Hoe kan postmodernes sê Satan bestaan nié?
Stemme gaan deesdae op dat ons van die gedagte van die duiwel en die bose magte moet afsien.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Onder vier oë: Alexander die Grote Taalaktivis
Mar 28 2008 08:51:04:087PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hy kry tyd vir lees omdat hy elke dag al voor vyfuur op is, sê Alexander. Foto: Edrea Cloete

Estramadura. Dít is prof. Neville Alexander se gunsteling-woord: die naam van ’n streek in Span- je waardeur hy gereis het ’n jaar of wat voordat hy Robbeneiland toe gestuur is.

“Ek hou van die klank van daai woord. Dis die musiek, die melodie. Ek dink elke mens het ’n woord of ’n stel woorde wat vir hom of haar iets magies, iets wonderliks, voorstel.”

Wat ’n lieflike, amper kinderlike, talisman wat hierdie groot taalaktivis en intellektueel hier voor jou neerlê.

Alexander is ’n beskeie man. As dit nie was vir ’n e-pos van ’n kennis in Johannesburg nie, sou ons dalk nou nog nie geweet het dat hy met die viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie Unesco, die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur, se Linguapax-prys vir 2008 in Barcelona ontvang het nie.

“Neville is te beskeie om dit bekend te maak, maar ek reken ons mense moet daarvan hoor,” sê prof. Anne-Marie Beukes, hoof van die departement linguistiek en literatuurwetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, in die e-pos.

Inderdaad is dit nuuswaardig dat “Suid-Afrika se groot taalaktivis en iemand wat die hoofstroom-argumente ten gunste van eentaligheid in Suid-Afrika so doeltreffend aanvat”, die prys ontvang het.

) ) )

Alexander kom stad toe vir die onderhoud. Hy wil nie hê ons moet sukkel met parkeerplek nie by die Universiteit van Kaapstad, waar hy direkteur is van die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (Praesa).

Hy sit ’n klein swart boekie en ’n bril langs mekaar op ’n koerant neer. Sy hande is mooi en versigtig.

“Ek is maar so te sê die oortjies van die seekoei. Só sien ek myself.”

Hy beklemtoon dat “dit die hele span se werk is, nie net myne nie”.

“My belangstelling in taalbeleid en taalbeplanning gaan terug na die 1950’s toe ons destyds in die sogenaamde Non-European Unity Movement ’n héle debat gevoer het oor wat die eintlike taalbeleid van ’n demokratiese Suid-Afrika behoort te wees.

“Ek was toe maar sommer nog ’n jong seuntjie, sal ek maar sê, ek was 16, 17 jaar oud . . . eerste, tweede jaar op universiteit.

“Party van ons kon destyds al sien dit is nie ’n óf-óf-vraagstuk nie, dis ’n én-én-vraagstuk. Met ander woorde, dis moedertaal én Engels.

“Ek het destyds eintlik baie min van die besprekings binne die ANC geweet. Dáár was die besprekings, soos ek dit verstaan, eintlik baie meer eensydig in die sin dat dit eenvoudig afgekeur is. Hulle wou niks hoor van Afrikaans nie; hulle wou niks hoor van moedertaal nie. Ek dink daar moes ook nuanse binne daai beweging gewees het.”

Oor hoe sake vandag staan:

“Onse grootste probleem is die feit dat die elite, veral die swart elite, so verlief is op Engels. Ek dink die trick gaan wees om vir hulle te laat verstaan dat as die Afrikatale, Afrikaans ingesluit, meer markwaarde kry, gaan dit ekonomies vir ons van die grootste belang wees.

“ ’n Meer genuanseerde taalbeleid, veral wat werkplekke aangaan, waar jy veeltaligheid as ’n hulpbron gebruik om mense meer doeltreffend te laat werk. Ons het reeds begin om navorsing op daardie gebied te doen. Ek is van plan om ’n meer ambisieuse projek te loods om te bewys dat ’n meertalige beleid, veral in die werkplek en op skool, ekonomies meer doeltreffend is vir ’n land soos Suid-Afrika.”

) ) )

Dr. Pallo Jordan, minister van kuns en kultuur, se pa het ’n groot indruk op die jong Alexander gemaak.

“Hy was een van my vrinne destyds. Hy was ’n professor in Afrikatale aan die Universiteit van Kaapstad. En h? was die een wat eintlik vir ons die taalkundige aspek van die ding en tot ’n mate die pedagogiese aspek, die didaktiese aspek verduidelik het.

