Sorg só vir die aarde én jou gesin
Om eko-vriendelik te wees is lankal reeds mode skryf Liezel Joubert.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


By: Volbloed
May 12 2008 12:13:06:407PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hokaai, ha-nou, oubaas se perd. By vanjaar se veiling van jaaroudvullens van die Volbloedtelersvereniging by Gosforthpark in Germiston het dit buite die skou-arena soms 'n sterk hand en ook bloedsweet geverg om die lewendige, blink geroskamde jong perde rustig te hou te midde van al die gedruis om hulle. As 'n baldadige perd so op die nippertjie by die veiling 'n besering opdoen ná al die tyd en geld wat sy verkoper in hom belê het, is dit 'n swaar slag. Foto: Nardus Engelbrecht

Die internasionale renperdbedryf sit regop oor Suid-Afrikaanse renperde se skitterende welslae die laaste jare in eersterangse wedrenne oorsee, veral hul oorwinnings verlede maand oor van die wêreld se beste renperde in die Wêreldbeker-wedren in Doebai en die Audemars Queen Elizabeth II Cup-wedren in Hongkong. Kirby van der Merwe het agter die galop van dié peperduur perde probeer kom.

“It doesn’t matter where you start, sir, it’s where you stop!” Die afslaer Steve Davis, wat van Auckland, Nieu-Seeland, ingevlieg is, skerts met een van die kopers wat vir vanaand se veiling van jaaroudvullens die ouditorium van die Volbloedtelersvereniging se verkoopkompleks by Gosforthpark in Germiston vol sit.

Want dit is die keuraand van die beste, die room van volbloedvullens wat in 2006 gebore is. Davis, ’n spesialis op sy gebied, gaan saam met twee gesoute plaaslike afslaers, Mike Killassy en Andrew Miller, die eerste 90 vullens uit altesame 600 in die katalogus opveil. Die res kom ’n paar dae later aan die beurt.

Dié veiling is die vertoonvenster van die plaaslike volbloedtelersbedryf en ’n geleentheid wat al hoe meer oorsese kopers lok.

Drie jaar gelede is die vul Wonder Lawn – seun van Fort Wood, ’n ingevoerde stoethings uit die VSA – op die nasionale jaaroudveiling vir die rekordprys van R3,3 miljoen verkoop.

Maar kyk net in die katalogus – al die vullens se bloedlyne kan deur die bank geslagte teruggevolg word. Almal is die produk van noukeurige seleksie en teling. Almal het kampioene in hul bloedlyn, sommige legendariese renperde soos Nijinsky II (Kanada) en die Amerikaanse Danzig, Secretariat, Gone West en Royal Academy.

Die bloedlyne word hier voortgesit deur ingevoerde teelhingste soos Jet Master, Jallad, Western Winter, Var (sy grootvaar, Storm Cat, se stoetfooi – om ’n vul by ’n merrie te verwek – is ’n byna ongelooflike $500 000 – byna R4 miljoen), Fort Wood en Al Mufti (almal van die VSA).

Wilgerbosdrift, die stoetplaas van Mary Slack – die dogter van Harry en Bridget Oppenheimer – bied die hingsvul White Hills (lot 19) aan. White Hills se vaar, die Britse perd Pivotal, is met ’n ?80 000-stoetfooi (byna R2,2 miljoen) seker een van die duurste stoethingse ter wêreld. (White Hills is vir R2,5 miljoen verkoop.)

Maar die telers en kopers weet waarna hulle op die veiling kom soek, kom jy agter. En die bieëry vanaand is bloot formaliteit: Telers en eienaars of hul agente het dae tevore reeds die vullens by die stalle op die perseel bekyk en geïnspekteer. Huiswerk is gedoen en besluite is geneem.

In dié stadium, veral met die pryse wat hulle haal, behoort jy te weet wat jy wil aanskaf, sê die Natalse afrigter Wendy Whitehead, hier langs my.

“Nou hang dit af hoe diep jou sakke is of hoe graag jy ’n spesifieke perd wil hê. Sommige perde staan gehaltegewys en in hul bloedlyn kop en skouers bo die ander uit en hulle kom met reserwepryse wat hulle buite jou bereik plaas.

“En die kopers van Amerika, Australië, Frankryk, Doebai en Hongkong is hier om die beste te koop.”

Kopers word sterk aangeraai om al die perde waarin hulle belangstel, noukeurig te ondersoek, persoonlik of deur ’n agent of veearts van hul keuse, want as die bod eers op jou toegeslaan is, moet jy met jou koop in sy huidige toestand saamleef – met alle sigbare en latente foute, gebreke en misvormdhede. Jy kan nie ná die tyd kop uittrek of die perd later terugbring nie.

Behalwe as jou kopie ’n “windsucker”, ’n “weaver”, ’n “wobbler” of ’n “bleeder” is of enige sigprobleme het.

Dan kan jy jou geld terugkry as die verkoper versuim het om dit vooraf onder die amptenare en afslaer se aandag te bring.

Daar is ’n sirkusgevoel in die ouditorium – dalk vanweë die vorm van die gebou, wat in sy agtkantige vorm en grootte herinner aan ’n massiewe sirkustent; dalk as gevolg van die manier waarop die sitplekke soos ’n amfiteater om die klein skou-arena gerangskik is; of dalk vanweë die reuk van perdemis en strooi.

Daar is afwagting om te sien wat die veiling gaan oplewer . . . ’n nuwe rekordprys; dalk ’n nuwe ster.

In die parade-ring buite die ingang na die ouditorium wag die perde blink geroskam en genommer in gelid vir hul kans in die arena.

Dis spannende oomblikke vir die eienaars: Alles kan hier en selfs in die arena skeefloop as ’n perd nou ’n besering opdoen . . . Drie jaar se beplanning, insette en voorbereiding kan met ’n skop, ’n kopstamp ongedaan gemaak word.

Die stalknegte probeer die kragtige diere in hul sorg kalm hou te midde van die skare, die vreemde reuke, die spreiligte en die kakofonie uit die luidsprekers.

Die eerste vul in die arena is ’n voshaarmerrie van die Ascot-stoetery met die naam So Impressed. Met ’n vaar soos Al Mufti het sy ’n bloedlyn wat skrik vir niks. Maar soos by enige veiling is die verkoper nie seker of die perd wel ’n koper gaan kry en of die perd die reserweprys gaan haal nie. Dalk word sy onverkoop teruggestuur stalle toe.

Elke perd het net enkele minute in die arena. Daar word nie tyd verspil nie en die afslaer val weg met die vul se bloedlyn en hoedanighede die oomblik dat die perd die arena binnekom.

Terwyl die perd in die arena sirkel, probeer hy die prys so hoog moontlik opjaag en die koop beklink. Die bedrag waarop die bod toegeslaan is, flits in rooi syfers bokant die deurgang. So Impressed gaan aan ’n Amerikaner vir R550 000.

Lot 4 haal R1 miljoen; lot 5 en 6 bly onverkoop; lot 8 kry R150 000; lot 15 gaan vir R2,2 miljoen (applous) na ’n koper in Doebai; White Hills van Mary Slack kry R2,5 miljoen (groot applous); en lot 21, ook van Wilgerbosdrift, kry R2,6 miljoen (respekvolle applous).

Lot 63, Romanesque, ’n telg van nog ’n oorsese stoethings, Royal Academy, is vir R3 miljoen aan Allan Bloodlines verkoop. Romanesque is deur die Klawervlei-stoetery van mnr. John Koster te koop aangebied (staande applous). Die laaste perd van die aand, 'n rooibruin merrievul (lot 90) sonder naam van die Cheveley-stoetplaas in Ceres, stap ook weg met R3 miljoen. Ja-nee: "It doesn?t matter where you start, sir, it's where you stop!"

En so het die 2008 Emperor's Palace-veiling verloop. Die veiling het oor die drie dae 'n rekord-omset van 'n raps onder R200 miljoen opgelewer, 21% hoër as verlede jaar se omset van R162 miljoen.

Altesame 501 vullens is uiteindelik verkoop teen 'n gemiddelde prys van R398 503 elk. Dit is 19% hoër as verlede jaar se R334 466.

Altesame 42 van die vullens is onttrek, 57 het nie hul reserweprys gehaal nie, maar 27 vullens is vir meer as R1 miljoen elk verkoop. Sewe is vir meer as R2 miljoen elk opgeveil en twee het op die keuraand R3 miljoen gehaal.

Highlands Farms-stoetery in Robertson in die Wes-Kaap was die voorste stoetery (38 verkoop vir R19,4 miljoen) en die groep Form Bloodstock (29 gekoop vir R24 miljoen) die voorste koper.

Die 51 vullens van Suid-Afrika se top-stoethings, Jet Master, was baie gewild en sy kroos het saam R25 miljoen gehaal. Riethuiskraal was met R1,8 miljoen die stoetery met die hoogste gemiddelde prys per vul.

Ene Blandford van oorsee het drie vullens vir R5 miljoen gekoop en was die individuele koper met die hoogste gemiddelde. Maar die verkoper kan nie waarborg dat daardie duur vul ooit 'n renbaan aan die brand gaan nael nie.

Vaughan Koster staan 'n week ná die veiling langs een van die kampe op die plaas en kyk na sy een groep stoetmerries en hul jongste vullens.

Die Koster-familie se Cheveley-stoetery hier in die ietwat droër deel van die Ceres-vallei in die Wes-Kaap het hom gevestig as een van die voorste stoeterye in die land.

Die Kosters het dié gebied gekies, want dit is naby ander stoetplase en dus maklik om merries by stoethingste te kry sonder om groot afstande af te lê.

Maar ook omdat die gebied uiterstes in temperatuur beleef: "Ons teel geharde perde. Ons draai nie ons perde in watte toe nie. Hulle bly buite in die kampe sodat hulle kan vry wees, soos perde veronderstel is om te wees."

Lot 90 is hier bedink en geteel. Sy is op 30 September 2006 gebore, maar volgens die konvensie verjaar sy soos alle renperde op 1 Augustus.

Koster laat rus sy stewel op die onderste heiningpaal. "Jy weet, dis byna 'n verligting as die afslaer se hamer neerkom. Ek ontspan eers regtig as die vul veilig by sy of haar nuwe eienaar se plaas is.?

Lot 90 se nuwe eienaar is die bekende wynmaker Graham Beck, wat ook een van Suid-Afrika se voorste renperdeienaars en -telers is. Hy het die merrievul vir sy Highlands-stoetery buite Robertson aangekoop.

Al Beck se perde word deur sy vrou, Rhona, 'n naam gegee. Sy is in die VSA en Lot 90 sal op haar naam moet wag totdat Rhona terugkom.

Lot 90 se ma, die Ierse merrie Mystic Spring, wei met haar jongste spruit tussen die ander teelmerries in die kamp op die Cheveley-stoetery. Koster sê dié jong vulletjie, so 'n roesbruine, is die beste van die jongste oes en 'n goeie kandidaat vir volgende jaar se veiling.

Maar hy was self oorbluf oor die prys wat die merrievul gehaal het, sê Koster. "Ek dink ons was net gelukkig, want die laaste twee, drie jaar het die pryse van jong merrievullens die hoogte ingeskiet."

Dis omdat baie mense in die telersbedryf probeer inkom. Kopers wat premiumpryse vir 'n perd betaal het, wil deur met die dier te teel die geld terugwen."

Hoe teel jy ?n R3 miljoen-vul?

"Jy het ?n beter kans op ?n wenner met 'n perd uit ?n goeie bloedlyn,? verduidelik Koster.

"Jy werk gewoonlik op 'n twee-en-'n-halfjaarplan.

Daarvolgens beplan jy 'n paring sodat die merrie kort ná 1 Augustus vul. En met die doel om 'n perd te teel wat die potensiaal gaan hê om te galop.

"Elke teler het 'n ideaal van hoe en wat so 'n perd behoort te wees, maar daar's geen reëls nie. Perde maak gekke van almal."

Hy lag: "So gou jy dink jy verstaan 'n perd, kom hy terug en byt jou."

Dis nie altyd die duur perde wat kan galop nie: 'n voorbeeld is die merrie Sun Classique, wat skaars R100 000 op die jaaroudveiling gehaal het. Sy kon nie haar reserweprys van R300 000 haal nie. Gelukkig vir haar kopers, Lionel Cohen en Warne Ripon.

"Hulle het haar deur Mike de Kock laat afrig en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Die perd het die groot Doebai-kampioen geword."

In teenstelling met Sun Classique het Wonder Lawn, wat teen R3,3 miljoen aangekoop is, nie veel impak op die renbaan gemaak nie.

?Lot 90 se bloedlyn maak haar gesog," sê Koster. "Haar vaar is die stoethings Western Winter van Mike Rattrey se Lammerskraal-stoetery ? een van ons buurplase."

Koster klim deur die heining en die perde kom nader: "Western Winter se stoetfooi is tans R250 000. Vooropbetaalbaar. Dus is 'n teler van die staanspoor op die agtervoet. Dan moet jy nog 'n vul produseer en duim vashou dat jy darem 'n gangbare vulletjie vir jou insetkoste kry.

