Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Onder vier oë: Openbaar ’n nuwe siening
D ie Andrew Murray-prys vir Afrikaanse Christelike boeke val nie sommer net in ’n mens se skoot nie. Vir prof. Jan du Rand, wenner van vanjaar se prys vir sy boek Die A – Z van Openbaring, is dit die beloning vir ’n stuk werk waaraan hy die grootste deel van sy akademiese loopbaan gewy het: die studie van een van die raaiselagtigste boeke in die Bybel. Dié teoloog van die Universiteit van Johannesburg staan aangeleun teen ’n muur in sy meenthuis in Randburg toe hy oor Openbaring praat. Hy het ’n rugoperasie gehad en kan nie sit nie. Dat hy ongemaklik is en seer het, is duidelik, maar hy praat sonder ophou. Dis asof water wat oor baie jare onder die oppervlak opgegaar is, skielik ’n opening gekry het om uit te breek in ’n borrelende fontein. Hy vertel hoe hy 27 jaar gelede lesings in Louisville, Kentucky, gegee het oor die evangelie van Johannes. Hy en ’n kollega het daar gesels dat hulle iets nuuts moet aanpak. Du Rand se keuse het op Openbaring geval. Kort daarna het dr. Frits Gaum, tóé nog van Bybelkor, vir Du Rand gevra om ’n kursus oor dié Bybelboek te skryf. Dit was die begin van baie navorsing, baie publikasies, baie akademiese artikels. Maar sy ideaal was altyd om Openbaring verstaanbaar aan te bied, vir sy mense, die Afrikaanssprekendes. Daar is baie boeke oor Openbaring, sê hy, maar hulle is nie altyd verstaanbaar nie. En oor die taal: “In Duits of Engels moet jy korrek skryf, maar in jou eie taal kom iets van jou murg by. Dis moeiliker.” Waar pas God in? Self het hy lank geworstel met die vraag: “Waar pas God in?” Dink maar aan die tsoenami in die Indiese Oseaan ’n paar jaar gelede. Twee tektoniese plate skuif en 300 000 mense sterf. Waar pas God in? Daar is oorstromings, oorloë op 73 plekke op die aarde, MIV/vigs. Waar pas God in? En die situasie in Suid-Afrika waaroor talle mense bekommerd is. Waar pas God in? Du Rand formuleer versigtig wanneer hy oor God praat, soos dit ’n goeie teoloog betaam. Hy wil God nie in ’n definisie probeer indruk nie, maar in sy worsteling met Openbaring het hy ’n nuwe uitsig op God gekry, ’n uitsig wat hy as insig met sy mense wil deel. Du Rand gaan haal ’n beeld uit die Bosveld om sy soeke te verduidelik. Die Bosveld – soos skilderkuns, soos duikklopwerk, soos opera – is een van sy besondere liefdes wat ook tydens die gesprek na bo borrel. Toe sy selfoon lui, vertel hy van die luitoon op sy vorige selfoon: die roep van die visarend. Dit was vir hom só wonderlik, sê hy. Dit voel of jy in die Bosveld is. Dis vir hom sleg dat hy dit nog nie na sy nuwe selfoon kon oordra nie. As jy in die Bosveld verdwaal, sê Du Rand, is die eerste ding wat jy doen om hoogte te soek. Jy klim ’n berg uit sodat jy jouself kan oriënteer. Jy kyk vorentoe en agtertoe, kry bakens aan die hand waarvan jy kan bepaal waar jy is. Die uitsig wat jy kry, bring insig in jou situasie. Dít, sê Du Rand, was die werktitel vir sy boek oor Openbaring: “Uitsig bring insig”. In sy navorsing het hy die berg van Openbaring uitgeklim. Vir ’n Christen bied die uitsig daarvandaan twee oriënteringspunte om sy of haar situasie te verstaan: Jesus se kruisiging op Golgota, waarop jy kan terugkyk, en die wederkoms van Jesus, wat vorentoe lê. Tussen-in lê die roete waarlangs God met die gelowiges en met die wêreld op pad is na die einde. Dis ’n pad waarlangs God se oordeel en verlossing algaande ontvou. Baie daarvan word in simboliese taal beskryf en baie boeke oor Openbaring konsentreer op dié beelde wat gebruik word. Wie is die Antichris byvoorbeeld? Mense het dié figuur al geïdentifiseer as keiser Nero, maar meer onlangs ook as Hitler of Stalin, as Saddam Hoesein of Osama bin Laden. Du Rand knyp sy oë half toe asof sulke interpretasies hom seermaak. Die 666 van Openbaring is volgens hom baie duidelik ’n verwysing na keiser Nero. Die destydse lesers sou dit ook só begryp het. Dit gaan egter nie oor Nero as mens nie, maar oor wat hy doen en ’n mens kan die spore daarvan vandag nog in die wêreld sien. Net só is die merk van die dier nie die een of ander geheueskyfie wat in mense se hande of voorkoppe ingeplant gaan word nie. Die hand en die kop is bloot simbool van wat mense doen en dink – en dit wys aan wie hulle behoort: aan God of die Bose. ’n Nuwe perspektief Du Rand verwys na verrykingsblokke in sy boek waar ’n mens die agtergrond van sulke simboliek kan naslaan. In die een oor merktekens en tatoeëring in die antieke wêreld lees ’n mens byvoorbeeld dat slawe destyds só gemerk is. Later, sê hy, was daar selfs Christene wat ’n kruisteken op die voorkop gedra het. Vir Du Rand gaan dit egter nie in die eerste plek om die simboliek van Openbaring nie. Hy wou ’n dieper vlak raak lees. Dit gaan oor die stryd tussen God en die Bose. Dis nie ’n gelykop stryd nie. Christus het reeds oorwin. Volgens Openbaring is God die Een wat op die troon sit. Hy is die Almagtige. Hy is die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega. God is in beheer van die geskiedenis. En dit bied ’n nuwe perspektief op die wêreld waarin mense vandag leef. Volgens Du Rand gaan die boek Openbaring met sy perde van verskillende kleure, sy kandelare en sy wraakbakke, sy trompette en seëls nie oor die einde nie. Dit vertel nie soseer van die wederkoms van Jesus nie as van die pad wat gelowiges daarheen moet loop. Dis ’n tydperk waarin God se straf en verlossing gelyktydig ontvou. Dié twee moet altyd saam gesien word. Wat beteken dit? Dat die tsoenami deel van God se straf is? Ja, sê Du Rand, maar nie op ’n reglynige manier nie. Soos oor MIV/vigs sê hy nie dis die vyfde seël of die vierde trompet of die derde wraakbak van Openbaring nie. Sulke regstreekse toepassings maak hy nie. Hy sê ook dat ’n mens nie net die straf moet sien nie. Ná die tsoenami kon ’n mens ook iets van God se verlossing sien deurbreek waar dakloses gehelp is om weer huise te kry, waar mense kos en klere gekry het. Sulke liefdesdade het Matteus 25 waar gemaak, sê Du Rand. Dis die deel waar Jesus vir sy dissipels sê elke keer dat hulle iemand in sulke soort nood bystaan, het hulle dit ook aan Hom gedoen. Twee kante van die plan In die gesprek kom die pyn in Du Rand se eie omstandighede ter sprake. Sy rug wat hom baie las gee. Sy vrou se kanker. Dit word nie regstreeks met die boodskap van Openbaring in verband gebring nie, maar hy merk wel op: “God doen soveel moeite om ons te beitel en te vorm na die voorbeeld van Jesus Christus dat dit soms vir ons lyk na negatiewe goed wat oor ons pad kom.” Hy verduidelik die boodskap wat hy in Openbaring sien aan die hand van die apokriewe boek 4 Esra. Daar word geworstel met die vraag waarom dit so goed gaan met die Babiloniërs en so sleg met Israel. Aan die einde is daar egter net die antwoord: “U is God. Ek kan U nie beoordeel of veroordeel nie.” Wat hy wel sien, is die twee kante van God se ontvouende plan met die wêreld. Hy sien die verlossing deurbreek waar gelowiges mense in plakkerskampe help. Hy sien iets van God se op pad wees met sy mense in die onlangse massasaamtrek van mans naby Greytown. Hy sien dit in die manier waarop ’n duikklopper ’n motor regmaak. Hy self het ’n duikklopkursus deurloop en drie motors gerestoureer. Hy sien dit in hoe Brahms en Mozart gewone note kon vat en dit omskep in iets wat jou absoluut verhef. Hy self voel positief oor Afrika. Hy vertel van ’n antieke Latynse skrywer wat gesê het wat hom tref van Christene, is dat hulle mekaar liefhet nog voordat hulle mekaar ken. Dís hoe hy oor Afrika voel, sê Du Rand. Ondanks sy rugpyn Sy hart is egter seer dat sy mense vandag so negatief gekondisioneer is. Dis vir hom baie hartseer dat die geestelike perspektiewe van Openbaring nie swaarder weeg as die ideologiese perspektiewe van die dag nie. Hy dink soms God is hartseer oor sy wêreld. Dis asof God sê: “Ek het my Seun gegee. Ek het my Gees gegee. Ek het hulle toegerus. Hoekom sien ek so min van my bedoeling in hierdie wêreld?” Christene, sê hy, moet die traan in God se oë raaksien. Hy self sien uit na Jesus se wederkoms, maar nie op die manier dat ’n mens nou maar net moet vasbyt en uithou in die hoop dat iets beters sal kom nie. Hy leef elke dag positief uit die verlossing wat Jesus Christus reeds gebring het. Miskien is dit dié perspektief wat vanjaar se Andrew Murray-pryswenner ondanks sy rugpyn so laat borrel van opgewondenheid oor Openbaring.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|