Melville mak gemaak
Mense van Melville veg terug om dié Jhb-buurt saans weer leefbaar te maak sy inwoners.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


By: Kniediep in die regses
May 09 2008 08:55:56:190PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend

Sen. Hillary Rodham Clinton veg al ’n dekade lank teen ’n sogenaamde “uitgebreide regse komplot”. Maar nou is sy viervoet deel daarvan, skryf Charles Smith

In die jongste uitgawe van die tydskrif Rolling Stone is ’n spotprent wat sen. Hillary Clinton uitbeeld in kamoefleerdrag met ’n haelgeweer in die hand, halfjekkie in die gatsak en tatoeëermerke van Jesus, ’n kopbeen en ’n kruis op die arm, terwyl sy op sen. Barack Obama gil.

“Hillary’s bitter victory,” lui die opskrif van die artikel oor die Demokratiese wedloop wat in ’n “absurde en bitter kultuuroorlog” ontaard het wat die party kan skeur.

Twee dinge: Die karikatuur van Clinton is in die kol. Sy sal waarskynlik trots wees daarop. Die kultuuroorlog is seker waar van die Demokrate, maar wat die VSA betref, is dit te beperk gestel. Dit is ’n oorlog. Punt. Oor kultuur, ras, klas, sommer alles. Behalwe oor beleid.

Die “victory” verwys na Pennsilvanië, toe Clinton soos ’n verkleurmannetjie verander het. Die VSA se eertydse voorste liberaal wat teen vuurwapens geveg het, het whiskey en bier voor die kameras weggeslaan en begin veg vir Johnny Yank se reg om vuurwapens te hê. Sy het begin skreeu: “Jobs! Jobs! Jobs!” Sy het Obama se probleme met sy “Bittergate” (toe hy gesê het gewone Amerikaners is bitter en klou vas aan vuurwapens en godsdiens) en past. Jeremiah Wright meesterlik uitgebuit. Wittes in die arm state het in busvragte na haar oorgeloop.

Clinton kan verskeie aksente namaak. In swart kerke in die Suide praat sy soms “Southern”. Sy kan ook soos die wittes daar praat. En in die Midweste, tuiste van die gewone, armer, wit werkersklas, kan sy hul hartstaal so gooi dat dit ’n ringbeampte op ’n beesskou sal laat gloei.

Almal is dit eens sy het in ’n formidabele politikus ontpop. Gesout, geslepe, skerp. Voor Iowa was haar toesprake lank, eentonig en droog. Nou gil jonges “Yes, she can!” as sy vurig haar punte afrits. Maar slim het sy baas gevang. Sy het só ver na regs beweeg dat die Republikeine geen probleem gehad het om in Indiana vir haar te stem nie. Die konserwatiewe omroeper Rush Limbaugh het Republikeine aangemoedig om dit te doen en sy het lieflik met die hele idee geflankeer.

En toe wen sy Indiana Dinsdag met Republikeinse stemme.

Hillary Clinton, slagoffer van ’n dekade se aanvalle in ’n “uitgebreide regse komplot” deur gifstrooiers soos Limbaugh en Bill O’Reilley van Fox News, wen met behulp van die regses en Republikeinse stemme. Dit het haar deurgedra tot ’n sege van 2% oor Obama.

Die regses het die Wright-uitsprake gelooi – en Clinton het help gif strooi. Die afgelope twee maande het die konserwatiewe media Clinton heeltemal uitgelos terwyl sy regs beweeg het. Obama is gekarnuffel soos min.

Die Wright-sage is natuurlik nuus. Maar dit is oor en oor opgerakel, selfs nadat Obama Wright afgesweer het. Intussen het Clinton die uitspraak gemaak dat sy Iran “sal uitwis” as hy Israel durf aanval. Maar daar’s geen bohaai dáároor nie.

Dít nadat pres. George W. Bush die hele media ’n rat voor die oë gedraai het met die inval in Irak – en dit ses jaar later in die ekonomiese verknorsing gesleep het?

Bush verkondig hy wil die land red deur olie in die Arktiese wildernis te boor, Bush se regering wis die Yellow?stone-park se bisons en wolwe uit en mik om die Sequoia-oerbome as hout te verkoop. Bush het nog geen besluit oor aardverwarming geneem nie. Nie veel drama daaroor nie.

Sen. John McCain maak ’n liederlike glips en verkondig die Irak-oorlog gaan oor olie, maar dit is net flou nuus vir ’n dag of twee.

Maar Wright se oordrewe preke word vir altyd teen Obama gehou. Dag vir dag. Alles met een doel: Die swart man moet voor die kameras ontplof en iets bitter kwyt raak oor die wittes wat hom so druk. Dan kon hulle sê: “Kyk daar, hy is ’n rassis.”

Obama en sy vrou, Michelle, moes elke minuut vir twee maande lank glimlag en net vriendelike dinge sê – behalwe toe hy Wright afgesweer het. En nadat hy dit gedoen het, word die e-pos van “Barack Hoesein Obama, die Moslem” steeds versprei. Kiesers het in Indiana vir Clinton gestem omdat hulle weier om vir die “rassis en Moslem” te stem.

Suid-Afrikaners weet ten minste van die swart bevrydingsteologie. Wittes in die VSA druk hul oë toe daarvoor. Hulle wil nie weet waarvandaan dit kom nie – reg of verkeerd.

Intussen het dit bekend geword waar die Clinton-smeertaktiek teen Obama sy oorsprong het: Die oud-joernalis Sidney Blumenthal wat die term “uitgebreide regse komplot” uitgedink het en wat deur Clinton in 1998 gebruik is om die alliansie van konserwatiewe media, dinktenks en politieke operateurs te beskryf wat die Clintons wou vernietig, werk nou vir haar. Hy is ook nie skaam om die taktiek van skuldig-deur-assosiasie teen Obama in te span nie.

Peter Dreier van HuffingtonPost.com het gewys hoe Obama geteiken is deur e-pos waarin sy karakter, politieke sienings en persoonlike lewe afgekraak word. Blumenthal stuur dit aan dinktenks en meningsvormers en só word gerugte versprei.

George Stephanopoulos van ABC News, ’n gewese perssekretaris van oudpres. Bill Clinton, het só ’n vraag oor Obama se verbintenis met die gewese linkse terroris Bill Ayers bekom en Obama is op die laaste debat voor Pennsilvanië daaroor gepeper. Obama was ’n tiener toe die groep linkses bomme in die 1960’s geplant het.

Só loop die skakel: Die regse Fox News se Sean Hannity doen ’n onderhoud met die meesterbrein van regse smeertaktiek en oud-Bush-raadgewer Karl Rove (ook deesdae Fox News se kommentator). Rove praat oor Obama se ontmoeting met Ayers in Chicago.

’n Week later voer Hannity ’n onderhoud in sy radioprogram met Stephanopoulos, die oud-Clinton-man, en hy praat oor Ayers. “Wel, ek neem notas,” laat hy oor die lug hoor.

’n Dag later peper Stephanopoulos Obama oor sy konneksie met Ayers, wat ’n professor in Engels in Chicago is. Obama word dae lank oor dié storie gery.

Hy het beslis Pennsilvanië oor die Wright-, “bitter”- en Ayers-smeerstories verloor.

Rove, wat selfs in 2000 die gerug versprei het dat McCain ’n kind by ’n swart vrou het (hy het ’n swart kind aangeneem), waarsku Obama nogal laasweek in die Wall Street Journal hy moet nie te elitisties voorkom nie. Dit is Clinton se woorde.

Blumenthal het byvoorbeeld ’n artikel met die titel “Obama’s Communist Mentor” deur die verregse aktivis Cliff Kincaid, ’n skerp aanvaller van die Verenigde Nasies (VN), rondgestuur. Sy regse groep America’s Survival word gefinansier deur Richard Mellon Scaife – wat die aanvalle teen die Clintons in die Withuis gefinansier het.

Die “mentor” is die swart digter Frank Marshall Davis, wat Obama in Hawaii ontmoet het en wat glo ’n lid van die Kommunistiese Party was.

Die skrywer Beth Arnold sê sy beskou die taktiek deur Clinton en haar span as laer as dié van Rove en die Republikeine. “Hillary het in die bed geklouter met Rove en Blumenthal en dit lyk of sy dit geniet. Dan staar sy in die oë van die publiek en sê sy is jammer die Republikeine gebruik die Wright-ding teen Obama. Maar dit is presies wat haar veldtog elke dag doen.”

As Obama wou, kon hy Clinton aangeval het oor haar man se gedrag destyds in die Withuis. Sal Bill Clinton nie weer dieselfde doen nie? Is vroue veilig in die Withuis as hy daar is? Maar Obama weier om smeertaktiek in te span. Selfs die hoofstroommedia is vinnig om aan die regse drukgroep toe te gee. Alles wat Limbaugh, Ann Coulter of O’Reilly kwytraak, is groot nuus. CNN het pas Bush se gewese woordvoerder, Tony Snow, aangestel. MSNBC gebruik die galbraker Pat Buchanan elke dag, terwyl hy openlik rassisties en seksisties is. Hy het onlangs op ’n swart vroulike kommentator geskreeu sy moet stilbly.

Al die aanbieders van 21 televisie?debatte tussen Obama en Clinton was wit mans – nie een was swart nie.

Coulter skryf so in haar rubriek Woensdag: “. . . Nou sit ons met twee gevaarlike keuses vir president: ’n jong liberaal wat vriende is met terroriste (Obama) en ’n ou liberaal wat vriende is met Ted Kennedy (McCain). Maar neem ’n oomblik om die feit te verwerk dat ons lang nasionale nagmerrie verby is. Dit blyk om Clinton uit die weg te ruim, is die verandering waarop ons gewag het.”

Obama kan kwaai aangevat word oor sy uitsluiting van inheemse Amerikaners uit sy toespraak oor ras in Philadelphia (dit is nie eens nuus in die VSA nie!) en sy gebrek aan detail in toesprake.

Maar Hillary Clinton se regse aanvalle het die Demokratiese Party laat skeur – tussen Obama se swartes en jonges en Clinton se ou wittes. Dít is ’n bewys wie die groep met rassevrese is.

Hillary is nou kniediep in die uitgebreide regse komplot waarteen sy so geveg het. Hoe sy daar gaan uitkom, is ’n ope vraag.

Min mense besef hoe amper dié taktiek Obama laat sink het – net soos Al Gore en John Kerry met smeertaktiek gesink is. Maar hulle is deur Republikeine gekelder. Die gevolg was ’n Bush-bewind van agt jaar wat die VSA tans so kwesbaar het soos in die Koue Oorlog.

As Noord-Carolina – wat Obama danksy die baie swart kiesers met 14% gewen het – nie ook Dinsdag gestem het nie, was hy onderdeur. Dan het die regse komplot geseëvier. Hy was weer die ou, besielende “Mr. Change” wat ’n reuseskare toegespreek het.

“Ek is nie hier om dié soort politiek vry te spring nie. Ek wil juis president word om dit stop te sit,” was sy belofte.

Selfs pastoor Wright sou hierop kon sê: “Amen.”

. Charles Smith is Media24 se verteenwoordiger in Washington.

.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |