Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'Afrikaners gaan nog vir die ANC stem'
Dr. Mathews Phosa is kennelik nie iemand met fieterjasies nie. Dié tesourier-generaal van die ANC kom op eie stoom aan by Cosatu se Werkersdag-vieringe by die Kompanjiestuin, agter die parlement in Kaapstad. Sonder ’n gevolg of lyfwag of enige ander aanhanger. Hy’t op sy eie afgevlieg Kaap toe en sommer ’n taxi by die lughawe gevat. “Ek’t (vir die ANC) gesê dis goedkoper as om ’n motor te huur. Toe vra hulle hoe gaan ek terugkom op die lughawe. Ek sê toe ek sal ’n geleentheid kry êrens. En kyk nou. Ek het reggekom!” sou hy later in die glybaan op die N2 op pad lughawe toe vertel. Ná geselsies met kamerade en ’n paar handdrukke is hy op die verhoog en deel hy die ANC se Werkersdag-boodskap met die paar duisend mense voor hom. Hoofsaaklik in Afrikaans vertel hy hulle van die foute wat die ANC gemaak het en moet regstel: Swart bemagtiging het net ’n paar mense bevoordeel en dit moet verander; die sluit van onderwyskolleges was verkeerd en moet reggestel word; die parlement kan nie ’n junior vennoot in die demokrasie wees nie. Phosa se hees stem getuig van die hordes toesprake wat hy die laaste paar weke moes lewer en die talle gesellighede waar hy ’n paar opmerkings moes maak: eers in Suid-Afrika en toe op die ANC se uitgebreide Europese roadshow onlangs. Benewens die radikale veranderinge wat die Polokwane-konferensie einde verlede jaar ingelui het, is een van die mees welkome veranderinge wat ’n mens waarneem ’n nuutgevonde gees van glasnost. ANC-leiers is nou, in skrille kontras met die bewind vóór Polokwane, baie toegankliker vir mense om mee te praat, te gesels en te debatteer. Phosa, veral, het die rondtes gedoen. Die week voordat hy saam met die ANC-afvaardiging na Europa vertrek het, was hy eers die gasspreker by ’n Chris Hani-huldigingsdinee aan die Oos-Rand en die twee dae daarna elke dag ’n spreker by geleenthede van die Kamer van Koophandel van Suid-Afrika. Gemaklik, toeganklik en gemoedelik – maar bowenal tref hy as iemand wat realisties is oor die land en sy probleme. Nog meer: Phosa weet wat die ANC se tekortkominge is en waar die party moet skaaf as hy waarlik “ ’n tuiste vir almal wil wees”, soos hy dit self verwoord. Ons is nie almal só nie “Dis vir my so lekker om met Kaapse mense te praat. Hulle sien nie ras raak nie,” sê Phosa op Stalplein, voor Tuynhuys, op pad motor toe. “Ek wens die res van die land se demografie kan wees soos vandag se byeenkoms was: wit, bruin en swart. Almal was saam en wil saam bou.” Hy wil weet of die volgende dag se berig daarna gaan verwys dat hy Afrikaans in sy toespraak gepraat het: “Die meeste van die toespraak was in Afrikaans. Sit dit in Beeld. Ek wou die hele toespraak in Afrikaans doen, maar het toe uiteindelik besluit om ’n bietjie Engels en Xhosa in te sit. “Het die mense daarvan gehou? Ek dink so. Ek dink mense wil in hul moedertaal hoor wat aangaan,” sê hy. Hy wil weet of die boodskap duidelik was, of mense sal verstaan wat hy wou sê. “Was ek duidelik genoeg oor bemagtiging, minderheidsregte?” vra hy telkens. Die gesprek vorder baie vinnig, soos dit maar in Suid-Afrikaanse politiek gaan, na rasseverhoudinge. Phosa sê die party meen dit gaan eintlik, “ná net nog maar 18 jaar”, besonder goed in hierdie land. “Kyk na die VSA: Hoe lank al sukkel hulle met rasseverhoudinge? Dit neem net die kleinste dingetjie om ’n vuur aan te blaas.” Tog is daar in Suid-Afrika rassevoorvalle, lélike voorvalle? “Ja, daar is, maar dit is nie verteenwoordigend van almal nie. Jy kan nie vir my kom sê die Vrystaters (met verwysing na die omstrede Kovsie-video) is net soos álle wit Afrikaanses nie. “Net so is dit nie waar dat dié wat plaasmoorde pleeg, soos alle swart mense dink en doen nie.” ‘Ons monde is toegeskop’ Polokwane duik in die gesprek op net daar waar Roelandstraat in De Waal-rylaan verander, met Duiwels?piek regs en die wye uitsig oor die stadskom, hawe en die Tygerberg in die verte. “Dit was vir ons ’n ongelooflike ervaring: Polokwane. En ek is seker vir die joernaliste ook? Dit gee ’n mens tog daai agtergrond . . . “Maar ons het foute daar begaan. “Ons moes nie dat Terror (min. Mosiuoa Lekota, toe nog die ANC se nasionale voorsitter, wat geen beheer oor konferensiegangers gehad het nie en op dag een uitgejou is) die konferensie lei nie. “Ons het gedog dit sou regkom, maar dinge het toe reeds te ver gegaan.” Lekota en mnr. Jacob Zuma het ’n “woorde-oorlog” voor die konferensie gevoer en Lekota – en die Mbeki-kamp – se groot fout was om vir Zuma te sê om “stil te bly”. “In die Afrika-tradisie word dit nie gedoen nie. Jy behandel nie iemand wat ouer as jy is só nie. Dis daar dat