"Teen die tyd dat jy die perd ná byna drie jaar verkoop kry, het dit jou (met voeding en arbeid, veeartskoste, assuransie, vervoerkoste en hoefsmidkoste) reeds ?n aansienlike bedrag uit die sak gejaag.

"Daarom maak dit sin dat 'n teler bereid moet wees om te betaal om die beste merrie met die beste stoethings te paar. En met Western Winter is jou kans op ?n kampioen baie groot."

Dié stoethings se nageslag erf hul pa se magtige treë en sy krag. Onder sy nageslag tel onder andere Yard-arm, Ice Cube, Winter Solstice, Oracle West en Argonaut.

"Gelukkig was lot 90 van geboorte af 'n wenner," sê Koster. Hy gee 'n laggie: "Ek moet erken ek het haar baie keer so staan en kyk en myself afgevra: Waarom moet ek haar verkoop?"

Hy antwoord sy eie vraag: ?Maar ek is 'n kommersiële teler en die doel is juis om so 'n kwaliteitperd te teel én om van so 'n merrie te teel."

Hy kug: "Uiteindelik gaan dit oor brood en botter . . . Ons is in die bedryf om perde te teel en om perde te verkoop en met die soort geld wat ons vir haar kon kry, kon ons nie bekostig om so 'n perd vir onsself te hou nie.

"Want uiteindelik moet jy jou boeke laat klop. Jy weet, op elke stoetplaas sal jy perde kry wat vir gemiddeld R50 000 verkoop, maar dit is perde wat dieselfde behandeling (behalwe dalk vir die assuransie) as lot 90 gekry het, ook ander perde wat deur Western Winter verwek is en wat vir R400 000 verkoop is.

"Ja, jy maak inderdaad 'n klomp geld op een perd, maar op ander breek jy gelyk."

Hy haal skouers op oor die vraag of sy sukses hom statuur onder ander telers besorg het: "Wel, jy is so sterk soos jou laaste sukses ? die renperd wat jy geteel het of die perd wat jy verkoop het. Sukses is nie iets wat sommer oornag gebeur nie. Jy moet bewys dat jy kampioen-renperde, atlete, kan produseer."

Hy wil perde teel wat goed vaar in Doebai, maar veral die Europese renbane aan die brand sal hardloop: "Indien ek in die toekoms nie wenperde kan produseer nie, is ons geloofwaardigheid ook daarmee heen.

"Al wat ek wil doen, is om sterk, gelukkige perde te teel."

Gepraat van 'n sterk, gelukkige perd. Wat maak Western Winter daar oorkant op Lammerskraal?

"Westie is koning, die baas, en hy weet dit," sê Sally Jordaan, die bestuurder en 'n direkteur van Lammerskraal. "Western Winter het die eienskappe van 'n perfekte renperd. As jy na hom kyk, kan jy sien waarom hy so 'n gewilde stoethings is."

Van stoethingste van die kaliber van Jet Master en Western Winter word verwag om minstens 120 tot 150 merries per jaar te dek. Maar Jordaan en Mike Rattray, Lammerskraal se eienaar, beperk Western Winter tot 70 merries per jaar "vir sy gesondheid en sy vrugbaarheid".

"Ons pas hom op," sê Jordaan. ?Die perd is 'n fortuin werd. Dink aan wat sy jaarlikse stoetfooie tot die plaas bydra.

Net dié perd alleen. Dan haal sy kinders gemiddeld R1 miljoen elk op 'n veiling en sy nageslag verdien miljoene op renbane in die buiteland."

Hoe lank kan die perd dié pas volhou?

Jordaan lag: "Almal vra my dié vraag. Hy kan maklik 26 jaar oud word, dus het hy nog tien jaar oor."

Nico Hanekom, Western Winter se stalkneg, sê hy besoek die perd drie keer per dag: "Ek gaan soggens direk van die huis af tot by die perd. Ek krap sy voete uit, kyk vir enige stukkende plekke, kyk dat hy nie siek lyk ? soos koliek en daai klas goed ? of mank is nie." Hy rapporteer alles aan Jordaan.

Die perd word elke oggend, behalwe Sondae, gebring om vir 'n halfuur op Lammerskraal se "horse walker" te draf. Jordaan sê hulle hou hom fiks: "Die teelseisoen is harde werk." Inderdaad. Soos Hanekom sê: ?Western Winter? Hy's 'n ordéntlike perd!" /p>

>> 9

V


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |