Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Wolf in skaapsklere
Dis 'n moeilike vraag: dié oor hoe korrup die polisie werklik is. En die antwoorde wat kenners bied, is uiters ontstellend. Julian Rademeyer het ondersoek ingestel. Net 192 Suid-Afrikaanse polisielede is die afgelope jaar weens korrupsie geskors – ’n skrale 0,1% van dié mag van 137 000 mans en vroue. Nuwe statistieke wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) eksklusief aan Beeld beskikbaar gemaak het, wys ’n totaal van 552 polisielede is tussen April 2007 en Maart 2008 geskors omdat hulle ernstige misdade gepleeg het. Dus net sowat 0,4% van die polisie op straat. Dis mos eintlik ’n rooskleurige prentjie van ons polisiemag, of hoe? Maar onafhanklike navorsers en kriminoloë verwerp dié syfers en sê dit bewys net “die SAPD het geen benul” van die ware omvang van korrupsie en misdadigheid in eie geledere nie “en wil klaarblyklik ook nie weet nie”. En hulle waarsku die polisie is vinnig besig om ’n “organisasie van misdadigers” te word. “ ’n Mens word moeg daarvan om te hoor daar is net ’n paar vrot appels,” sê dr. Liza Grobler, ’n kriminoloog wie se doktorale tesis oor misdaad in die polisie gehandel het. “Dis absolute snert. Dis hoekom ons nou met hierdie probleem sit. “Dis omdat hulle (die SAPD) weier om te erken daar is ’n probleem en hoe meer hulle dit ontken, hoe kleiner is die kans om dit op te los. Dis moeilik om nie negatief hieroor te wees nie.” Onderhoude wat sy in die Wes-Kaap met veroordeelde polisielede gedoen het, het haar tot die gevolgtrekking laat kom dat minstens 10% van alle polisielede korrup of misdadig is en dis waarskynlik ’n konserwatiewe syfer, sê Grobler. Hy’t net nie gemoor nie Mnr. David Bruce, ’n senior navorser van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening wat intensiewe navorsing gedoen het oor polisiëring en die polisie se oorsigmeganismes, stel dit só: “As die SAPD ’n model van integriteit was, sou die statistieke wat hulle verskaf, dalk sin gemaak het. “Maar ek glo dit vir geen oomblik nie. Ek dink die polisie is vrot van die korrupsie,” sê Bruce. “Bestuur en beheer in die SAPD is in die algemeen swak, daar is geen sistematiese benadering teen korrupsie nie en daar is tans ook geen (interne) ondersoekeenheid wat spesifiek na korrupsie kyk nie.” Grobler sê baie polisielede het dubbele lewens. “Die konsep van ’n ‘parallelle loopbaan’ het ontstaan. Baie polisielede word in hul eerste week reeds misdadigers. “Een ou met wie ek gepraat het, het 17 jaar lank met alles weggekom behalwe moord, hy het net nie gemoor nie. Hy is uiteindelik gevang omdat hy ’n vals vuurwapenlisensie uitgereik het, maar voor dit het hy voertuie gekaap, ’n prostitusienetwerk bedryf, inbrake gepleeg . . . dis onwerklik,” sê sy. “By die polisiestasie waar hy nagskof gewerk het, was daar snags nooit ’n senior offisier aan diens nie. Almal op nagskof was ‘vuil’ en enige polisielid wat nie wou saamspeel nie, is gou deur die res uitgewerk. “As hulle ’n oproep van die publiek gekry het terwyl hulle agter die stasiegebou gebraai en gedrink het, het hulle net eenvoudig nie gereageer nie. Maar as die plaaslike bende hulle ontbied het, het hulle gegaan, want die bende het hulle betaal. “Hulle (die polisie en die bende) was saam in die ding, dis ’n simbiotiese verhouding,” vertel Grobler. ‘Ons duld g’n nonsens nie’ Agt jaar gelede het die polisie se destydse teenkorrupsie-eenheid 1 048 polisielede vasgetrek weens korrupsie, waarvan 193 veroordeel is. Slegs ’n jaar later is die eenheid se ledetal met die helfte verminder in opdrag van komm. Jackie Selebi, wat nou self tereg staan weens korrupsie en sy bande met georganiseerde misdadigers. In 2002 is die eenheid summier ontbind. Die SAPD hou vol hy is vasbeslote om misdaad en korrupsie in eie geledere uit te roei. Die sleutel, sê hulle, is ’n dokument van 30 bladsye getiteld “Plan vir die voorkoming van korrupsie en bedrog”. Die strategie is drie jaar gelede opgestel, maar is steeds nie heeltemal ingestel nie. Selebi skryf in die dokument: “Die sleutel in die stryd teen korrupsie en bedrog in die SAPD is doeltreffende toesig oor SAPD-personeel op alle vlakke, maar veral op stasievlak . . . Korrupsie en bedrog sal nie geduld word in hierdie polisiediens nie en diegene wat skuldig bevind word . . . sal met die volle gewig van die gereg en die SAPD se tugkode te doen kry.” Asst.komm. George Moorcroft, die SAPD se hoof van strategiese bestuur, is die man in beheer van die teenkorrupsieplan. Sy leuse is “voorkoming, opsporing, ondersoek en herstel”. Vir hom gaan dit oor “beheermeganismes”, “integriteitsdokumente” en “gevaarontledings”. “Ons spoor baie korrupsiesake op en dis ’n goeie ding. Ons sê nie daar is méér korrupsie nie, ons sê ons spoor meer op. Ons moet die korrupte elemente wys ons gaan geen nonsens duld nie,” sê Moorcroft. Hy sê die huidige statistieke oor korrupsie in die polisie is laer as dié wat deur die voormalige teenkorrupsie-eenheid aangeteken is omdat die definisie van korrupsie nou meer spesifiek is. “In die verlede het ons alle strafregtelike sake as korrupsie-verwante sake gegroepeer. Nou het ons ’n streng definisie vir korrupsie. ’n Mens kan aanvoer die korrupsiesyfer is laag omdat sake nie aangemeld word nie, of ’n mens kan sê dit is laag omdat ons iets daaraan doen. “Ons kan net daarna kyk wanneer ons ’n interne oudit doen om te kyk wat aangaan,” sê Moorcroft. Maar Grobler sê dis blote semantiek. “As jy wil kyk hoe diep die vrot loop, kan jy al hulle (polisielede se) misdade kategoriseer as korrupsie weens die aard van hul werk en die magte wat hulle het. Hulle is nie soos gewone misdadigers nie.” Nuwe plan moet help Moorcroft erken die jongste SAPD-statistieke wat aan Beeld verskaf is, nie noodwendig akkuraat nie: “Daar kan dalk meer in die stelsels wees.” Hy slaan min ag op die werk van die ou teenkorrupsie-eenheid, wat tussen 1996 en 2001 sowat 23 000 ondersoeke gedoen het en 3 200 polisielede in hegtenis geneem het. “Niemand het van daardie ouens gehou nie – al wat hulle gedoen het, was om te ondersoek. Daar is geen voorkoming gedoen nie. Sedertdien het ons die strategie verbreed. Ons wil korrupsie voorkom, so nou vra ons: ‘Hoe kan ons korrupsie raaksien?’ ” Selebi het destyds sy besluit om die eenheid te ontbind geregverdig deur te sê dié eenheid is oorbodig omdat die eenheid vir georganiseerde misdaad dieselfde werk doen. Ironies is dat die hoof van die eenheid vir georganiseerde misdaad in KwaZulu-Natal skuldig bevind is aan korrupsie in ’n saak wat deur die teenkorrupsie-eenheid ondersoek is net voordat laasgenoemde eenheid in 2002 ontbind is. “Ons is gekritiseer omdat ons die teenkorrupsie-eenheid ontbind het,” sê dir. Selby Bokaba, polisiewoordvoerder. “Maar hulle het bloot ondersoek. Ons nuwe plan kyk na alle aspekte.” Volgens Moorcroft word nuwe rekrute nou behoorlik gekeur en dié strategie werp vrugte af: “Ons betrap mense in die polisiekollege met vals sertifikate.” Hy sê ’n nuwe gerekenariseerde dossierstelsel wat beplan word, sal die diefstal en verdwyning van misdaaddossiere help verhoed. “As ’n saak eers geregistreer is, sal mens dit nie meer kan toesmeer nie; ek waarborg jou dit sal ondersoek word.” Lede van verskillende polisiestasies sal mekaar ondersoek om te probeer verhoed dat een lid ’n ander een probeer beskerm. “As ’n korrupsiesaak byvoorbeeld in die Hillbrow-kantoor voorkom, sal mense van Vereeniging dit gaan ondersoek.” Moorcroft meen egter ’n spesialiseenheid om korrupsie binne die polisie te ondersoek, is nie nodig nie, omdat daar in die misdaadintelligensie-eenheid ’n afdeling is wat korrupsie ondersoek. Ook Bokaba meen ’n spesialiseenheid sal net nóg ’n las op die polisie se beskikbare hulpmiddels wees. “Gegewe die hoë vlakke van misdaad in die land en ons beperkte vermoëns, wil jy hê ons moet daardie vermoëns verder beperk deur na korrupsie (in die SAPD) te soek?” Jou mond word gesnoer Volgens Moorcroft sal die “nuwe” plan teen korrupsie uiteindelik deel wees van alle bevelvoerders se prestasie-ooreenkomste op nasionale, provinsiale en stasievlak. Die bevelvoerders sal beoordeel word volgens dit wat hulle doen om die risiko van korrupsie en bedrog in hul afdelings te beperk en te ondersoek. Dit sal effektief deel wees van bevelvoerders se operasionele planne. Al 1 150 stasiebevelvoerders sal teen Julie vanjaar opgelei wees om die nuwe teenkorrupsieplan in werking te stel, sê Moorcroft. Tot dusver is egter nog net 300 opgelei. Bruce sê die probleem met hierdie en soortgelyke planne is dat hulle dikwels gebruik word bloot om die illusie te skep dat iets aan die probleem gedoen word. Die uitvoering daarvan is ’n heel ander saak. En sonder ’n spesialiseenheid om korrupsie te ondersoek, gaan die plan geen tande hê nie. Maar