dinge gedraai het en die konferensiegangers het Lekota dit nie laat vergeet nie,” verduidelik Phosa. Hy meen die gedrag van ANC-lede op die konferensie, waar leiers uitgejou is en beledigende handgebare aan die orde van die dag was, is onaanvaarbaar. Dit is egter ’n simptoom van hoe die ANC onder pres. Thabo Mbeki geword het: “Ons monde is met gumboots toegeskop.” Mbeki het die party gesentraliseer en hy het álle besluite geneem, beleidsrigtings bepaal en belangrike koersveranderings gemaak. En dit is nie ANC-tradisie nie. “Ons (die nuwe leierskorps onder leiding van Zuma) wil mense deelmaak van die ANC; ons wil hê mense moet deel in besluite. Ons grootste probleem is politieke opvoeding. Ons moet ons mense bemagtig, nie uitsluit nie.” Jy hoef nie van die uitslag te hou nie, maar Polokwane was demokrasie. Suiwer demokrasie. “Mbeki is uit omdat hy die mense verloor het. Ons sal vir Zuma ook uitskop, ek sê jou, as hy nie sy werk doen nie,” verseker Phosa. Dit was nie mooi nie Mbeki is ’n moeilike onderwerp, want die ANC is stadig maar seker besig om die staatshoof se invloed te verminder. Mbeki is uit, maar hy bly ’n ANC-leier. “Hy is ’n slim man, báie, en versiende. Maar hy is uit voeling met wat aangaan,” sê Phosa toe die gesprek ’n draai noord van die Limpopo-rivier gaan maak. “Julle het gesien wat gebeur toe die nuwe leierskorps inkom. Ons kan mos sien iets is fout in Zimbabwe en jy kan dit nie ignoreer nie. Mbeki? Ek weet nie. Niemand weet waarom hy nie eintlik iets daaroor sê nie.” Phosa het die oomblik toe Zuma as die nuwe ANC-president aangekondig is, langs Mbeki gesit. “Jis, dit was nie mooi nie!” Hy draai skuins in sy stoel soos hy die herinneringe aan daardie triestige aand in Mankweng, buite Polokwane, onthou: “Hy was grys . . . in daardie oomblik het hy oud geword.” Dit was tóé. Nó? het Phosa saam met sy ander kollegas in die top-ses (Zuma, mnre. Kgalema Motlanthe en Gwede Mantashe en mee. Thandi Modise en Baleka Mbete) begin om ’n groter kultuur van oopheid te skep. “Die ANC se kultuur is om te praat oor dinge, nie om stil te bly daaroor nie.” Hy verwys na die parlement en sê dit mag nie ’n skoothondjie van die uitvoerende gesag word nie. “Maar dis hoe dit die laaste jare was. Ministers het hul geld gaan vat en geloop. Hulle het nie gaan verantwoording doen nie. Die parlement moet versterk word sodat hy sy oorsigrol kan vervul.” Dis nie nodig om met huidige ministers, wat minder as ’n jaar in hul portefeuljes oor het, te moet praat nie (oor wat hulle moet doen noudat die leierskorps verander het), sê Phosa. “Die Grondwet sê duidelik hoe dit moet werk. Al wat ons hoef te doen, is om standpunt daaroor in te neem.” Net soos met Zimbabwe. Baie moet gedoen word Phosa erken daar is nog baie dinge wat reggeruk sal moet word. En die party verstaan die vrese van mense: oor misdaad, regstellende aksie, minderheidsregte . . . “Hier in die Kaap sit ons met groot probleme,” sê hy net toe ons verby die bekende Athlone-verkoelingstorings op die N2 ry in die rigting van Khayelitsha, Crossroads, Nyanga, Langa – en Somerset-Wes en Stellenbosch. “Die bruin mense voel uitgesluit. Hulle voel nie deel nie . . . hulle het nie voordeel uit swart bemagtiging getrek nie – ons sal dit moet aanpak. Ons moet by daai mense uitkom. Een van die dae begin ons hier met ’n deur-tot-deur-veldtog om met mense te praat!” lag hy en laat val dat die DA van me. Helen Zille die party groot kopseer in die Kaap besorg. In sy toespraak vroeër het hy sterk klem gelê op minderhede en hy trek dit nou deur tot by moedertaal. Dit is vir hom belangrik om met Afrikaanssprekendes in hul eie taal te praat. “Ons is nie bekommerd oor die Afrikaners nie. Suid-Afrika is h?lle land (en hy wys met sy wysvinger na die teerpad toe) en hulle weet dit. Destyds, met die onderhandelinge, het ons geweet ons kan met (mnr. F.W.) De Klerk praat, want hy het nie twee paspoorte nie. Hy het nie ’n ander land soos die Engelse nie. “Afrikaners se lojaliteit is hiér.” Dit gaan nie lank wees nie, dan stem die meeste Afrikaners vir die ANC, meen hy. “Ons weet daar is goeters wat ons eers sal moet regruk. Ek weet. Misdaad, regstellende aksie . . . maar ons werk daaraan.” Die pad is kort en daar is nog baie om oor te praat: Zuma se hofsaak, die Skerpioene . . . “Tja, dit gaan nog ’n besige jaar wees,” sê hy by die lughawe se drop & go. “Die verkiesingsveldtog . . . en die vroueliga se nasionale konferensie. Nou dáái een gaan rof wees – net so baie politiek soos Polokwane!” As die ANC Phosa se beleid van glasnost kan volhou, is daar dalk net hoop vir ’n oop gesprek in Suid-Afrika. En ’n oop gesprek met Phosa is ’n plesier.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|