Peetkinders
Huise is nie jaloers nie. Huise is lankmoedig en vriendelik, word nie verbitterd nie en reken die kwaad nie toe nie.
Beeld
Drienasies-rugbyreeks van 2008
Die bepalings, uitslae en puntestand.
  • Statistieke van Curriebeker-reeks
  • Statistieke van die Super14-reeks
  • Jou wêreld, Jou koerant
    Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
    Vennote


    By: Ouma Bangmaak se mensbome
    May 09 2008 08:53:32:753PM  - (SA)  

     Druk artikel
     E-pos storie aan 'n vriend
    Fanie Viljoen is 'n kinder- en jeugverhaalskrywer van Bloemfontein. Sy jeugroman Onnderwêreld het onlangs die Silwer Sanlam-prys vir jeuglektuur gewen. Die boek verskyn in Augustus.

    Op my knieë sit ek, voor die boom, en tjank. Die reuk van goed wat vrot walm om my. Toe die veldgoggas stilskrik, kyk ek oor my skouer. Deur die trane sien ek haar staan. Hande in die sye, lyk dit my. Dit is te donker om regtig te weet. Ek vee die trane weg met my voorarm. En toe is sy weg.

    Die eerste dag. Ek is in die sitkamer. My rug is al seer van regop sit. Uit die hoek van my oog hou ek haar dop. Ouma Bangmaak. Grys hare. Streng, blou oë. Hande soos ’n man s’n. Maar hulle gryp die hekelgare steeds raak, krul dit om die naald, trek dit deur. Vinnig.

    “Wat kyk jy?”

    “Niks, Ouma.”

    “Moet dit dan nie doen nie, dis ongeskik.”

    “Ja, Ouma.”

    Ek kyk na die punte van my skoene. En ruik hoe die kos in die kombuis gaar kook.

    Alleen in die bed die aand dink ek aan my ma. Ek wens sy was nou hier. Ek wil nie hier bly nie. Sy was reg oor Ouma Tommie, ek weet dit nou.

    “Mes en vurk!” blaf sy met ontbyt. “Here tog, jy’s tien. Eet met ’n mes en vurk. Kyk hoe lyk jou hande.” Ek sit die gebakte eier terug in die bord en kyk na die geel strepe oor my vingers. Lek hulle af. “Sies!”

    Daar is nie ’n TV in die huis nie. Ouma sê sy soek nie die duiwel se oog onder haar dak nie. “Lees ’n boek.”

    “Ek hou nie van boeke nie.”

    “Kan jy ooit lees?” vra sy kortaf. Ek knik. “Ons sal vanaand sien. Jy kan uit die Bybel lees. Hardop. En bid. Jy weet van bid, nè kind?” Haar oë is sonder genade.

    Ek antwoord nie. In my bors slaan my hart al teen my ribbe. Hardop lees en bid.

    “Gaan speel buite. Jy kan nie heeldag in die huis sit nie. En jy los die volk. Hulle het werk om te doen.”

    Ek gaan sit in die tuin onder ’n boom en kyk terug na die huis. Die groen dak soos riffelbokskarton oor die sonwit mure gespan. Een keer sien ek Ouma Tommie in die skadu van die deur staan. Spookagtig dun teen die donker. Ek hoor haar later roep na die plaasvoorman. Sien hom van die kraal aangestap kom. Veldklere. Swaar stewels. Hoed op die kop.

    Die son skuif hoër. ’n Ligkaatsing tref my oog toe ek my kop draai. Dadelik lig ek my hand en keer. Ek loer deur my vingers en sien die blink ding teen die boom. ’n Stukkie spieël? Ek staan op en gaan kyk.

    Marthinus du Toit

    Gebore 12-03-1975

    Een van my ooms, dink ek. My ma het al gepraat van ’n Thinus. ’n Entjie verder is nog ’n boom. Ook hy het ’n plaatjie teen die bas vasgespyker.

    Linda du Toit

    Gebore 04-09-1998

    Een van my niggies? Ek is nie seker nie.

    Ek begin van boom tot boom loop. Almal het naamplaatjies. Almal geboortedatums. Twee het sterfdatums.

    Ooms, tannies, neefs, niggies. Almal staan hier om my. Kyk af na my uit die hoogtes van hul takke.

    Met aandete kom nestel ’n vraag in my kop. Sonder om te dink vra ek: “Ouma Tommie, waar is my ma se boom?”