Moorcroft sê hy is vasbeslote om die plan te laat slaag. “Dis ’n kwessie van dienslewering. Hoekom doen ons dit? Want ons weet daar is wel korrupsie en ons gaan nie nonsens vat nie.” Grobler sê sy het nog “nooit iets so lagwekkend gehoor soos die polisie se plan vir die polisie om die polisie te polisieer nie”. “Dis ‘n gekke, gekke konsep wat totaal indruis teen enige internasionale norm en internasionale goeie praktyke. New York en Londen het byvoorbeeld afsonderlike ondersoekeenhede. Dis die enigste manier om dit te doen. “Ons het geen ware strategie nie en hulle (die SAPD) stel ook nie belang om ’n behoorlike strategie te ontwikkel of in werking te stel nie.” Boonop het polisielede alle rede om te vrees vir hul lewens indien hulle dit sou waag om die korrupte optrede van hul medepolisielede aan te meld. In Februarie het die staat se saak teen polisielede wat daarvan beskuldig is dat hulle meer as R100 miljoen uit die kluis van die Benoni-polisiekantoor gesteel het, ineengestort. Die rede? Al vier die staat se belangrikste getuies – een van hulle ’n polisieman – is stelselmatig vermoor. In Januarie is ’n vrou doodgeskiet nadat sy ingestem het om teen twee vermeende korrupte polisielede van Booyens te getuig. “Hulle sal jou doodmaak, broer, hulle sal jou doodmaak,” het ’n senior polisiebeampte aan Beeld gesê. “Mense beskerm mekaar, dis die probleem. Dis iets wat jare lank al aangaan, solank as wat die polisie al bestaan.” 110 uit 192 polisielede glo geskors weens korrupsie, wys ‘rou syfers’ Volgens die “rou syfers” vir 2007-’08 wat deur die polisie aan Beeld verskaf is (dit moet glo nog bekragtig word voordat dit in die SAPD se jaarverslag in September ingesluit word), is 110 polisielede geskors weens korrupsie uit 192 lede wat in daardie tydperk geskors is. Ander skorsings van polisielede wat egter volgens ’n suiwer regsdefinisie wel as korrupsie beskou kan word, word deur die SAPD onder ander hoofde gelys. Dit sluit in skorsings weens bedrog (30 sake); dwarsboming van die gereg (22); hulp aan ’n ontvlugtende (17); afpersing (5); meineed (4); omkopery (2); en vervalsing (2). Altesame dus 192. Die 2007-’08-syfers verskil nie veel van die vorige jaar s’n nie, toe 222 polisielede aangedui is as geskors weens korrupsie en bedrog. Benewens die 192 lede wat in die huidige boekjaar geskors is weens korrupsie en bedrog, is tientalle ander geskors weens ernstige misdade. Dit sluit in diefstal (70); moord (52); verkragting (31); poging tot moord (30); gewapende roof (24); roof (19); besit van dwelms (18); ontvoering (8); voertuigkapings (7); en intimidasie (3). Volgens die SAPD was 1 832 polisielede skuldig aan wangedrag en strafregtelike oortredings in tugverhore wat in April verlede jaar en in Maart vanjaar afgehandel is. Onder hulle was 220 polisielede wat geweier het om bevele uit te voer; 336 wat weggebly het van die werk sonder toestemming; 97 wat dronk was aan diens; en 24 wat geslaap het aan diens “sonder toestemming”. Die tugstappe wat ná die tugverhore gedoen is, vertel egter dikwels hul eie verhaal. Só is een polisiebeampte ’n boete opgelê weens verkragting; nog een is vir hoogstens drie maande geskors (sonder betaling) weens onsedelike aanranding; vier is beboet weens moord; een is beboet weens gewapende roof; nog een het ’n finale skriftelike waarskuwing ontvang weens verkragting; vier het skriftelike waarskuwings ontvang weens korrupsie (drie van hulle finale waarskuwings); vyf is boetes opgelê weens dwarsboming van die gereg); en nog agt is beboet omdat hulle ontvlugtendes gehelp het. Kort nadat Beeld eksklusief die jongste polisie-statistieke bekom het, het die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) gister sy 2007-verslag oor die slagoffers van polisiemisdadigheid bekend gemaak. Die ISS het onderhoude gevoer met 4 500 mense tussen Oktober en November verlede jaar. Sowat 22% van die respondente glo die polisie is korrup en nog 13% glo die polisie is kop in een mus met misdadigers. In teenstelling met die jongste ISS-peiling het die Afrobarometer-peiling van 2006 bevind dat 48% van alle respondente glo alle of meeste polisielede is korrup. “Die publiek is effens minder tevrede met polisiëring as in 2003 (toe die vorige slagofferpeiling gedoen is), maar hulle is minder krities: Onverskilligheid is die nuwe mode,” lui die jongste ISS-verslag.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|