Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Spatsels van hoop in Soweto
Op 16 Junie 1976 was ek predikant van die NG gemeente Primroseheuwel. Dit was die dag van die Soweto-skoolopstande. Dit was ’n koue wintersdag, en die dae daarna was bitter koud. Die gemeente se vroue het groot potte sop gekook, en dit is gebruik om die polisiemanne wat opgeroep is, te ondersteun deur die koue dae en nagte van patrolliediens. Saans kon ons uit die pastorie, hoog op die Primrose-rant, die gloed van die brandende Soweto sien. Dit was ontstellend, maar op ons jaar oue TV het John Vorster verklaar dit moet alles in perspektief gesien word. Die VSA het ook maar sy skoolopstande gehad, en dit het oorgewaai. Ook hierdie sal verbygaan . . . Onlangs, byna 32 jaar later, besoek ek die Hector Pieterson-museum in Soweto. Ek kon nie anders as om skaam en verleë te voel toe ek vir my buitelandse gaste moes verduidelik waar ek my destyds emosioneel en fisiek bevind het nie. Hoe kon ek so oningelig gewees het? Waarom het ek met sulke oogklappe deur die lewe gegaan? Was dit werklik die enigste en beste leiding wat ek aan ’n gemeente aan die ander kant van Johannesburg kon gee, om toebroodjies en sop vir polisiemanne te maak? Nie dat ek dink dit moes nie gedoen gewees het nie. Daar was sekerlik menslikheid en lyding aan albei kante. Maar ek voel so skaam oor die gebrek aan diepte in my teologiese en politieke uitkyk op die situasie van 30 jaar gelede. Ek wonder ook of ek as jong dominee in staat was om in daardie veelbewoë tyd beter leiding te gee? Terwyl ek na die uitstallings en foto’s kyk en na die hoorbeelde luister, kan ek nie anders as om trane van selfverwyt en berou weg te sluk nie. Terwyl ek kyk na die foto van die lewelose Pieterson wat deur ’n groter seun gedra word, met die huilende sussie langsaan – die foto wat Soweto in 1976 op die hele wêreld se kaart geplaas het – kom daar ’n gevoel van magteloosheid oor my. Magteloosheid oor die wanbegrip en rassisme wat steeds deel van die Afrikanergroep is. Twee opmerkings van die oggend voor ons vertrek weerklink in my ore. ’n Man het gesê: “Vat jy hulle Hector Pieterson toe? Vat hulle liewer Bloedrivier toe!” ’n Vrou het gesê: “Wat! Gaan julle soontoe? Ek wil dit nooit sien nie!” En ek wonder of ons ooit ons geskiedenis in die oë sal kan kyk en ’n reënboognasie kan wees. Tog het ek met meer as net hartseer en verslaenheid van die museum weggery. Ek was opgelug en hoopvol. Want die spatsels van hoop wat ek daar ervaar het, het die lagie roet oor my siel afgewas. Dit was meestal kinders wat my hoop gegee het. Daar was die kindergesigte van 1976-foto’s in die museum, kwaad en beangs; en daar was die gesigte van skoolgroepe wat ook deur die museum geneem is, vrolik en verwonderd. Terwyl ons deur die museum stap, is ons as’t ware vasgevang tussen die kindergesigte van 1976 en van 2008. Die foto’s vertel die verhaal van kinders wat met hul aksie en offers die geskiedenis van ons land help omkeer het. Die woelende, vrolike maar goed gedissiplineerde kinders met hul entoesiastiese onderwysers vertel weer die verhaal van ’n nuwe nasie in wording. Die totale ervaring vervul my met ongelooflike hoop en dankbaarheid. Dankbaarheid dat ons land gered is en hoop vir ’n beter toekoms. Op die terugreis deur die strate van Soweto gesels ons oor die wonder dat die gebied wat 30 jaar gelede net ’n swart kol op ’n padkaart was, nou ’n toeganklike, skoon en geordende Afrika-stad van miljoene is. Ons draai in by die blinknuwe Maponya Mall en geniet middagete. Ons is meestal stil, maar deel ons uiteenlopende gevoelens met mekaar. Aan die een kant diep bewus van die ongelykhede en rassisme wat steeds deel van ons samelewing is. Aan die ander kant bemoedig deur spatsels van hoop. . Prof. Müller is ’n bekende teoloog.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|