    Dit is net ons twee aan die tafel, maar skielik is dit of die eetkamer vol mense word wat asem intrek. In daardie oomblik weet ek dit was dom van my. Ouma Tommie se mes en vurk klink neer op haar bord. Haar stoel skuif agtertoe oor die houtvloer. Sonder om na my te kyk, sê sy: “Jy kan môre-aand lees en bid.” ’n Rukkie later klap haar kamerdeur toe.

    My ma se boom. Daar is nie een vir haar nie. Ek het goed gekyk.

    My oë volg die pad van die maanligstraal teen die kasdeur. Weer alleen in my bed. Plaasgeluide dring van buite af deur die venster. Ek knyp my oë toe en verbeel my ek kan hulle nie hoor nie, vergeefs. Iewers in daardie nag skrik ek wakker en besef: Daar is ook nie vir my ’n boom nie!

    “Jou ma se boom,” sê Ouma Tommie skielik agter my toe ek die volgende dag my tande borsel. “Ek het hom afgekap.”

    Net dit. Toe loop sy weer.

    Ek staan daar. Bewegingloos. Die tandeborsel wat skuimerig in my mond hang.

    Ek kry die boomstomp later die oggend. Of ten minste, ek dink dit is hy. Die hout dood. Vaal. Ek kan nie eens meer die jaarringe uitmaak nie. Ek vee met my vingers oor die growwe bas en besluit om my boom te gaan soek.

    Ek loop al die bome weer na. My naam is nie op een van hulle nie. Verder, die veld in. Dalk is hy daar. Ook nie.

    Maar teen die middag kry ek my boom. Skeletagtig. Verwaarloos. Die blare geel. ’n Paar takke gebreek. Toe die reuk . . . Ek kyk om my rond. My boom staan naby die plaas se asgat.

    Die middag word ’n afgekapte boom wat sukkel om boomsap uit die grond te trek.

    Ouma kom sit by die bed se voetenent die aand. “Lees!” beveel sy. Haar streng oë wys na die Bybel op die bedkassie.

    My hartklop versnel. Hardop lees en bid.

    “Toe!”

    Ek vat na die Bybel. Versigtig. Die boek se gewig laat my vingers stewiger om die buiteblad klem. Dieper asem. Ek slaan die boek oop. My oë swem oor die woorde. Blaai om. Blaai weer om. Nog bangmaakwoorde. Hoe kom ek hier uit?

    “Ek het my boom gekry,” sê ek sag. Ek kyk na Ouma Tommie. Sy sit net daar. Haar gesig strak. Het sy gehoor?

    “Lees! Ek wil gaan slaap.”

    “Psalm 110.” My keel voel droog.

    “Die Here het vir my heer gesê: ‘Sit op . . . sit op die erreplek . . . ereplek aan – ’ ”.

    “Ag nee, magtig!” Ek kyk bang op. Haar oë is vreesaanjaend. Blou. “Begin van voor af.”

    “Psalm 110. Die Here het vir my heer gesê: ‘Sit op die ereplek aan my regterkant totdat Ek jou vuilhande . . . vyande –’ ”.

    “Goed vir niks.” Sy staan op. “Nes ek gedink het. Ek sal daardie ma van jou bel dat sy jou kom haal. Môre. Jy kan nie hier bly nie.”

    Die woorde dryf in die kamer lank nadat sy weg is. Kleiner, kleiner, krimp ek in die bed. Troos. Dis wat ek nodig het. Glip deur die kamervenster. My voete ritsel oor die gras, om my staan die skadumense teen die maanlig.

    Op my knieë sit ek, voor my boom, en tjank. Die reuk van goed wat vrot walm om my. Toe die veldgoggas stilskrik, kyk ek oor my skouer. Deur die trane sien ek haar staan. Hande in die sye, lyk dit my. Dit is te donker om regtig te weet. Ek vee die trane weg met my voorarm. En toe is sy weg.

    Terug in my bed wil die slaap nie kom nie. Net die woorde oor en oor: Ek haat haar, ek haat haar.

    En toe die kapgeluide. Aan en aan. Ek weet – sy kap my boom ook nou af. Agter die donker van my oë kan ek haar daar sien. ’n Byl in die hand. Haar groot hande gevou om die hef. Kragtig. Wreed.

    Ouma Tommie kom nie kombuis toe vir ontbyt nie. Die kamerdeur bly toe. Ek stap buitetoe. Teen die stoepmuur staan ’n graaf. Nat grond klou aan die lem. Toe skrik ek. ’n Nuwe boom staan neffens die trap. Klein. ’n Vars hoop grond om die stam. My boom.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |