Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
WVK: Goeie idee, swak uitgevoer
Die waarheid praat oor die verlede kan keer dat diktators soos pres. Robert Mugabe aan die bewind bly. Maar sonder vergoeding kan daar ook nie versoening wees nie. Dís die boodskap wat skrywers uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Guatemala en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) op die New Yorkse fees vir literatuur gesê het. Charles Smith het dit bygewoon. Die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) in Suid-Afrika was ’n goeie idee, maar is swak uitgevoer. Dit kon gelei het tot die nalatenskap van bitterheid wat tans in die land heers, meen Rian Malan. Malan, skrywer van My traitor’s heart, het Sondag in ’n sessie met die tema “Truth and reconcilia?tion: A national reckoning” op die fees gesê die WVK het grootliks daarin geslaag om ou wonde oop te ruk en swart mense te herinner aan die uitgebreide vernedering en onderdrukking onder apartheid. Omdat die hede so partydig was, het wat gebeur het hulle bitter gelaat oor hul verlede wat vergeet is. “Die WVK was ’n sukses in dié sin dat sy waarheid onpartydig was. Maar wat versoening betref, glo ek nie ’n instansie kan mense voorskryf om mekaar weer lief te hê nie,” het Malan gesê. Malan meen die verlede, wat voorgehou is as ’n stryd tussen ’n wit rassistiese regering en ’n nie-rassige groep, is verdraai. “Dit was nie vir my ’n stryd tussen goed en kwaad en tussen demokrasie en fascisme nie. Dit was ook ’n groot verdraaiing dat dit ’n stryd tussen wit en swart was. Die ANC, Mandela se party, het die eerste wit lede eers in 1985 toegelaat.” By sy terugkeer destyds na Suid-Afrika ná sy verblyf in die VSA, was Malan oortuig die Suid-Afrikaanse drama sou op ’n rasseoorlog uitloop. Sy doemprofesieë is op 27 April 1994 verkeerd bewys. “Vir my was dit ’n openbaring toe Nelson Mandela met sy inhuldiging as president F.W. de Klerk, sy gewese vyand, se arm in die lug gehou en in Afrikaans gesê het: ‘Wat verby is, is verby.’ Dit was ’n magiese oomblik. Die volgende 18 maande was soos ’n wittebrood, veral toe ons die Wêreldbeker in rugby gewen en Madiba met ’n Springbok-trui daar opgedaag het.” Toe het die WVK begin. Malan wil die term “truth kills” gebruik: Die waarheid is ’n baie moeilike en gevaarlike ding, sê hy. Soms is die waarheid in ’n huwelik waar een lid sy/haar eggenoot verneuk, die heel laaste ding wat nodig is. Dit was twee te veel Mnr. Paul van Zyl, gewese uitvoerende sekretaris van die WVK en gespreksleier, het gesê die tema van kwytskelding van vergrype in die verlede loop oor na die hede omdat van die mense by misdaad betrokke raak. Niemand het die politieke probleem opgelos nie. Dít het dalk weerklank in Suid-Afrika in gevalle waar sommige MK-kaders geweld gebruik om ’n inkomste te verdien en gekoppel is met skadufigure uit die ou veiligheidsmagte. Die duidelikste bewys dat die WVK onpartydig was, was dat die ANC hom gedagvaar het 48 uur voor die verskyning van sy verslag omdat dié party geglo het hy ’n moreel geregverdigde oorlog geveg. Van Zyl het gesê hy sou toegegee het dat die WVK pro-ANC was as die ANC die verslag kon stop. Een van die WVK se groot dilemmas was volgens Van Zyl dat ’n mens nooit regtig alle partye gelyk kan hanteer nie. Malan het gesê hy het geen probleem met kollektiewe skuld nie, maar hy wil weet waarvan hy beskuldig word. “In die Suid-Afrikaanse konteks is jy verlore as jy nie kan onderskei tussen die grade van mense se oortredings nie. Ek is een van die oortreders van apartheid. Twintig of dertig jaar gelede toe ek die land verlaat het, sou ek vir jou gesê het ek is ’n liberale wit man wat nie die wapen wou opneem vir die apartheidsregering nie. Ek het soos ’n tandetrekker gelieg. “Die indruk wat die media in die 1980’s en 1990’s geskep het, is dat die polisie duisende, tienduisende of honderdduisende politieke aangehoudenes doodgemaak het. Die amptelike syfer volgens die WVK is 72. Dit is net meer as twee per jaar. “Maar laat my onmiddellik sê dit is twee te veel. As ’n Afrikaner is ek skaam daaroor, oor die marteling. Dit is onvergeeflik. Soos ek sê, as ek aangekla word, wil ek weet presies waarvan ek aangekla word.” Vergoeding is die sleutel Alexandra Fuller, wat in Zimbabwe gebore is en die boek Scribbling the cat: Travels with an African soldier oor die bosoorlog in die destydse Rhodesië geskryf het, het gesê “almal’’ in Rhodesië het oudpremier Ian Smith goedgepraat. Haar ma was ten gunste van die wit regering. “Ek het vir haar gevra: ‘Hoe kon jy vir Ian Smith gestem het?’ Sy het gesê: ‘Daar was niemand meer wat regs was nie.’ ” Aan die einde van die bosoorlog het pres. Robert Mugabe na wit mense se vergrype gekyk en dit tot sy voordeel gebruik. “Daar is geen waarheid uitgespreek nie. Ons tonge was geknoop met hartseer. Mense soos my ma was verlore. Daar was net ’n doodse stilte. “Ek dink nie jy kan ’n groot sielkundige sessie hou en dit alles uitsorteer nie. Maar ek dink deur stil te bly, is Mugabe kans gegee om tot die soort oortuigings te kom wat hy wel gekom het. “Daar was geen vergoeding nie. Dít is die sleutel. Daar kan nie regtig versoening wees as daar nie vergoeding is nie.” Die enigste versoening was in staatskole, waar kinders op ’n gelyke voet was, maar buite die skool was daar die gevoel van “ons is nou verenig, maar jy het nog die Mercedes-Benz en ek sit nog op ’n stowwerige lappie woestyn met my bok”. Alles moes vergeet word Francisco Goldman, skrywer van die boek The art of political murder: Who killed the bishop? oor die moord in 1998 op biskop Juan Gerardi, ’n menseregteleier in Guatemala, het gesê hy is vermoor juis oor die waarheid. Dit was dae nadat hy ’n verslag bekend gemaak het waarin dekades van weermagmoorde op burgerlikes bewys is. Ná ’n burgeroorlog van 36 jaar waarin 200 000 mense vermoor is, het die weermag ingestem tot ’n waarheidskommissie – en algehele amnestie. Niemand is ooit aangekla weens die moorde nie. Gerardi het geweet in die nuwe bedeling gaan die mag steeds in die hande wees van diegene wat al die vergrype gepleeg het. “Die bewindhebbers het gesê alles moet vergeet word. Maar die mense wat gesien het hoe hul families vermoor en uitgewis is, kan nooit vergeet nie. Niemand kan vir jou sê jy moet vergeet nie.” Van Zyl wou weet of dit goed is vir Guatemala se heropbou om terug te kyk. Goldman het geantwoord daar het net iets gebeur omdat Gerardi die taboe verbreek het en dit so goed gedoen het dat die Verenigde Nasies (VN) die Guatemala-weermag van volksmoord beskuldig het. In so ’n geval kan daar geen vrywaring of amnestie wees vir misdade teen die mensdom nie. Mense kon toe die eerste keer praat oor die slagtings. “Dit was meestal Maja-Indiane wat glo die siel dwaal doelloos rond as die liggaam nie begrawe is nie. Oorlewendes sou vertel hul voorvaders het in hul drome verklaar waar hulle begrawe is, onder watter boom, en as hulle gaan grawe het, het hulle die beendere opgespoor. “Dit is ongelooflik helend. Maar om stil te bly, is gewelddadig vir mense wat die trauma beleef het. Die geweld duur dus voort vir hulle, oor en oor en oor. Elke dag.” Vinger wys na die VSA Lieve Joris, skrywer van The rebel’s hour oor die skrikwekkende vergrype van ’n rebelleleier in die DRK, het oor aanspreeklikheid gesê skenders van menseregte het altyd iemand wat hulle help. Die hartseerste ding is dat die oortreders altyd wegsmelt in die VN-wêreld van nie-regeringsorganisasies. Die leemte van geen ekonomie, wette of stelsels nie, skep hierdie monsters. Van Zyl het gewys op die morele aanspreeklikheid as sulke vergrype plaasvind. ’n Verslag oor Guatemala het gelui dat die weermag nie soveel mense sou kon uitwis sonder die VSA se steun nie. Maar as jy Amerikaners vra of hul land betrokke was by ’n volksmoord, sal hulle dit as beledigend beskou. Hoekom word daardie verbande nie getrek nie? Goldman het vertel progressiewe mense in die Amerikaanse departement van buitelandse sake het ’n program in die 1960’s begin om kommunisme teen te werk deur jong, briljante, Guatemalaanse studente as demokrate in die VSA op te lei. Die militêre regering het egter aangevoer hul “hervorming” skep juis die teelaarde vir kommunisme. Die inligting is aan die CIA oorgedra en valke in die Amerikaanse departement van buitelandse sake het beveel dat dié studente vermoor moes word. Teen 1970 is 70% van die studente wat na die VSA gestuur is, vermoor. Die monsters wat die VSA só geskep het, leef nog. Hulle het net al hul doodmaakvermoëns in georganiseerde misdaad begin inspan. Vandag sê die VSA 70% van die dwelms wat die land inkom, kom van Guatemala. Op die vraag wat die invloed sou wees as jongmense vandag na die VSA gaan vir studie en daarna teruggaan na hul tuisland, het Malan gesê as baie swart kinders tydens apartheid in die VSA opgelei is, sou hulle goeie loopbane in Suid-Afrika gehad het. “Baie sal nou weens die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika in die VSA wou bly. Dit is wat gebeur met die breinkwyn. Mense met kwalifikasies verlaat Suid-Afrika, ongeag van watter ras hulle is.” Gemors en retoriek Op ’n vraag of “versoeningspolitiek moontlik is sonder vergoedingsekonomie”, het Fuller geantwoord: “Zimbabwe is waarskynlik die bewys (daar kan nie só versoening wees nie). Ná onafhanklikheid was regeringsamptenare en Amerikaners die enigste mense wat Mercedes-Benz’e gery het. “Wat ek onthou, is die vlak van skynheiligheid. Ek het briewe gekry van mense wat sê hulle vind dit nou te kosmopolitaans by die klubs. “Al die stories oor versoening en vereniging is gemors. “Herverdeling beteken nie jy moet daarna nog smag na wat ander het nie. Dís wat Mugabe laat doen het wat hy gedoen het.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|