Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Tjips, julle!
Die ouer mense het mos elke nou en dan ’n album of ’n kunstenaar wat ’n groot hit onder hulle is. Dis soos wanneer ou favourites soos Hooked on Classics, Elvis Love Songs volume 2, Pavarotti Gold of The Ultimate Nana Mouskouri Collection op die rakke verskyn. “Wag, jy moet hierdie ene hoor, laat ek net gou die vuur aansteek,” word by partytjies gesê en dan uitgeroep: “Mamma, waar het jy daai CD van Andrea Bocelli nou weer gesit?” Die nostalgiese klanke laat hulle verlang na die dae toe hulle drank en vleis vir ’n braai vir minder as R20 kon koop. Namate die aand al hoe langer word en die gloeiende rooiwyn deur die are neurie, word die beste snitte al hoe meer op repeat gesit, en teen die einde van die aand huil groot mans in mekaar se arms. Sover aan my vertel word, is die violis en vermaaklikheidskunstenaar André Rieu die nuutste groot treffer op die laat-middeljariges se hit parade. Dis hoekom een van die gaste op Elmien se 60ste verjaarsdagparty op Hermanus ook toe die Rieu-DVD saamgevat het die aand – sodat die mense ’n bietjie kan luister. <Almal groet en kuier lekker saam. Hoe gaan dit? Hoe gaan dit? Lanklaas gesien. Sommige kuier buite om die vuur; ander weer in die kombuis, en een klomp verkeer gesellig om die tafel in die stoepkamer – daar waar die groot skerm en die DVD-speler ook is. Die wyn vloei, die geselskap vlot lekker, en ná ’n ruk sit iemand ook vir André Rieu op – en hy is soos altyd op sy stukke. Elmien wil egter niks hiervan hoor nie. Nee, sy gee nie eens om of hulle dit net saggies opsit nie – dis háár party, en daar gaan geen TV gekyk word nie. Maar van die ooms en tannies is al meegevoer deur hierdie pragtige musiek, en hulle besluit om maar nog ’n bietjie verder te kyk en te luister. Elke keer as Elmien om die hoek van die huis kom, roep een net “Tjips, julle!” en dan word die musiek gou afgesit. En so kuier hulle luister-luister voort. Hier naby twaalfuur roep iemand weer: “Tjips, julle, daar kom Elmien!” In daardie stadium sit een van die jonger tannies, Chrissie, en speel met die remote tussen haar vingers. “Gou, druk die knoppie,” roep iemand aan die punt van die tafel uit. “Watter knoppie?” vra Chrissie vervaard, want toe het ook sy reeds Elmien gewaar. “Druk sommer enige knoppie,” brom een van die Land Rover Broers. Watter een weet ek nie seker nie – in daardie stadium van die aand het hy waarskynlik self nie geweet nie. Toe doen Chrissie maar wat vir haar gesê word om te doen: sy druk die eerste die beste knoppie op die afstandbeheerder. Nou, dié van julle wat e.tv ken en Vrydagaande so teen twaalfuur kyk, sal weet watter klas “liefdesverhale” hulle in daardie tydgleuf uitsaai. Riana, wat reg oorkant die groot skerm gesit het, vertel ná die tyd dat dit ’n bietjie soos ’n gimkana-perderesies gelyk het. Daardie meisie sit kaalbors bo-op so Spanjaarderige ou en ry hom bloots – oop en toe op pad wenpaal toe. Heio, Silver! Kloppedi-klop . . . Die ooms sit agteroor in hul stoele en kyk met sulke oop monde. Chrissie spring op en af van nervous-geit en probeer van die remote ontslae raak. “Hierdie André Rieu is nogal veelsydig,” brom die ander Land Rover Broer net voordat Elmien opdaag en die party verval in ’n chaos van beskuldiging en verontskuldigings. Iemand soek naarstig na Chrissie om die remote by haar te kry. “Nee, sy’s so vinnig hier uit,” sê iemand anders. “Badkamer toe,” sê nog ’n een. Want toe Elmien om die draai kom en die gimkana-meisie met haar bonsende twee waatlemoene sien, het Chrissie al lank in haar eie broek gepie.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|