' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


By: Om sin te maak uit die ondenkbare
May 12 2008 12:13:06:970PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hellmann blaai deur 'n foto-album wat hy vir Bloom se eerste verjaardag ná sy dood gemaak het. Foto: Denzil Maregele

Op 16 April 2006 is Bryan Hellmann se lewensmaat, die mode-ontwerper Richard Bloom, tragies en sinneloos vermoor. Willemien Brümmer het met Hellmann gepraat oor sy boek, Soul Conductor – A Tale of Grieving and Healing, wat pas by Aardvark Press verskyn het.

Sy gesig is kalm, amper sereen, wanneer hy in die stampvol lokaal uit sy boek voorlees: “Our love, for me now, is a sublime love, which is certainly the strongest kind of love, achieved possibly only when two people’s souls fit together like the pieces of a puzzle.”

Bryan Hellmann lees voort, byna asof sy lewensmaat van meer as vyf jaar met ’n trotse glimlag in die gehoor staan: “I thank God for giving me the gift that was, and is, Richard Bloom.”

Maar op hierdie Woensdagaand, 30 April 2008, het reeds meer as twee jaar verbygegaan sedert Bryan op ’n koue Maandagoggend in sy kar voor die Kampsbaai-polisiekantoor gesit het. Daardie oggend het die wêreld om hom ’n massiewe bloedbad geword, onthou hy in sy boek, Soul Conductor. “Die oseaan voor my het in ’n poel rooi branders verander. Die bome daarbuite het gelyk soos die gebeentes van my arms en bene. Die wolke in die lug het die vorm aangeneem van longe wat platval.”

Tóé het hy reeds 30 uur lank na Richard en dié se boesemvriend, die akteur Brett Goldin, gesoek.

Presies om 06:35 het ’n man skielik voor sy karvenster verskyn: “Hulle is dood,” het hy gesê.

Nou, by die bekendstelling van sy eie verhaal van treur en heelword, sou jy amper nie kon sê Bryan (31) het die afgelope twee jaar die ondenkbare deurleef nie.

Wanneer ons hom by sy woonstel in Seepunt ontmoet vir ’n onderhoud oor dié boek, is hy weer die toonbeeld van beheerstheid. Ten spyte van vrae wat diep sny, verraai sy gebeitelde gesig min emosie; sy woorde sorgvuldig gekies asof hy hulle duisend keer in sy kop geweeg het. Soos dit ’n goeie kliniese sielkundige betaam, luister hy fyn, antwoord hy presies.

Al wat met die eerste oogopslag herinner aan wat was, is die glinsterende portret, uit kralewerk gemaak, van twee mans in die fleur van hul jeug. Dis ’n verjaardaggeskenk wat Bryan die jaar voor sy dood aan Richard gegee het.

In sy keurige Engels vertel Bryan (31) hoe hy Richard ontmoet het toe hul gemeenskaplike vriend Brett Goldin hulle op ’n partytjie aan mekaar voorgestel het. Gou sou Bryan besef hy het Richard eintlik reeds as kind geken; dat laasgenoemde toe reeds geruime tyd probeer het om hom weer te ontmoet. Hul verhouding het daardie aand begin, “en dit het vinnig gegroei tot die mooiste en wonderlikste liefde wat ek tot nog toe geken het”, skryf Bryan in sy boek.

Soos die noodlot dit wou hê, was dit egter Brett saam met wie Richard in die laaste ure van sy lewe sou wees. Ná ’n ligte meningsverskil met Bryan is Richard alleen saam met Brett na ’n ete in Bakoven aan huis van die mode-ontwerper Craig Port. Toe die twee vriende omstreeks middernag na Richard se Polo Playa terugloop, het ’n blou BMW met vier gewapende mans by hulle stilgehou en hulle in Richard se motor ingedwing.

