is een van die vaders wie se sondes die derde en vierde geslag sal besoek. Ek wens ek hoef nie hierdie storie te geskryf het nie. Om eerlik te wees, ek weet nie of ek hierdie storie moet laat publiseer nie, want ek is bang mense dink ek is ’n rassis omdat ek nog nie verskoning vir apartheid gevra het nie. Ek is bang mense dink ek verlang terug na die ou Suid-Afrika, of ek is regs. Ek is nie regs nie. Ek is ook nie links of in die middel nie. Ek is ’n mens. Ek is ook bang om hierdie storie in die koerant te laat verskyn, want ek is nie in staat om my onsekerheid en skuldgevoelens in filosofiese taal, gelaai met verwysings na Europese denkers, te verwoord nie. Onsekerheid klink soms na ’n baie edel, slim lewensuitkyk as dit in filosofiese terme beskryf word, en ek wens ek kon so klink. Ek gaan maar bieg: Ek is bang om aan debatte oor die rol en die toekoms van die Afrikaner in Afrika deel te neem, want ek is bang ek klink dom. Ek bly eerder stil en klink nie dom nie as om aan debatte deel te neem waarin ’n gepraat en ’n gedink ’n diskoers genoem word. Dit klink vreemd, ek weet, maar ek het tot onlangs gedink ek het al vir apartheid verskoning gevra. Regtig. Ek bedoel dit nie ironies nie. Ek kan verduidelik: Nou die dag bel my vriend Wynand. Ons gesels oor die Reitz-gemors in Bloemfontein. Toe sê Wynand iets wat baie mense in die laaste ruk sê. Hy sê: “Ek is nou moeg jammer gesê vir apartheid. Ek gaan nie meer jammer sê nie.” “Het jy al jammer gesê?” vra ek. “Ja,” antwoord hy. “Vir wie’t jy jammer gesê?” vra ek. En toe kan Wynand my nie antwoord nie. Toe besef ek ek het dieselfde probleem. Ek dink ek het verskoning vir apartheid gevra, maar ek het nie werklik nie. Ek onthou toe die Waarheids-en-versoeningskommissie destyds aan die gang was, het biskop Tutu aangebied om hand aan hand saam met PW Botha in George se hoofstraat af te stap sodat PW voor die kommissie kan getuig. Miskien sal dit werk, het ek gedink. Miskien sal dit vir ons almal ’n soort verlossing bring as ons dit op TV kan sien. Maar toe weier PW, en nou is PW dood. Nie lank ná my gesprek met Wynand nie tel ek een oggend die koerant op en daar staan dit: “Nog nie te laat vir wittes om verskoning vir apartheid te vra.” Die voorsitter van die Menseregtekommissie het die oggend op kantoor gekom en ’n verklaring op sy rekenaar getik of dit aan sy persoonlike assistent gedikteer. Daarin sê hy dis nog nie te laat vir ons om verskoning vir apartheid te vra nie. Net dit. Nêrens sê hy vir ons hoe om dit te doen nie. Ek dink ek weet hoekom het hy nie gesê hoe ons verskoning vir apartheid moet vra nie, want ek glo nie hyself weet hoe ons dit moet doen nie. Dis ’n maklike ding om te sê. En hoe weet hy dis nog nie te laat nie? (Ek wens ek kon hierdie paragraaf meer filosofies laat klink.) Ek weet dit klink effe banaal, maar om verskoning vir apartheid te vra, is nie soos om vir ’n nuwe rybewys aansoek te doen nie. Jy kan nie ’n vorm invul, in ’n ry gaan staan, dit inhandig, en twee weke later ’n bewys gaan haal dat jy amptelik verskoning gevra het en dit aanvaar is nie. Tog laat party mense dit als so eenvoudig klink. Hoe vra ’n mens verskoning vir apartheid? Sê asseblief vir my in eenvoudige, eerlike taal. En as ’n mens jammer gesê het, gaan die verskoning aanvaar word? En wie gaan dit aanvaar?
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|