Nuwe matriek-foto's
Baie nuwe matriek-foto's is gepubliseer. Gaan kyk daarna. Stuur jou foto vir die JIP/Glitz-kompetisie na jip@beeld.com.
Beeld
Ons rugbyskrywers blog!
Lees Morris Gilbert se Blou Bul, Liam Del Carme se BoHaai, Hennie Brandt se Uit die Leeukuil en Gert van der Westhuizen se Langs die kantlyn.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


‘Sekte’ nou op gelyke voet
May 26 2008 07:41:17:647PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Die AGS se leiers in 'n sessie van lofprysing en aanbidding. Van links is past. Peter de Witt (uittredende hooftesourier), dr. Isak Burger (president), dr. Japie Lapoorta (adjunkpresident) en past. George Mahlobo (hoofsekretaris).Foto: Neels Jackson
Tientalle krukke in die kelder, kerkgeboue net in die onderdorp...Daar is baie veelbewoë momente in die geskiedenis van die Apostoliese Geloofsending, Suid-Afrika se grootste Pinksterkerk, wat vandeesmaand sy eeufees vier. Neels Jackson berig.

Dit is ’n lang pad wat die AGS die afgelope eeu gekom het – van sekte tot hoofstroomkerk.

Dr. Isak Burger, president van die AGS, kry so ’n effense trek om sy mondhoeke as ’n mens dit só stel.

Daar was ’n tyd dat die AGS nie eens gekwalifiseer het om ’n sekte te wees nie, vertel hy.

Vroeg in die vorige eeu het die NG Kerk in ’n besluit verwys na ander kerke, na sektes en dan na “ander uitwasse” – waaronder die AGS geklassifiseer is.

Oor die afgelope 100 jaar het die kerklike toneel in Suid-Afrika egter ontsaglik baie verander.Vandag is die AGS ’n gerespekteerde kerk wat op verskeie maniere sy plek – in sommige opsigte ’n toonaangewende plek – in die samelewing volstaan.

As ’n mens terugkyk oor die afgelope eeu, is dit interessant hoe daar op ’n manier altyd ’n spesiale soort band tussen die AGS en die NG Kerk bestaan het.

Burger self het aan die NG Kerk se teologiefakulteit in Pretoria gestudeer en sy doktorsgraad oor die geskiedenis van die AGS onder ’n NG professor gedoen.

Hy sê die klimaat vir die vestiging van die Pinksterbeweging is voorberei deur die herlewing van die 1860’s wat in die NG Kerk plaasgevind het. Een parallel wat hy tussen die twee kerke trek, is dat die AGS en die NG Kerk die enigste twee kerke in Suid-Afrika is wat Pinksterbidure hou.

Baie wonderwerke

Die AGS het in 1908 in Suid-Afrika tot stand gekom ná ’n preek deur die Amerikaanse sendeling John G. Lake op 25 Mei in ’n swart kerk in Doornfontein, Johannesburg.

Burger sê daar word vertel dat ’n swart vrou tydens dié diens genees is van een of ander opsigtelike siekte.

Presies wat dit was, is nie seker nie.

Die volgende dag het die wit vrou vir wie sy gewerk het, gesien die vrou is genees. Toe sy hoor hoe dit gebeur het, het sy van haar vriendinne genooi om saam met haar na dié kerk te gaan.

Binne ’n week het soveel wit mense na die kerk gestroom dat die swart lidmate buite gestaan het en deur die vensters na binne gekyk het.

Baie van wat in dié nuwe beweging gebeur het, was vir die gevestigde kerke vreemd. Burger vertel egter dat daar reeds ’n klompie jare tevore tussen die Boerekrygsgevangenes op die eiland Ceylon mense was wat ervarings met die Here gehad het wat vir die NG Kerk vreemd was.

Volgens Burger is die onderskeidende kenmerk van die AGS te vinde in die vervulling met of doop in die Heilige Gees.

Dié Pinksterbelewenis gaan gepaard met die spreek in tale en ander gawes van die Heilige Gees soos genesing, profesie en die uitdryf van demone.

Volgens oorlewering het daar in daardie beginjare baie wonderwerke in die AGS plaasgevind.

Burger vertel die staaltjie van die kerkgebou wat hulle in Breëstraat 88, Johannesburg, gehuur het, maar wat hulle moes verlaat omdat dit te duur geword het.

Toe die nuwe huurders die gebou betrek, het hulle in ’n kelder onder die verhoog tientalle krukke, rolstoele en stutte gekry van mense wat tydens die dienste genees is en dit net daar gelos het.

G’n plek in die bodorp

Ondanks die verskille wat van vroeg af tussen die AGS en die NG Kerk bestaan het, was ’n NG predikant die man wat die grootste invloed op die teologiese vorming van die AGS gehad het: die bekende dr. Andrew Murray.

Die eerste Suid-Afrikaanse president van die AGS, P.L. le Roux, wat van 1913 tot 1942 die kerk gelei het, was volgens Burger ’n boesemvriend, vertroueling en dissipel van Murray.

Tot met Murray se dood in 1915 was daar gereeld kontak tussen dié twee kerkmanne.

Baie van die waardes wat in die AGS gevestig is, soos sy lidmate se piëteit en respek vir die gesag van die Bybel, kan daarheen teruggevoer word.

Tog is daar vanuit die NG Kerk van vroeg af op alle vlakke teen die AGS gediskrimineer.

Burger sê as ’n mens vandag nog gaan kyk, sal jy op baie plattelandse dorpies sien die AGS se kerkgeboue staan in die onderdorp. Daar is eenvoudig nie grond langs die hoofstraat aan die AGS verkoop nie.

Die man wat ’n groot rol gespeel het om dit te verander, was sen. Gerrie Wessels, volgens Burger een van die invloedrykste en mees charismatiese leiers wat die AGS ooit opgelewer het al was hy nooit president van die kerk nie.

Wessels was ’n pastoor wat in die vroeë 1950’s groot skares mense gelok het met sy preke teen kommunisme.

In ’n klaarblyklik politieke skuif om stemme te wen het die Nasionale Party vir Wessels ’n setel in die senaat aangebied. Die AGS het toe reeds ’n al hoe beduidender komponent van die kiesers bedien.

Hoewel Wessels se politieke loopbaan hom invloed besorg het wat hy ook ten bate van die kerk kon gebruik, het dit tot geweldige spanning onder lidmate gelei.

Burger sê dít was een van die faktore wat daartoe gelei het dat die Pinkster-Protestantse Kerk destyds van die AGS weggeskeur het.

Heyns het gehelp

In die jare daarna was dit dr. F.P. Moller wat sy stempel op die AGS afgedruk het. Moller, wat van 1967 tot 1988 president van die kerk was, is volgens Burger die eerste AGS-teoloog met redelike geleerdheid.

Hy het drie doktorsgrade gehad en het ’n groot bydrae gelewer om die Pinksterbelewing teologies te verantwoord. Hy het die Pinksterbeweging teologies op die kaart gesit.

Tog was dit nie voor 1990 dat die NG Kerk die AGS as Christelike kerk erken het nie.

Burger vertel dat hy en prof. Johan Heyns, moderator van die NG Kerk in die laat 1980’s, goeie vriende geword het.

Op ’n dag het die Heynse by die Burgers gekuier toe Heyns terloops deur Burger se proefskrif blaai.

Sy oog val toe op ’n besluit wat die NG Kerk in 1945 geneem het waarin die AGS as ’n sekte bestempel is. Hy wou by Burger weet of dié besluit steeds geld. Burger het vir hom gesê dis nooit herroep nie.

Kort daarna, op die NG Kerk se algemene sinode van 1990, het Heyns voorgestel dat die AGS as Christelike kerk erken word.

Dis met ’n meerderheid aanvaar, maar nie sonder dat daar in die jare daarna steeds by ’n klompie destydse NG predikante kwaai ongelukkigheid daaroor was nie.

Ook onder sommige AGS-mense wat nie die agtergrond tot die besluit geken het nie, het dit tot verontwaardiging gelei. Wie is die NG Kerk om te besluit wie is ’n kerk en wie is ’n sekte, wou hulle weet.

Chikane h?l ‘Belhar’

Die 1990’s het egter baie groter veranderinge vir Suid-Afrika gebring – en die AGS is ook ten nouste hierdeur geraak.

Aan die een kant het deure vir die kerk begin oopgaan met dié dat die NG Kerk nie meer so ’n bevoorregte posisie in die samelewing beklee het nie. Aan die ander kant moes die AGS hom ook ten opsigte van die nuwe bedeling oriënteer.

Hoewel die albatros van apartheid nooit so om die AGS se nek gehang het soos om dié van die NG Kerk nie, het dié kerk ook sy erfenis daarvan gehad.

Daar was byvoorbeeld afsonderlike afdelings vir wit, bruin, swart en Indiërlidmate.

Die prominentste swart AGS-leier, eerw. Frank Chikane, is deur baie wit lidmate as ’n vyand gesien.

Hy was hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke al is hy deur sy eie kerk van sy amp as pastoor gestroop.

Die hekkie van versoening was ’n hoë een wat die AGS moes oor. Maar hulle het dit reggekry.

Burger sê as hy nou luister na die debatte oor kerkeenheid in die NG Kerkfamilie, dan klink dit vir hom baie soos die debatte wat hulle destyds ook in die AGS gevoer het.

Dit was dieselfde probleme, al het die name daarvan verskil. Die NG Kerkfamilie sit byvoorbeeld met Belhar. In die AGS was dit Chikane.

As leiers kon hulle mekaar egter vind en hulle kon hul lidmate met hulle saamneem, al was baie lidmate nie destyds lus vir die eenheid nie.

Vandag is lidmate se vrese besweer. Hulle het gesien die spoke wat oor kerkeenheid opgejaag is, het nie gerealiseer nie.

Burger meen die hele AGS is vandag dankbaar dat hy die eenheids-Rubicon destyds oorgesteek het. Daar is baie weinig indien enige wat terugverlang na die era van afsonderlike kerke.

AGS-mense staan sterk

Hoe voel dit om nie meer as ’n sekte beskou te word nie?

Burger glimlag op dié vraag: Dis lekker om jou bediening op ’n gelyke speelveld uit te leef, sê hy.

Maar daar was ook ’n bedekte seën daarin om die teiken van diskriminasie te wees. Dit het mense sterk gemaak. Daar was nie plek vir naamchristene nie.

Maar hy is dankbaar daarvoor dat die AGS vandag in ’n groot mate gelyke behandeling op alle vlakke kry.

Hy put sy grootste vreugde daaruit om te sien hoe die invloed van die AGS en die Pinksterbeweging wyd oor die kerklike toneel in Suid-Afrika gesien kan word.

Die AGS staan sy plek vol in die behoudende evangeliese stroom in die land, sê Burger.

Sentraal in teologie staan Jesus Christus, sy kruis en sy opstanding. Daarmee saam kom respek vir die integriteit van die Bybel as die Woord van God.

Kyk hy na die kerklike toneel, kom baie van die leiers van onafhanklike kerke oorspronklik uit die AGS, sê Burger.

Ook op die NG Kerk is die AGS se invloed onbetwisbaar.

Kyk maar na die liedjies wat NG gemeentes begin sing as hulle begin vernuwe. Dis dikwels liedjies wat die AGS vroeër gesing het.

Burger vestig nie die aandag op homself nie, maar as president van die kerk is baie van die kerk se invloed aan hom te danke.

Binne die NG Kerk word Burger en sy integriteit baie hoog aangeslaan. Daarom dat hy vanjaar die sesde keer agtereenvolgens oor die Pinksternaweek in die NG Kerk opgetree het.

Vanjaar, sê hy so ’n week of wat gelede, het hy al 16 keer in ’n NG kerk gepreek. Hy bestee sowat ’n derde van sy bediening in die NG Kerk.

Maar dis veel wyer as Suid-Afrika dat die Pinksterbeweging die kerklike toneel verander.

In China, sê Burger, doen sewe uit elke agt mense wat tot bekering kom, dit in Pinksterkerke. In Afrika is dit veral die Pinksterbeweging wat veld wen.

In verskeie opsigte het dit een van die hoofstrome, indien nie dié hoofstroom nie, van die Christendom geword – duidelik nie meer ’n sekte nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |