Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Droom jou kind ook oor Idols?
Daar gaan byna nie ’n week in Suid-Afrika verby sonder nog slegte nuus oor die onderwysstelsel nie. Om maar enkele voorbeelde uit die laaste maande te noem: Dit blyk dat studente uit ’n gegoede agtergrond hulle tot misdaad wend om duur leefstyle te finansier; geweld in skole, ook teen onderwysers, bereik hoë vlakke; tienerselfmoorde neem toe. Afgesien van die lang lys foute met die onderwysstelsel, is daar ’n ewe lang lys oorsake hiervoor. Om ’n deeglike ontleding van die probleem te doen, is iets wat nie in ’n rubriek soos hierdie gedoen kan word nie. Wat ons wel kan doen, is om kortliks aandag te gee aan die verband tussen die gesin en die skool. In ’n bespreking van Star Academy, die Franse ekwivalent van Idols, ontleed Bernard Stiegler die reeks se gewildheid teen die agtergrond van die vraag na erkenning (in band twee van De la misère symbolique – “Oor die simboliese ellende” – Parys: Galilée, 2005). Stiegler wys op iets wat al hoe meer ouers en onderwysers in Suid-Afrika ook ervaar, naamlik dat TV-kanale en -reekse gemik op die jeug, jeugwebwerwe, selfone en die internet toenemend jongmense se verwysingsvorm word, in plaas daarvan dat die skool dit doen. As ’n mens in ag neem dat die skoolstelsel geslagte van landsburgers oor die laaste twee eeue wêreldwyd gevorm het, is hierdie ’n ongekende toedrag van sake. Waar die inhoud wat die skool aan leerlinge oordra, die toets van die tyd deurstaan het en ook gekies word om hul karakter te vorm, kan dieselfde nie van jeugmedia en kommunikasietegnologie gesê word nie. Soos al meermale in hierdie rubriek uitgewys is, is mense se aandag vandag die belangrikste kommoditeit in die ekonomie, want deur hul aandag te hou, kan jy dinge aan hulle verkoop. Jeugmedia is ’n integrale deel van dié patroon en gemik daarop om jongmense se aandag met die nuutste foefie te vang – van duursaamheid en karaktervorming is hier nie sprake nie. Om die punt te bewys: Hoeveel kykers van Idols kan ses maande ná ’n reeks sê wat van die wenner geword het? Stiegler toon aan hoe al hoe meer jongmense vir erkenning van jeugmedia afhanklik word. Om dit met ’n voorbeeld te demonstreer: Iemand wat vandag in matriek agt onderskeidings behaal, het nie naastenby dieselfde status as ’n Idols-wenner nie. En vir elke leerling wat droom van agt onderskeidings in matriek, is daar duisende wat daarvan droom om op Idols te verskyn. Volgens Stiegler maak mense dikwels die fout om hierdie statusverlies van die skoolstelsel op die skoolstelsel self te blameer, hoewel dit, veral in Suid-Afrika, natuurlik glad nie ongeldig is nie. Nee, sê hy, die eintlike oorsaak daarvan dat jongmense se sug na erkenning toenemend aan jeugmedia gekoppel word, is die wyse waarop die gesin in die eerste plek vandag gedegradeer word. Anders as in konserwatiewe geledere, waar die gesin dikwels as die hoeksteen van gesag uitgemaak word (George Bush se “family values”), wys Stiegler daarop dat die gesin die eerste omgewing is waar die kind se “oernarcisme” gekultiveer word. Hiermee bedoel hy dat die kind se sin vir die self, gevoed vanuit sy begeertes, in die gesin erken en gevorm kan word. Enige ouer van ’n klein kindjie sal byvoorbeeld kan sien hoe belangrik die begeerte na opheffing by die kind is: om opgetel te word, om te kan loop. Maar ook geestelike opheffing: om meer te wil weet; om self ’n boekie te kan lees. Die wyse ouer wat hierdie begeerte na opheffing erken en stuur, vorm sy kind se karakter soos geen ander instelling dit kan doen nie. Die erkende kind is reeds teen die tyd dat hy skool toe gaan, genoegsaam gevorm om nie so vatbaar vir die misleiding van jeugmedia te wees nie. As die kind ook gelukkig genoeg is om dan in ’n voortreflike skool te beland, is sy kanse nóg kleiner om erkenning op die verkeerde plekke te soek. ))) MAAR die prentjie wat ons hier skilder, is een wat die meeste Suid-Afrikaanse kinders nie ken nie. Die verskynsel dat ouers ure per dag op die pad moet deurbring om by die werk te kom, beperk hul tyd vir betrokkenheid by hul kinders en by skole – in so ’n mate dat veral baie arm en baie ryk skole dikwels met lae vlakke van ouerbetrokkenheid worstel. Met verwoestende gevolge vir die kinders. In so ’n situasie kan kinders se karakter en goeie oordeel nie gevorm word nie en sal hul sug na erkenning noodwendig elders bevredig word. Presies op hierdie punt is hulle vatbaar vir die valse, vervlietende erkenning van jeugmedia. Geestelike siektetoestande soos kinders wat droom van “bekend wees”; studente wat misdaad pleeg om duur handelsmerk-artikels te koop; en leerlinge wat hulle tot geweld wend om erken te word, kom binne hierdie konteks voor. Om dus die foute in die skoolstelsel te herstel, beteken om ook na die media, die ekonomie en die gesin te kyk.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|