Nadat die mans eers met hulle na die parkeerplek by die sweefspoorstasie is, het hulle hulle na ’n veld langs ’n afrit tussen die M5-snelweg en Klipfonteinweg geneem, waar hulle naak, met hul liggame styf teen mekaar, tereggestel is. Albei het gesterf weens ’n enkele koeëlwond in die agterkop.

Bryan bly eers lank stil. “Vir ons was een van die min gerusstellings dat Richard en Brett mekáár gehad het in hul laaste ure.”

Wat die ervaring vir hom ekstra moeilik gemaak het, was dat hy hom nie net kon verbeel waardeur Richard en Brett moet gegaan het nie. Op ’n sekere vlak het hy gewéét.

In Soul Conductor vertel hy hoe hy self ’n paar jaar voordat hy Richard ontmoet het, verkrag en vir dood agtergelaat is in sy woonstelgebou in Boston in die VSA. Twee vreemdelinge het hom laat een nag in die wassery aangeval en hom in sy rug en arm gesteek. In die struweling wat ontstaan het, het hy die een man se mes gegryp en sy eie hand oopgesny. Hierna het die mans hom in ’n poel bloed vasgemaak en hom aangerand en seksueel gemolesteer.

Toe hy uiteindelik by ’n hospitaal uitkom, het sy long platgeval. Hy het ’n aansienlike hoeveelheid bloed verloor en was in ’n koma. Terwyl sy ouers hulle na die VSA gehaas het omdat vir sy lewe gevrees is, moes hy ’n 18 uur lange operasie ondergaan om sy hand te herkonstrueer en sy arm en rug te herstel.

Bryan klem sy kake stywer op mekaar. “Om die een of ander rede was dit al waaraan ek kon dink op die dag toe ek Brett en Richard gesoek het.”

Hy aarsel. “Ek het al tevore vrede gemaak daarmee, maar ná wat met Richard gebeur het, was ek meer oukei daarmee dat ander mense dit kon weet. Dit het só ’n belangrike deel van my eie ervaring van die moord geword dat ek gevoel het dis nodig om dit met ander in die boek te deel. Dit het ook gemaak dat ek my eie lewe meer waardeer, en dit het my laat besef hoe gelukkig ek was dat ek oorleef het.”

Uiteindelik was die boek, en die neerpen van sy eie ervaring, die belangrikste besluit wat hy ná Richard se dood geneem het. Hy onthou: “Net nadat die moorde plaasgevind het, het mense vir my boeke oor die rouproses gegee. Ek het hulle vinnig deurgelees en hulle interessant gevind omdat hulle die teorie gegee het, maar hulle het my nie geborge laat voel nie.

“Taamlik gou daarna het ek besluit dalk moet ek neerskryf wat ek voel, want as ’n sielkundige het ek dit al so baie vantevore vir mense aanbeveel.”

Hy het dus reeds drie maande ná die moord begin skryf, en binne ses maande was hy klaar.

“As ek dit nou moes skryf, sou dit ’n heel ander boek gewees het, maar die ding met narratiewe terapie of katarsis is dat jy nie skryf oor wat jy gevoel hét nie; jy skryf dit terwyl jy dit voel.”

Afgesien van die boek was dit veral sy werk wat hom deurgedra het. Ironies genoeg was van sy pasiënte in dié stadium moordenaars en verkragters: Hy was toe besig met sy gemeenskapsdiens as kliniese sielkundige by Malmesbury Korrektiewe Dienste. Tien dae ná die moord is hy terug werk toe, waar hy elke dag, buiten oor naweke, met gevangenes gewerk het.

Hy glimlag effens. "Ek moes opstaan en elke dag 'n uur lank werk toe ry, dus het ek werklik tyd gehad om oor my gevoelens te dink. Dit het my ook die kans gegun om die menslike kant van misdaad te sien in ?n tyd toe ek geweldig baie vrae gehad het."

En ja, knik hy, die eerste paar weke in die gevangenis wás baie moeilik. "Ek het nie probeer om dit (die moord op Richard) van enigiemand weg te steek nie, en as enige van die gevangenes my daaroor gevra het, het ek ja gesê, maar ek het dit nooit self genoem nie. Ek het dit ook so gou moontlik tersyde geskuif, want ek het nie gedink dis relevant tot hul rehabilitasie nie."

Sy gesig lyk byna streng. "Om 'n kliniese sielkundige te wees, is nie 'n maklike taak nie, en wanneer jy aansoek doen en die posisie aanvaar, aanvaar jy verantwoordelikheid, en kan jy nie daarvan afstand doen nie. Ek het myself gedwing om in my vermoëns te bly glo, en die feit dat ek aangehou het om na die gevangenis te gaan, was die beste ding wat ek maar kón gedoen het."

En ja, antwoord hy steeds beheersd. Daar wás tye dat hy kwaad was, maar meestal was dit omdat hy teleurgesteld was oor die vordering tussen hom en die gevangenes. Hy aarsel. "Waar daar wel 'n bietjie woede was, was wanneer die gevangene die slagoffer se familie of geliefdes gering geskat het. Ek sou dalk effens strenger wees of iets sê soos: 'Hoe dínk jy het sy vrou gevoel?? Maar dis baie belangrik dat 'n terapeut nie sy eie onverwerkte woede of gevoelens na 'n pasiënt oordra nie, anders kan jy nie die werk doen nie."

Maar 'n terapeut kan nie altyd in beheer bly nie: veral nie as hy van aangesig tot aangesig kom met die moordenaars wat sy lewensmaat van hom weggeneem het nie.

Die eerste keer toe hy hierdie mans gesien het, was op Paassondag, 'n dag voordat hy uitgevind het Richard is dood. Hy haal diep asem. "Toe ek uitvind Richard is weg, het ek dit by die Kampsbaai-polisiekantoor gaan aanmeld, en hulle (die moordenaars) was daar. Hulle is opgetel weens nalatige bestuur en hulle het Brett se kredietkaart by hulle gehad. Dis hoe ons uitgevind het."

'n Oomblik dwaal sy blik weg na die venster se kant. "Ek kan dit nie bespreek nie, maar ek het hulle gesien, en daarna in Wynberg tydens verskeie hofverskynings. Dis verskriklik om saam met hulle in dieselfde kamer te wees, skokkend, maar gelukkig kon ek fokus op waarom ek daar was."

Waar hy wel gesukkel het om sy gevoelens te beheer, was in Mei verlede jaar in die Kaapse hooggeregshof, toe 'n pleitooreenkoms tussen die verdediging en die staat aangegaan is. Op dié dag is Shavaan Marlie en Clinton Davids tot effektief 28 jaar tronkstraf gevonnis.

Bryan sluk. "Vanaf die eerste dag toe ek uitgevind het Richard en Brett is vermoor, het ek nooit daarop staatgemaak dat sy moordenaars gestraf sou word, of daarop gekonsentreer wat met hulle sou gebeur nie. Ek het op my eie verlies gefokus. Ek het nie gedink Richard sou wou hê ek moet hatig en wraaksugtig en gegrief voel nie. Dit sou hom nie terugbring nie."

Tydens die pleitooreenkoms het hy egter gesukkel om "die hype" rondom die gebeure te hanteer. Boonop moes hy saam met Richard en Brett se ouers na die ooreenkoms kyk en in die hof luister na sy geliefde se laaste oomblikke. Hy kyk reguit voor hom uit, amper sonder om 'n oog te knip. "Dit was een van die verskriklikste dae wat ek kan onthou. Om in 'n hofsaal te sit en te luister na wat hierdie twee mense aan my lewensmaat gedoen het, met sy ma aan my een kant, en Brett se ma aan die ander, was ysingwekkend."

Tog, vreemd soos dit mag klink, is Bryan nie in sak en as oor misdaad in die land nie. En nee, hy dink nie die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, Susan Shabangu, se stellings dat die polisie "die bastards" (misdadigers) moet doodskiet, is die oplossing nie.

Vir hom lê die oplossing eerder daarin dat geregsdienaars meer betaal moet word; dat die gemeenskap meer respek en verantwoordelikheid aan hulle moet gun. Hy dink na. "As gewone burgers van hierdie land moet ons meer aktief word in ons reaksies. In plaas daarvan om te emigreer, moet ons as 'n gemeenskap en as bure meer aktief word."

En as 'n gewone burger van hierdie land fokus hy deesdae veral op die positiewe dinge wat sy ervaring hom geleer het.

Hartseer, verlies en die rouproses het 'n belangrike fokus van sy werk geword, en hy lei verskeie terapeutiese en steungroepe wat mense hiermee help.

Hy't ook 'n woordvoerder vir die Richard Bloom-stigting geword, wat deur Craig Port in die lewe geroep is om 'n student in mode-ontwerp se derdejaarkursus te betaal en so Richard se nagedagtenis te verewig. In die laaste jare van sy lewe het Richard vir Port, 'n goeie vriend, se handelsmerk, Maze, gewerk. Die volledige opbrengste van Soul Conductor sal nou na die stigting gaan.

Intussen, al is die seer al heelwat minder, is rituele steeds belangrike merkers van sy gevoelens. Hy blaai saam met my deur die foto-album wat hy op 23 Julie 2006, die dag toe Richard 28 sou word, gemaak het.

Op daardie dag het hy heel eerste vir Richard 'n verjaardagkaartjie geskryf, waarna hy op die strand 'n kers aangesteek en vir hom gesing het. Met die branders wat breek het hy die verjaardagwens hardop gelees ? vir hom "'n magiese ondervinding" omdat hy op daardie dag ?n intense konneksie met sy dooie lewensmaat gevoel het. Terug by die huis het hy die foto's gekies omdat hy geweet het "Richard was daar, langs my" om hom by te staan.

Vanjaar, met die herdenking van Richard en Brett se dood, was daar weer 'n ritueel: Op die 16de van verlede maand is hy strand toe, waar hy ?n gebed opgesê het en een van die klippe wat by Richard se roudiens uitgedeel is, in die see gegooi het. Sy gesig bly beheersd. "Ek het ook blomme geneem na die perseel waar Richard en Brett geskiet en gevind is. Daar gekom het ek die roubeklaer se kaddish opgesê, 'n gebed wat ons in die Joodse geloof opsê vir die dooies." Want terwyl Richard, in die tyd toe hy die boek geskryf het, nog 'n baie werklike teenwoordigheid was, is hy nou "op 'n goeie plek in my hart en in my kop". Hy weeg die woorde. "Ek praat nog die heeltyd met Richard, amper soos met 'n denkbeeldige vriend, maar daar is nie meer daai obsessie, byna soos 'n waanbeeld, dat hy nog bestaan nie."

Die tyd neem immers sy beloop, en kort ná die pleitooreenkoms het hy uit die woonstel getrek waar hy en Richard saam gewoon het na sy eie plek in Seepunt. Dit lyk of hy opweeg of hy dit moet sê. "Die pleitooreenkoms was die begin van die afsluitingsproses, en kort nadat ek getrek het, het ek weer betrokke geraak by iemand."

Hy aarsel, glimlag dan. "Ek benader die verhouding op 'n heel ander manier, maar ek is ontsettend dankbaar en gelukkig dat ek weer daardie gevoelens het ? en ek hét. Daar's 'n nabye verbintenis en ons is lief vir mekaar, dis wonderlik." Sy foon lui en hy maak die album, wat steeds op sy skoot lê, toe. "Vir my was daar nie ander keuses nie, net die keuse om te groei."

Hy staan op en vir 'n oomblik lyk hy bomenslik stoïsyns. "Ek het die belangrikste mens verloor wat ek ooit gedink het in my lewe sou wees, maar ek het nooit toegelaat dat woede die oorhand kry nie."

Bykomende bronne: Soul Conductor, a tale of grieving and healing deur Bryan D Hellmann, en Naspers-argiewe.

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |