Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Swartbaard kom Afrika toe, matey
Vergeet die kiste goue juwele, skatkaarte op sanderige eilande en rumpartytjies op die dek. Gyselaar-maagde en kwasjiorkor op die diepsee? Dis so 1600. Vandag se seerowers doen dit anders. Dis RPG7’s pleks van swaarde. Rats rubberopblaasbote pleks van Swartbaard se Queen Anne’s Revenge. Selfone eerder as Ahoy, matey! Maar in die jaar 2008 soek seerowers tog nog dieselfde ding: vinnige geld op see. Dit was dié geldlus wat 151 passasiers op die weelderige passasierskip Seabourn Spirit aan die kus van Oos-Afrika vroegoggend op 5 November 2005 wreed wakker laat skrik het. Twee klein rubberbote het met masjiengewere en vuurpyllanseerders toegeslaan in die waters van een van modernewêreldse seerower-brandpunte: die regeringlose land Somalië. Die plesierskip was van Alexandrië in Egipte na Mombasa in Kenia op pad toe koëels om 05:50 deur haar romp skeur. “My dogter het die seerowers deur ons venster gesien,” het mev. Edith Laird van Seattle in die VSA agterna aan die BBC vertel. Een vuurpyl het die skip vier verdiepings onder die gesin se kajuit getref. ’n Ander het ’n egpaar se bed glo rakelings gemis. Die ongewapende bemanning het die seerowers met ’n klankkanon verwilder wat ’n groot geraas uitsaai en jou gehoor permanent kan beskadig. Koningin Elizabeth II het hulle verlede jaar vir dapperheid vereer. Situasie buite bedwang Die Seabourn Spirit-geval is maar een van vele voorvalle van moderne seerowery wat die seevaart rondom Afrika, en in lande soos Indonesië en Bangladesj, byna so gevaarlik maak soos in Swartbaard se dae. Lagos en Mogadisjoe is die nuwe Tortuga (nou deel van Haïti) en Tripoli waar berugte seerowers tydens die 1500’s en 1600’s jag gemaak het op Spaanse en ander Mediterreense skepe. Hulle het roem en buit gesoek. In die eerste drie maande van 2008 is 49 seeroweraanvalle wêreldwyd aangemeld, en altesame 263 in 2007, volgens die internasionale handelskamer se internasionale maritieme buro (IMB). Dit is ’n toename van 20% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. In veral Nigerië en Somalië het aanvalle minstens verdriedubbel teenoor 2006 en kenners waarsku nou dit is “buite bedwang”. In Somalië is 154 bemanningslede verlede jaar as gyselaars aangehou en “miljoene dollars” in lospryse betaal, het die IMB in sy 2007-jaarverslag gesê. Dit het in ’n “baie winsgewende” bedryf ontaard. ’n Skip van die Wêreldvoedselprogram (WVP) moes om middernag op 21 Oktober verlede jaar sonder ligte die nag in vlug toe rowers naby die Somaliese kus toeslaan. Vroeër is nog ’n WVP-skip gekaap. Die bemanning van 12 is twee maande lank as gyselaars aangehou. Verlede maand het tien swaar gewapende seerowers Le Ponant, ’n Franse seilboot, in die Golf van Aden bestorm en gekaap. Die passasiers is ’n week lank aangehou. Ook in Tanzanië gaan dit rof. Maar die nuwe onbetwiste seerowerhoofstad van die wêreld is Nigerië se kommersiële hart, Lagos. Nigerië, met sy kort kuslyn en een van Wes-Afrika se grootste vlote, het verlede jaar 42 seeroweraanvalle aangemeld en Indonesië vir die eerste keer na tweede plek op die seerowerranglys gedruk. Altesame 25 aanvalle was in die waters van Lagos alleen – soveel aanvalle as in die res van Afrika saam. Mnr. Noel Choong van die IMB in Kuala Lumpur sê sowat 50% van aanvalle bly onaangemeld. ‘Neem ’n baba aan’ Kapt. Tejpal Grover, ’n skeepskaptein van Gulf Transfer Services (GTS) in Lagos, het eergister aan Media24 vertel aanvalle ter see in Nigerië spruit aan die een kant uit armoede en opportunistiese misdaad, en aan die ander kant uit die politieke krisis wat die Nigerrivierdelta al jare ry. Twee weke gelede het lede van ’n plaaslike gemeenskap naby Port Harcourt in die delta een van GTS se voorradeskepe oorval en die bemanning met vier eise gekonfronteer. “Hulle wou ’n miljoen naira (sowat R65 000) hê vir gemeenskapsontwikkeling, want ons is by die oliebedryf betrokke,” sê Grover. “En: Ons moet vier lede van hul gemeenskap op die skip in diens neem, ’n baba van die dorp ‘aanneem’ en versorg, en ’n skakelpersoon uit die gemeenskap aanstel teen ’n salaris van R2 500 per maand. “Maar as jy met een groep onderhandel, hoeveel ander is daar nie?” Eergister kry Grover ’n oproep van die gemeenskap se tradisionele leier: Hulle gaan toeslaan, want daar is nie aan hul eise gehoor gegee nie. Dit is GTS en ander skeepsfirmas se rol in die oliebedryf wat die arm plaaslike gemeenskap so grief. In Lagos, sê Grover, het aanvalle minder met politieke griewe te make as met armoede en “ ’n voorliefde vir maklike geld”. Dit is so gevaarlik vir vragskepe om buite die oorvol hawe voor anker te lê dat hulle gereeld meer as 50 seemyl van Lagos dobber totdat die kaptein toestemming kry om te dok. Só bly skepe buite bereik van klein motorbootjies wat nie te ver van die kus kan beweeg nie. Die bemanning van skepe wat “gevang” word, word vermoor, gedreig dat hul ore afgesny word as hulle nie geld gee nie (Januarie 2007), of ontvoer. Volgens Grover beskou versekeringsmaatskappye die Nigeriese kus as ’n “oorlogsone” en het premies die laaste paar jaar meer as verdubbel. Die IMB beveel aan skepe installeer “elektriese heinings” en satellietnavolgtoestelle, soos die Tracker wat Suid-Afrikaanse motoriste ken. En aan die Somaliese kus het die WVP gewaarsku seerowers bedreig die toevoer van kos aan meer as ’n miljoen Somaliërs wat aan voedseltekorte ly, want 80% van dié hulp bereik Mogadisjoe seelangs. “Weens seerowery het die beskikbaarheid van skepe gehalveer wat bereid is om kos na die land te vervoer,” het mnr. Josette Sheeran, EVP-hoof, in Julie gesê. Parate kuswag nodig Het ’n nuwe “goue era” van seerowery aangebreek? En is Suid-Afrika veilig? Dr. Henri Fouché, ’n lektor in die departement veiligheids- en sekuriteitsbestuur aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT), sê seerowers pak deesdae aanvalle al hoe verder van die kus aan, is beter bewapen, en slaan al hoe verder suid toe. “Dit is besig om oor te spoel. Tanzanië was lank ’n brandpunt, en in 2007 het Mosambiek vier voorvalle gehad. Eers was dit Nacala (in die noorde), toe Baira (verder suid), en daar’s niks tussen ons en Mosambiek nie. Ons lê volgende.” Seerowers – aanvallers wat buite lande se gebiedswaters op die oop see toeslaan – buit die afwesigheid van groot buitelandse vlote uit wat Afrika in koloniale dae en tydens die Koue Oorlog gereeld in sy visier gehou het. En hulle gebruik skuiwergate in die internasionale reg. Buitelandse skepe, soos dié van die Amerikaanse vloot wat die Horing van Afrika patrolleer, mag seerowers se aanvalstuie daarom nie tot in Somaliese gebiedswater volg nie, selfs al het hulle ontvoerde bemanning aan boord. In November het die internasionale maritieme organisasie (IMO), ’n Verenigde Nasies-liggaam, in ’n resolusie gevra dat Somalië se “oorgangsregering” dié reël laat vaar. Fouché en ander seerowerfundi’s glo die oplossing lê in groter samewerking tussen Afrikalande, en onderling tussen die polisie, vloot en ander staatsdepartemente. Groot dele van Afrika se kuslyn is deesdae ongepatrolleer. As skepe in Lagos ’n noodsein stuur, is daar oor die radio net stilte, sê Grover. “Die kuswag bestaan nie.” Volgens Fouché is ’n voorstel in Oktober 2006 in Senegal gedoen dat Wes- en Sentraal-Afrika sy eie kuswag oprig. Choong het dié week weer gevra die Nigeriese regering moet meer doen om sy kus te beveilig. Seerowers steun boonop op georganiseerde misdaadsindikate in hawens regoor Afrika, waaronder Kaapstad en Durban, vir inligting oor die inhoud van ’n skip se vrag wat daar aandoen. Die skip word dan later geteiken. Die IMO waarsku bemannings nou om versigtig te wees met wie hulle oor hul vrag gesels. In Suid-Afrika maak die stormagtige Kaapse see, die sterk vloot, die maritieme afdeling van die polisie en gereelde patrollies van ankerplekke dié land volgens Fouché onaantreklik as basis vir moderne seerowers. “Dat ons paraat is, is ’n afskrikmiddel.” Maar hy sê Mosambiek se nuwe kwesbaarheid wys: Seerowery is ’n euwel “wat stadig maar seker kruip”. Net soos in Swartbaard se dae.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|