Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


By: Groot kanonne aan die woord
May 09 2008 08:56:14:097PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Dit is ’n onbegonne taak om die diggeweefde en rykgeskakeerde betoë van twintig stemme te probeer opsom, skryf Hennie Aucamp na aanleiding van ’n boek waarin die referate van Nobelpryswenners opgeneem is.

Vir skrywers en alle literatuurgesindes is die toesprake van Nobelpryswenners, van Wole Soyinka (1986) tot Orhan Pamuk (2006), ’n kleinood wat permanent tot hul geestesbagasie gaan behoort, en om ’n eenvoudige rede: dit verteenwoordig ’n kollektiewe credo. Dit stel standpunte oor taal en gewete wat hulself voortdurend herhaal en vernuwe in die tyd.

Alle toesprake en credo’s moet gesien word in die lig van die enkele kriterium wat deur die Sweedse Akademie aangelê word, en dit is dat die Nobelprys moet gaan na “the most outstanding work of an idealistic tendency”.

Die beklemtoning van “idealistic” is van die inleier tot Nobel Lectures, John Sutherland, vir wie dié kwessie só belangrik is dat hy die oorspronklike Sweedse formulering herhaal: “den som inom litteraturen har producerat dat utmärktaste i idealisk riktning”.

Sutherland wys daarop dat “idealistic” ook vertaal kan word as “ideal”, en dat “work” ’n oeuvre maar ook ’n enkele meesterwerk kan beteken.

Die ontvangers van die Nobelprys moet soms fyn voetwerk doen om die begrippe idealisties/ideaal in hul betoë te akkommodeer.

Die Ierse digter Seamus Heaney, gedrenk in Noord-Ierland se onstuimige politiek, is hom ook pynlik bewus van ander “wounded spots on the face of the earth”, soos Bosnië, Rwanda en Israel, en kom uiteindelik, nie sonder inspanning nie, by dié formulering uit: “. . . even if we have terrible proof that pride in an ethnic and religious heritage can quickly degrade into the fascistic, our vigilance on that score should not displace our love and trust in the good of the indigenous per se”.

Die “ideale” en die “idealistiese”, sê Sutherland verder in sy inleiding, was ingebou by neëntiende-eeuse estetiese opvattings. Dit is gestel teenoor die “realistiese”, en só het dit dan gebeur dat ’n kolos soos Henrik Ibsen nooit die Nobelprys gekry het nie, omdat hy ’n “realis” was.

Die Nobelprys het ook aan Thomas Hardy verbygegaan, waarskynlik om dieselfde rede. Teen 1925 was die Nobelpryskomitee al klaar minder rigied. Die Nobelprys is daardie jaar aan George Bernard Shaw toegeken, ’n dramaturg en skrywer wat homself as “realis” getipeer het.

Breyten Breytenbach is reg: ’n Sekere argwaan is geregverdig wanneer dit by literêre en ander pryse kom. Die hoogste prys gaan nie outomaties na die beste kandidaat nie; tydstendense en sosiopolitieke modes speel soms saam in die keuse van ’n wenner.

Dit is ’n onbegonne taak om die diggeweefde en rykgeskakeerde betoë van twintig stemme te probeer opsom.

Soms help ’n Nobelpryswenner met die titel van sy referaat, soos José Saramago met s? titel: “How characters became the masters and the author their apprentice”, of Octavio Paz, met s? titel, “In search of the present”, of Wole Soyinka wat Paz op ’n manier herhaal met “This past must address its present”.

Maar selfs met dié medewerking van skrywers sien ons, soos die ou mense gesê het, nog net die oortjies van die seekoei.

Dis opvallend hoe baie Nobelpryswenners hulle van die storievorm bedien in hul referate, juis omdat die storie hom tot talle interpretasies, en kombinasies van interpretasies, bedien. Die skrywer is ’n slu dier, en dis dalk een van die belangrikste redes waarom hy diktature oorleef.

Wat hierdie resensent wil doen, is om sekere gemene delers in die Nobelprys-referate uit te lig, veral met die oog op Suid-Afrikaanse skrywers en – baie belangrik – hul uitgewers.

Die mondelinge tradisie word telkens genoem en pragtig geïllustreer deur byvoorbeeld José Saramago, wat so baie van Jerónimo, sy ongeletterde maar eindeloos wyse oupa, geleer het. Jerónimo was ’n varkwagter, maar snags het hy na die sterre gekyk en “die pad na Santiago” (Die Melkweg) vir die jong José gewys.

Ook Günter Grass noem die mondelinge tradisie en demonstreer dit baie grafies:

Die vertel van stories kom deur die lippe, sê Grass; nou aarselend en hortend, dan weer vinnig, asof aangestig deur vrees. Soms word fluisterend vertel, asof geheime vertel word wat net die regte ore mag bereik.

Grass se toespraak heet “To be continued . . .”, ’n sinsnede wat vervolgverhaallesers van jare her alte goed ken: “Word vervolg.” Hiermee impliseer Grass dat die vertelkuns deurlopend is. Teen die einde van sy toespraak sê hy dat daar donker tye mag kom, sonder boeke en uitgewers, en boeke self nie meer beskikbaar sal wees nie, maar selfs dan voorsien Grass “storytellers giving us mouth-to-ear artificial respiration, spinning old stories in new ways . . .”

Die gedagte aan literatuur as ’n deurlopendheid impliseer tradisie. Byna elkeen van die skrywers in Nobel Lectures bring hulde aan voorgangers, beginnende by hul eie letterkunde. Grass bring hulde aan Heinrich Böll; Seamus Heaney bring hulde aan Yeats; Kenzaburo Oe bring hulde aan Kawabata.

Maar tog is kontinuïteit en tradisie nie altyd dieselfde nie. Octavio Paz beklemtoon dat daar br?e nodig is tussen tradisie en moderniteit: “When they are mutually isolated, tradition stagnates and modernity vaporises; when in conjunction, modernity breathes life into tradition while the latter replies with depth and gravity.”

Nou moet haastig ingevoeg word dat die uitgangspunt van Paz se referaat: “In search of the present”, sy eie soektog na “moderniteit” was, ja, soos soekers van ouds na die Heilige Graal gesoek het, om uiteindelik by dié besef uit te kom: “I returned to the source (antiquity) and discovered that modernity is not outside but within us.”

Paz is hiermee terug by sy brug-filosofie. As die hede nie in gesprek met die verlede bly nie, en die verlede nie in gesprek met die toekoms bly nie, is verstarring die onvermydelike gevolg.

Waar verstarring homself onmiddellik aanmeld, is in taalgebruik. Toni Morrison sonder gebruiksgebiede uit waar taal gestultifieer word, en noem in haar referaat byvoorbeeld “obscuring state language”, “the faux-language of mindless media” en “the proud but calcified language of the academy”.

Vir die res van dié artikel wil hierdie skrywer aandag gee – natuurlik met die hulp van die skrywers, digters en dramaturge in Nobel Lectures – aan faktore wat “die see van stories” (Salman Rushdie) kan besoedel. Die “ekologie” van taal en letterkunde kan eweneens versteur word, tot rampspoed van die mensdom.

Eerstens moet genoem word die funeste gevolge van ideologieë. Hier is Gao Xingjian ’n tydlose segsman. Hy het uit die Chinese Kommunistiese party bedank na die Tiananmenplein-massamoord in 1989, en asiel in Parys gevind. Xingjian sê: “If ideology unites with power and is transformed into a real force then both literature and the individual will be destroyed.” Hy glo dat ’n estetiek gebaseer op menslike emosies ver bo literêre en kunsmodes uitgaan.

Die ondermyning van literatuur, sê Xingjian verder, was ingebed in die Kulturele Rewolusie-retoriek.

Retoriek en slagspreuktaal is nie te skei nie. V.S. Naipaul sê: “Where jargon turns living issues into abstractions, and where jargon ends by competing with jargon, people don’t have causes. They only have enemies.”

Günter Grass noem een voorbeeld van gonswoordtaal in ons tyd: “kommunikasie”. Hy sou ook die woord “kreatiwiteit” kon genoem het, want dit het totaal verslyt geraak binne reklame-opset.

’n Laaste spreekbeurt aan Gao Xingjian, wat sinies na die bemarking van literatuur kyk. Die uitgangspunt van bemarking, sê Xingjian, is dat die jongste, die nuutste, outomaties goed is, en dan volg ’n waarskuwing waaraan mark- en aandeelgekoppelde uitgewerye gerus aandag kan gee: “. . . if the writer’s aesthetic judgment follows market movements it will mean the suicide of literature”.

Maar selfmoord, wat geestesgoedere betref, is dikwels ’n stadige proses. Eers wanneer dit te laat is, skrik die mens en kyk na die dooie gans wat eenmaal goue eiers gelê het.

Günter Grass bespeur reeds ’n vertraging, selfs ’n stilstand; en met sy “fermanend woort” sluit ek dié artikel af: “Is it not rather the case that literature is currently retreating from public life and that young writers are using the internet as playground? A standstill, to which the suspicious word ‘communication’ lends a certain aura, is making headway.”

.

  • Nobel Lectures: 20 years of the Nobel Prize for Literature Lectures. 2007. Cambridge: Icon Books (Oorspronklik in Australië uitgegee in 2006, deur die Melbourne University Press, Victoria.) Hardeband: 322 bladsye. ISBN: 978-1840468-34-2


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |