Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Onder vier oë: Altyd met ’n glimlag
May 16 2008 08:17:50:777PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Natalie du Toit: "Maak nie saak wat dit is nie, moenie dat 'n tragedie jou onderkry nie." Foto: Bongiwe Gumede
Alet van Zyl

‘Natalie is doodmoeg van al die opwinding en ’n lang vlug,” waarsku Swem Suid-Afrika se bemarkingsagent voor ons onderhoud met haar.

Kort daarna stap ’n glimlaggende Natalie du Toit, letterlik met ’n huppel in die stap (en ’n effense hink as gevolg van haar kunsbeen), by die vertrek in die Johannesburg-stadion in.

Van moegheid is daar nie ’n teken nie. Sy gesels laggend, maak grappies en selfs met die ernstiger vrae oor haar verlede en ongeluk sukkel sy om nie met haar oë te lag nie.

“Ek lyk maerder as ek staan. Nee, dis net ’n grappie,” spot sy laggend met die fotograaf.

In haar denim en T-hemp is Natalie inderdaad skraler as wat sy op televisie lyk. Haar hare hang ook vroulik om haar gesig en laat haar gelaatstrekke heelwat sagter as onder ’n swempet vertoon.

Sy het waarskynlik nog nie opgehou lag sedert die groot oomblik twee weke gelede toe sy haar kleintydse droom verwesenlik het om, byna bo menslike verwagting in, vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Beijing, China, te kwalifiseer.

Haar hele lewe, voor én na die ongeluk, het immers opgebou tot dié oomblik van selfverwesenliking. “Vir my het alles nog altyd daaroor gegaan om by die Olimpiese Spele te kom,” sê sy herhaaldelik.

Drie groot drome

Dit is duidelik Natalie glo ’n mens moet vir jouself drome stel sodat jy dit kan verwesenlik.

“Nie almal kan die kampioen wees nie, maar jy kán jou droom hê.”

Sy het nog altyd twee drome gehad: om die Nasionale Krugerwildtuin te besoek en om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

’n Derde droom, om eendag weer te kan hardloop, het ná haar ongeluk in 2001 bygekom.

Die eerste van die drie drome het sy in Januarie verwesenlik toe sy saam met haar bestuurder, me. Anna Rita Strydom, en dié se gesin in die wildtuin gaan uitspan het.

“Ek was nog altyd mal oor wilde diere. Toe ek klein was, het ek altyd gedink die wildtuin is verskriklik ver. Toe ons nou die dag daarheen ry, kon ek nie glo dit is net hier anderkant nie.

“ ’n Wildebees het ons bestorm,” vertel sy oor dié hoogtepunt. “Die een oomblik was ek nog besig om foto’s te neem, die volgende oomblik begin dit (die wildebees) die grond skop en die bestuurder sê oukei, ons gaan maar liewer,” lag sy.

Nog “ ’n groot oomblik” was toe hulle ’n trop leeus op ’n nagrit teëgekom het.

Uit bed, in swembad

Die bromponie-ongeluk in haar sestiende jaar waarin sy haar linkeronderbeen en -voet verloor het, was maar net ’n spoedhobbel in die pad na haar Olimpiese droom.

Toe die ongeluk gebeur het, was Natalie ’n Suid-Afrikaanse kampioen en op almal se lippe as die volgende jong swemmer wat vir die Olimpiese Spele in 2004 in Athene sou kwalifiseer.

Vir ’n oomblik het almal gewonder of dié swem-ster ooit weer mededingend sou kon swem, maar nie syself nie. Sy het nie haar droom laat vaar of vervang deur ’n droom oor die Paralimpiese Spele nie.

Nog voordat sy weer kon leer loop, was sy al terug in die swembad – die plek waar sy weer kon leer leef.

“Ek het nie geweet hoe vinnig ek weer sou kon swem nie. Ek wou net uit die bed klim en weer begin léwe. Om vyf uur per dag te swem – dít is my lewe.”

Hoewel haar lyf ’n paar aanpassings moes maak omdat die een been nou net ’n stompie is, sê sy dit is nie danksy enige doelbewuste poging deur haarself nie.

“Ek dink my linkerarm trek dieper as my regterarm om my lyf reguit te hou, maar dis nie iets waaraan ek dink nie. Jou liggaam doen sommer die veranderings self.”

Wanneer sy haar prostese afhaal en op die swembad se rand neersit, is ook die oomblik wanneer sy weer vry voel van enige hulpmiddels, want dan “is dit nét ek”.

’n Tweede lewe

Soos Natalie oor haar lewe praat, besef ’n mens al het die ongeluk maar sewe jaar gelede gebeur, is dit asof haar lewe eers werklik op daardie dag begin het.

Sy verwys selde na die verlede en antwoord die vrae kort en kragtig asof sy dit al ’n duisend keer geoefen het . . . en sy het seker.

Sy erken dat die jare voor en ná die ongeluk vir haar twee heeltemal verskillende lewens is en dat sy só daarna kyk om te keer dat sy in donker dieptes verval.

“Ek leef die lewe deur te dink dat dinge om ’n rede gebeur en jy moet dit (wat gebeur) tot jou voordeel, eerder as nadeel, inspan. Ek vermy dit om te dink: ‘Wat as die ongeluk nie gebeur het nie?’

“Ek dink altyd: ‘Ná my ongeluk’. Wanneer jy begin terugkyk, begin jy negatief dink. Dít is hoekom ek nét na die toekoms kyk en altyd praat van ‘ná my ongeluk’.

“Dít is wat mense van my weet. Hulle weet nie van vooraf nie.”

Sy onderskat ook glad nie die deure wat oopgemaak is deur haar tweede lewe nie.

“Wel, dit voel basies soos dit (’n tweede lewe), want voor die ongeluk het niemand geweet wie ek is nie. Al was ek die Suid-Afrikaanse kampioen, het niemand my geken nie.

“Toe gebeur die ongeluk en ek het begin met motiveringspraatjies en ek kon ’n lewe daaruit maak; mense het begin besef wie ek is en ek het baie blootstelling in die media gekry.

“Ek sê altyd my ongeluk het om ’n rede gebeur en daar is baie positiewe dinge wat daaruit voortspruit.

“Natuurlik het ek ook my negatiewe oomblikke en negatiewe tye, maar dit gaan maar net daaroor om positief te bly.

“Niemand weet wat sou gebeur het (as daar nooit ’n ongeluk was) nie en ek hou nie daarvan om daaroor te dink nie,” sê sy met finaliteit, maar voeg by dat sy beslis steeds sou geswem het.

Toe loop die trane

Die tweede droom wat sy as sesjarige dogtertjie gehad het – om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer – het sy verwesenlik toe sy vroeër vandeesmaand vierde geëindig het in die 10 km-marathon by die Internasionale Swemfederasie (Fina) se vyfde oopwaterbyeenkoms in Sevilla, Spanje.

Die eerste tien swemmers het outomaties deurgedring om aan die Spele deel te neem.

“Ek was baie emosioneel. Ek het in trane uitgebars, want ek het nooit kon droom dat ek nou al onder die top-tien sou eindig nie. Maar ek was báie bly,” vertel sy oor daardie groot oomblik. Eintlik maak sy ’n punt daarvan om nooit voor mense te huil nie.

Verlede jaar nog was Natalie vasbeslote om in die swembad oor 800 m vir die Spele te kwalifiseer. Toe die 10 km-marathon egter erken word as ’n Olimpiese item, het haar planne verander.

En dít ten spyte daarvan dat sy in 2003 ná haar eerste 10 km in Egipte gesê het “nooit weer nie”.

Dié item is perfek vir haar, omdat daar nie “draaie en ’n wegspring”, haar twee swakpunte in die swembad, is nie.

Skielik moes sy haar tegniek heeltemal verander en haar afrigter het ’n hele nuwe oefenprogram uitgewerk vir ’n item waarop swemafrigters tot dusver eintlik nog bitter min voorbereid was.

“Niemand weet eintlik presies wat om te doen nie. Ons het maar gekyk wat die oorsese ouens doen en my afrigter het my oefenprogram aangepas.”

Sy het tussen 7 km en 11,4 km in ’n oefensessie geswem en was vir twee drie uur lange oefensessies per dag in die water.

Wendy Trott, nog een van Suid-Afrika se Olimpiese swemmers, James Faure, Sebastian Roussouw en soms Abdul Railoun het gehelp om haar aan te spoor deur saam met haar die lang ure in die swembad deur te bring.

“Hulle hoef dit nie te gedoen het nie, maar hulle hét, net om my te help,” sê sy dankbaar.

Nie soos Oscar nie

Haar derde droom, om te kan hardloop, moet maar eers ’n rukkie wag totdat sy die regte prostese in die hande kan kry.

Die naelloper Oscar Pistorius, wat pas gehoor het hy mag ook aan die Olimpiese Spele deelneem mits hy daarvoor kwalifiseer, sal ook nie sy lemme vir haar kan leen nie, “want dit het nie ’n kniegewrig nie en sy voete is heeltemal te groot”, spot sy.

Terwyl Oscar ’n stryd moes voer om toegelaat te word tot die Spele nadat die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) hom aanvanklik geweier het, was haar toelating tot die Spele eintlik vanselfsprekend nadat sy daarvoor gekwalifiseer het.

“Baie oorsese mediamense het al gevra en nee, dit (vir haar om vir die Spele te kwalifiseer) was nie om vir Oscar te wen nie.”

Sy kan verstaan hoe seer sy hart moes gewees het nadat die IAAF gesê het hy het ’n onnatuurlike voordeel teenoor nie-gestremde atlete.

“Uit ’n nie-gestremde oogpunt kan ek verstaan waarom die atlete nie saam met hom wil hardloop nie, maar dis vir my moeilik om te weet hoe hy voel (omdat sy, anders as Oscar, nie haar prostese nodig het om deel te neem nie).”

Maar sy meen “almal moet toegelaat word om alles in hul vermoë te mag doen om aan die Olimpiese Spele deel te neem”.

Elke nou en dan skemer Natalie die motiveringspreker deur. Sy gee raad: “Maak nie saak wat dit is nie, moenie dat ’n tragedie jou onderkry nie.”

Dan motiveer sy haar Olimpiese mede-atlete: “Almal werk hard om by die Olimpiese Spele te kom. Nou het ons nog net omtrent 80 dae oor en jy moet jou droom om aan die Spele deel te neem, onthou, maar nou moet die fokus na die medaljes toe verskuif.”

Om soos Lance te wees

Wanneer jy vra waarom sy in die eerste plek begin swem het, sê sy dis te danke aan haar boetie wat kleintyd soos ’n vis in die water was.

Daarna het sy aangehou omdat dit haar passie is en “natuurlik laat dit my toe om te eet net wat ek wil”, voeg sy laggend by.

Behalwe vir haar swemloopbaan beplan sy nie juis vooruit nie. Sy weet sy wil nog vier jaar ná Beijing swem, maar dink nog nie eens oor wat sy gaan doen in die twee weke vakansie ná afloop van die Spele nie omdat sy “net op swem fokus”.

Ná daardie vier jaar sal sy moontlik haar studies in sportbestuur voltooi, maar ook dit is nie seker nie.

Vir nou wil sy net haar posisie onder die tien topswemmers by die Spele behou. “Ons gaan net 25 swemmers wees; so dit gaan ’n heel ander situasie wees. Dit gaan kop-aan-kop wees.”

En dan wil sy ook al vyf haar titels by die Paralimpiese Spele suksesvol verdedig. En as sy dít reggekry het, sal sy haar nuwe droom begin najaag: om soos haar held, die fietsryer Lance Armstrong wat herhaaldelik die Tour de France gewen het, wéér in 2012 vir die Olimpiese Spele in Londen te kwalifiseer. “Miskien vir die 10 km, miskien vir die 800 m, ons sal maar sien.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |