Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Is SA plan met grond op sand gebou?
Enige sinvolle bespreking oor grondhervorming moet begin by die erkenning dat daar geregtigheid moet wees vir diegene wat weens apartheid onteien is. Grondhervorming moet tot voordeel wees van die begunstigdes én die land. Min word op die duur bereik as geregtigheid uiteindelik bloot simbolies blyk te wees, mense armer laat of selfs griewe vererger. Die ANC het verlede Desember by Polokwane besluit om “weg te doen met markgedrewe grondhervorming en om dadelik die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper te heroorweeg om die billike herverdeling van grond te bespoedig”. Die departement van grondsake moedig munisipaliteite aan om hoë tariewe op plase te hef om dit onbekostigbaar vir gevestigde boere te maak om aan te bly, en dus só grondpryse laer te dwing. Die parlement oorweeg wetgewing vir onteiening wat die staat se magte sal uitbrei om grond onder markprys aan te koop sonder die eienaar se toestemming, en wat eienaars se toegang tot howe sal ondermyn sou hulle beswaar teen onteiening hê. Met verwysing na Zimbabwe en Namibië het die departement van grondsake voorgestel dat die regering die eerste opsie moet hê op alle grond buite ontwikkelde stedelike gebiede, en dat sulke grond nie sonder ’n sertifikaat dat die regering nie “tans daarin belang stel”, op die ope mark verkoop mag word nie. Hierdie voorstelle gaan van die veronderstelling uit dat wit boere onredelik hoë pryse vra om grondhervorming te vertraag terwyl hulle hulself verryk ten koste van die staat; dat die grondmark ’n struikelblok vir grondhervorming is; dat die korporatiewe landboubedryf teen grondhervorming gekant is; dat die staat se grondhervormingsprogram so goed werk dat dit vinnig uitgebrei moet word; asook dat armes se probleme opgelos kan word deur bloot grond aan hulle te gee. Nêrens word feite aangebied om hierdie aannames te staaf nie. Navorsing deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) toon dié houdings en voorstelle berus op mites en wanpersepsies. Mite: Wit boere dwing grondpryse op Die CDE het pas ’n uitgebreide navorsingsprogram voltooi oor die werking van die grondmark landwyd. In die besonder is gekyk na eiendomstransaksies in gebiede waar daar heelwat grondhervorming is. Daar is bevind dat plase landwyd gemiddeld in reële terme nie duurder in 2003 was as vóór die begin van grondhervorming in 1994 nie. Daar is geen getuienis dat pryse vinniger as die gemiddelde styg in gebiede waar heelwat grondhervorming plaasvind nie. Die CDE het inligting van die aktekantoor vergelyk vir twee gebiede in Mpumalanga en twee in Limpopo waar baie grondeise is. Tot 2006 het grondpryse in dié gebiede nie vinniger gestyg as in die land in die algemeen nie. Daar is geen konsekwent opwaartse beweging in die pryse wat die staat betaal om grondeise te besleg nie. Pleks daarvan wissel pryse na gelang van die soort eiendom wat gekoop word. Sommige onlangse eise op groot en waardevolle suiker- en vrugteplase was duur om te besleg, maar in die algemeen het die prys van restitusie-transaksies net met 1,1% jaarliks gestyg in die tydperk wat die CDE ondersoek het. Om dus te sê “wit boere” of “die mark” het pryse landwyd opwaarts gemanipuleer, is verkeerd. Mite: Die mark belemmer grondhervorming Deur marktransaksies is ’n hoeveelheid grond al oorgedra wat minstens 40% gelyk is aan dít wat deur die staat se grondhervormingsprogramme oorgedra is. In sommige gebiede is die persentasie kommersiële grond wat nou in swart mense se besit is, al baie hoër as 7% – en tot dit is waarskynlik ’n onderskatting. So besit swart mense 30% van die grond in die KwaDukuza-distrik in KwaZulu-Natal en byna 30% in die Oos-Kaapse gebiede van Elliot en Ugie. Uit mediaberigte blyk dat in sommige distrikte in die Vrystaat swart mense tussen 12% en 20% van kommersiële landbougrond besit. Boonop is die gehalte van die grond wat deur markprosesse oorgedra word, hoër as die gemiddelde vir alle oorgedraagde grond. Die feit is dat marktransaksies grondhervorming vinniger en doeltreffender aanhelp. Mite: Korporatiewe landboubedryf staan hervorming teen In werklikheid is daar ’n groeiende aantal swartbemagtiging-grondtransaksies. ’n Goeie voorbeeld is Sappi se onlangse groot transak- sie met Lereko Property Consortium (LPC) waardeur 25% van Sappi se bosboubates aan swart eienaarskap oorgedra is. Die groot voordeel van sulke transaksies is dat dit swart eienaarskap nie net uitbrei wat grond betref nie, maar ook wat winsgewender dele van die agri-prosesseringwaardeketting betref. In drie belangrike sektore in die landboubedryf (suiker, hout en vrugte) is die private sektor die afgelope dekade aktief bedrywig om grondhervorming te bevorder en steun. Só het die suikerbedryf se Inkezo Land Company groot sukses behaal met die herverdeling van grond vir suikerrietverbouing en die steun van opkomende boere. Die groot banke speel ’n sentrale rol in die finansiering van die grond- en landbousektore en is ’n leidende bron van kennis oor boerdery en landbouprosesse. Só het die private sektor in 2004 meer as dubbel soveel grondtransaksies as die staat gefinansier. Die banke het innoverende finansiële modelle ontwikkel om swart boere te steun om waardevolle grond te bekom en dit winsgewend te bedryf. Wat betref produktiwiteit en volhoubaarheid, is daar oorweldigende getuienis dat die uitkomste van grondhervorming wat deur die private sektor gelei word, baie gunstig vergelyk met die resultate van suiwer staatsprogramme. Dit is vanweë die private sektor se klem op doeltreffende swart bemagtiging eerder as op bloot die aantal hektaar wat oorgedra is; asook sy skerper fokus op produktiwiteit en groter vermoë om grond vir ’n spesifieke doel aan spesifieke eisers te voorsien en om tegniese steun aan nuwe boere te verleen. Die werklikheid is dat die korporatiewe landboubedryf baie aktief is in grondhervorming en uitstekende resultate behaal. Baie vrywillige inisiatiewe word egter teruggehou weens die huidige probleme rakende restitusie en die gesloer met die afhandeling van grondeise. Mite: Die staat se program vir grondhervorming werk goed Die meeste grondhervormingsprojekte waar daar groot groepe mense is wat op grond hervestig word, het in werklikheid tot dusver klaaglik misluk. Soos ’n senior amptenaar dit stel: Dis “bates wat sterf in die hande van die armes”. Die regering erken nou dat 50% van dié projekte misluk het om die begunstigdes se lewens te verbeter. Baie ander waarnemers stel dié syfer nóg hoër. Met die restitusieproses is byna alle stedelike grondeise suksesvol afgehandel, maar die proses het nou vasgehaak. Die laaste fase – die hantering van die grootste, moeilikste landelike eise wat duisende mense raak – veroorsaak dat groot stukke produktiewe kommersiële grond nog jare lank “bevries” gaan wees. Só is daar volgens die SA Suikerrietkwekersvereniging tans eise op 50% van alle grond vir suikerrietverbouing – net 4% van die eise is al afgehandel. Dít beteken dat boere nie met hul grond as sekuriteit geld kan leen vir die volgende oes, masjinerie of verbeterings nie; en dat voornemende swart boere nie banklenings kan aangaan om hierdie grond te koop nie. Daar is absoluut geen vooruitsig dat die 2008-spertyd vir die afhandeling van die restitusieproses gehaal gaan word nie. Soos dinge nou lyk, is agteruitgang die voorland van groot dele van die landelike ekonomie. Sommige nuwe swart boere wat baat gevind het by die herverdeling van grond en uiteindelik voorspoedig begin word het, bevind hulle nou in ’n situasie waar daar eise op hul nuwe eiendom is namate die restitusieproses voortsleep in algehele isolasie van ander beleid. In sommige gebiede is swart boere woedend omdat amptenare nog nie die proses afgehandel het waardeur hulle eiendomsreg op die grond verkry nie en niks doen om onwettige plakkers te verwyder nie. Die staat behaal nié goeie resultate nie. Dit behoort nie oorweeg te word om die staat se program en verantwoordelikhede rakende grondhervorming uit te brei voordat sy sukseskoers verbeter het nie. Mite: Grond die oplossing vir armoede
Daar is ’n aantal plekke met genoeg water in die voormalige tuislande waar die vestiging van mense op klein plasies ’n bruikbare uitwerking op armoede kan hê. Maar om te glo dié benadering kan ’n groot of kostedoeltreffende bydrae tot die verligting van armoede in die grootste deel van Suid-Afrika lewer, is onrealistiese “landelike romantiek”. Dit is moeilik om suksesvol te boer. Dit verg hoë vlakke van opleiding en vaardigheid en is afhanklik van goeie toegang tot krediet en sterk bande met die agri-prosesseringketting. Dit is ook so dat baie minder swart mense wil boer as wat algemeen geglo word. Die meeste Suid-Afrikaners beskou grond nou as ’n plek om te woon eerder as ’n plek om te boer. Baie meer as 60% van Suid-Afrikaners woon in stedelike gebiede en dié syfer styg vinnig. Pleks daarvan om grond as die enigste – en dikwels duur en ondoeltreffende – manier te gebruik om landelike armoede aan te pak, moet ons indringender kyk na landelike ontwikkeling. Belangrik hier is dat erken moet word dat verstedeliking ’n belangrike deel van ’n doeltreffende landelike ontwikkelingstrategie is. Vir baie landelike armes moet ontwikkeling gefokus wees op verplaasbare bates – soos onderwys en vaardighede – wat in ’n verskeidenheid van moderne stedelike kontekste aangewend kan word. Net ’n paar landelike mense kan suksesvol boer. Wat nou vorentoe? Suid-Afrika moet hierdie mites vergeet. As toekomstige grondhervormingsbeleid gegrond word op foutiewe aannames oor wat dit is wat vordering terughou, of as dit ontaard in ’n heksejag teen “sondaars”, kan dit erg negatiewe gevolge inhou. ’n Kombinasie van foutiewe, rasgekleurde aannames om beleid te bepaal, onvoldoende begrotings en ontoerei- kende vermoëns, tesame met ambisieuse teikens sonder dat daar realistiese planne is, dui al hoe meer op ’n “toekoms wat te aaklig is om jou in te dink”. Ons moet weg beweeg van misleidende terminologie in die Zimbabwe-styl en swak ingeligte debatte oor die rol van die mark of die konsep van “gewillige verkoper, gewillige koper” (wat in elk geval nog nooit op restitusie van toepassing was nie). Ons moet nader beweeg aan konsepte soos koöperatiewe verhoudinge tussen staat en mark, volhoubare ontwikkeling, hoe om aan armoede te ontsnap, en om opvoedkundige en ekonomiese geleenthede te voorsien om landelike Suid-Afrika voor te berei vir die 21ste eeu. Grondhervorming is in die moeilikheid. Wees gewaarsku: Dit is nie net nog ’n beleidskwessie waar die staat se vermoëns ontoereikend is vir ’n moeilike taak nie. Dit is ’n kwessie wat die grondslag raak van 1994 se grondwetlike ooreenkoms oor eiendomsreg. In ’n tyd van stygende kos- en kommoditeitspryse plaaslik en internasionaal sal die grondkwessie die land se vermoë raak om sy ekonomiese doelwitte te bereik, sy eie voedsel te produseer en op internasionale markte mee te ding. Niemand moet die belangrikheid onderskat van die stygende opstapeling van probleme ten opsigte van grondkwessies en die gevare van die huidige tendensies in die staatsgesprek nie. As stedelike politieke of sakeleiers dit wat aan die gebeur is, ignoreer, sal dit ’n massiewe fout wees. Suid-Afrika moet herbesin oor dit wat bereik is en oor die beste manier om vordering met grondhervorming te maak. Baie is op die spel.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|