“En dáárom kon ons so ’n redelike benadering aanvaar. Ek dink dis nogal belangrik; dit het my hele lewe verander.

“Duits was natuurlik my hoofvak en ek het ’n magistergraad in Duits gekry en toe my doktorsgraad in Tübingen in Duitsland gedoen.”

Sy pa was Afrikaans en sy ma Engels, maar hy was in ’n Rooms-Katolieke sendingskool op Cradock waar die meeste van die nonne Duits was.

“Een van die belangrike aspekte van daai studie is dat ek nie net literatuur bestudeer het nie. Ek het eintlik filologie bestudeer, met ander woorde ook taalkunde en die filosofiese aspekte van taal.”

Luther se vertaling van die Bybel in Hoogduits het dit vir hom “intuïtief” duidelik gemaak dat ’n mens taal kan beplan.

“Ek het nog geen benul gehad van taalbeplanning as ’n teorie of selfs as ’n praktyk nie. Maar dit het vir my so deurgeskemer: jy kán taal beplan.

Met ander woorde, jy kan doelbewus sekere dinge inisieer om sekere doelstellings te bereik.

“Maar ek het toe nooit die kans gekry nie, want nadat ek van Duitsland af teruggekeer het, het ek twee jaar onderwys gegee en is toe so te sê onmiddellik Robbeneiland toe. En dáár het ek nie so baie gefokus op taalstudies nie, meer op politieke, geskiedkundige en tot ’n mate sosiologiese studies.”

Nadat hy sy vonnis van tien jaar (vir sameswering tot sabotasie) uitgedien het en later, toe hy by die South African Committee for Higher Education (SACHED) gaan werk het, het hy besef: “Die drang na Engels wat by die groot meerderheid van swart mense ontstaan het, was ’n verleidelike ding in die sin dat dit wel verstaanbaar is dat míddelklasmense deur middelklas-Engels hulself kan bemagtig.

“Maar dit was vir my baie duidelik dat vir die groot gros van werkersklasmense, landelik en stedelik, was dit nié ’n opsie nie.”

Vroeg in 1983 het die National Language Project tot stand gekom met Alexander as direkteur.

“Die praktiese projekte wat ek aangepak het in die nasionale taalprojek het daartoe gelei dat ek ook die probleme van taalbeplanning kon verstaan en verál kon verstaan hoe moeilik dit is om mense se taalvooroordele te verander.”

Het Afrikaans al ’n bietjie van die stigma van “taal van die verdrukker” verloor?

“O, definitief! Definitief. Nee, ek dink dat selfs by jonger . . . verál by jonger Afrikataalsprekende seuns en dogters is dit glad nie meer die geval nie. By die ouer garde dalk nog.

“Ons wat direk met swart mense skakel, weet dat mense Afrikaans begin waardeer, nie net omdat dit ook ’n saketaal is nie, veral op die platteland, maar omdat dit ’n móói taal is.”

Hy dink die werk wat die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans doen, speel ’n groot rol.

“Die soort werk wat Christo van der Rheede (hoof van die SBA)-hulle doen, is die brug tussen Afrikaans en Afrikatale.

“Ek is baie goed bevriend met mense soos Hermann Giliomee, wat natuurlik as ’n sogenaamde taalbul bekend staan . . .” Hy lag.

“ . . . en wat myns insiens heeltemal misverstaan word. Ek dink Hermann was een van die eerstes wat saam met my gestem het dat die manier om Afrikaans te legitimiseer in die ná-apartheidstydvak is om te wys dat Afrikaans ’n Afrikataal is en dat die kundigheid en die vaardighede wat veral wit Afrikaanssprekende mense opgedoen het gedurende apartheidsjare, nou tot die beskikking van Afrikatale is. En dat daai vaardighede oorgedra kan word.”

Die rol wat Alexander as brugbouer gespeel het, en steeds speel, moet nie onderskat word nie.

Beukes sê onder meer in haar motivering vir die toekenning van die Linguapax-prys aan Alexander sy hele loopbaan as sosiolinguis/taalbeplanner was tot dusver ’n proses waardeur br?e tussen tale (en dus mense) in ’n multikulturele Suid-Afrika gebou word.

) ) )

Robbeneiland was sy “beste en belangrikste universiteit”, sê Alexander.

Hy praat sag en stadig.

“Ek dink een van die belangrikste dinge wat op Robbeneiland gebeur het, was dat ons besef het ons het die mag om die tronk as ’n plek waar mense gestraf word, te verander na ’n plek waar mense kon leer; hulself kon verbeter op onderwysvlak. En ons hét dit gedoen. Die héle tronk, nie net die gedeelte waar Mandela en ek en ander was nie.

“Ek het ’n groot rol gespeel in ons eie afdeling om die mense te help om hulself op te lei en ons het probeer, en daarin geslaag, om in die hele tronk ongeletterdheid heeltemal uit te wis.”

In die tronk het hy besef “dat ons baie min van Afrika geweet het. Wat ons Afrika-geskiedenis genoem het, was eintlik die geskiedenis van Europeërs in Afrika en nié die geskiedenis van Afrika nie.

“Ek het ook besef dat die verhouding tussen tradisie en moderniteit een van die belangrikstes is om te verstaan. En hoe om kontinuïteit te verstaan en te herstél as dit afgebreek was. En deur middel van taal.

“Dit het ek eintlik eers die laaste vier, vyf jaar verstaan. Dit is deur middel van (moeder)taal wat mense die moderne nywerheidswerklikheid vir hulself kan toe-eien. Anders is dit altyd iets vreemds as jy dit net deur middel van Engels of Frans of wat ook al kan verstaan. Of dit nou computers is of motorkarre of wat ook al – jy moet dit ín jou eie taal kan verwoord om dit jou eie te maak.”

) ) )

Alexander het vroeër in ’n onderhoud gesê: “Daar is niks ter wêreld wat ’n mens se insigte en kennis só verdiep as lees nie. Die grootste geskenk wat ’n mens aan enige klein kindjie kan gee, is ’n boek.”

As ’n mens kyk na die magdom werke wat hy al gepubliseer het en jy neem die omvang van sy ander bedrywighede (onder meer aan verskeie universiteite) in ag, wonder jy wanneer hy tyd kry om te lees.

“In die eerste plek: Ek staan elke dag so kwart oor vier, halfvyf op. Ek sê altyd vir my kollegas wanneer hulle werk toe kom, so teen nege-uur se kant, het ek al ’n halwe dag se werk gedoen. Net om hulle aan te spoor, natuurlik! So, ek het daai energie.”

Hy woon sedert hy in 1974 uit die tronk gekom het, steeds in sy ma se huis in Lotusrivier.

“My pa het my gedissiplineer. Ek was vir lank die enigste seun. Ek moes na die diere kyk . . . die hoenders, die varke, die bokke – die goed wat ons destyds daar op die plaas in Cradock gehad het.

“En my pa het altyd gesê: ‘Hulle kan nie hulself voer nie, so jy moet opstaan, en eers voer jy vir hulle en dan voer jy jouself.

“So ek het sommer as kind al daaraan gewoond geraak om voor vyfuur op te wees. En daarom was ek ook ’n modelgevangene gewees.

“Normaalweg lees ek in die bed tot so halfsewe se kant. Ek probeer nou al hoe meer romans lees om my woordeskat en metaforiese rykdom te verbeter. Dis iets wat ek vir ’n lang tyd nie kon doen nie, want ek was te besig met sosiologie en taalkunde en wat ook al.”

Hy is ’n aantreklike man met ’n goeie figuur. Hy lyk fiks. Wanneer hy daarna gevra word, lag hy uitbundig en knipoog vir die fotograaf Edrea Cloete. “Dis seker maar die erfenis van die gevangenis. Die feit dat ons vir tien jaar ’n gebalanseerde dieet gehad het – dit was min, maar goed. En natuurlik moes ons hard werk.

“Ek was nooit bang om te werk nie. Vir my was werk altyd ’n baie belangrike aspek van my lewe. Ek het daai ritme bygehou en ook vandag nog probeer ek elke dag vir minstens ’n halfuur of ’n uur stap of klim. Daar- om parkeer ek altyd bo teen die berg by die universiteit.

“As professor kan ek natuurlik een van die rooi parkeerplekke toe-eien, maar ek doen dit nooit nie. Ek neem altyd die sogenaamde blou parkeerterrein omdat ek berg wil klim.”

) ) )

Naas die woord “Estramadura” is daar ’n sinsnede waarvan Alexander baie hou. “Een van my gunsteling-frases is wat D.J. Opperman dikwels gebruik het toe hy ons onderrig het. Hy sou so op en af stap en dan so ’n bietjie stilbly en sê: ‘Terloops en toevallig.’

“Ek kan dit nooit vergeet nie. Dis vir my so ’n mooi sinsnede: ‘Terloops en toevallig.’ Dis amper asof hy wil sê: ‘Ek dink nou eers daaraan.’ Maar jy wéét hy het dit beplan.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |