Nuwe matriek-foto's
Baie nuwe matriek-foto's is gepubliseer. Gaan kyk daarna. Stuur jou foto vir die JIP/Glitz-kompetisie na jip@beeld.com.
Beeld
Ons rugbyskrywers blog!
Lees Morris Gilbert se Blou Bul, Liam Del Carme se BoHaai, Hennie Brandt se Uit die Leeukuil en Gert van der Westhuizen se Langs die kantlyn.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


By: Peetkinders
Jul 07 2008 02:52:03:477PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Dana Snyman

Onlangs ry ek vir die eerste keer in hoeveel jaar weer deur Johannesburg se middestad, verby die stasie en die ou ATKV-gebou en Joubertpark, in Doornfontein se koers.

Miskien moet ek gaan kyk of oom Boet en tant Kleintjie se huis nog staan, besluit ek.

Tant Kleintjie was my ma se oudste suster en sy en oom Boet het al die jare in Bertrams, wat aan Doornfontein grens, gewoon. In Ascotstraat.

Maar ek sukkel om Bertrams te kry, want ek was vyftien, twintig jaar gelede daar. Die emfiseem het oom Boet lankal weggevat, en tant Kleintjie is een valstandlose nag in die Hillbrow-hospitaal dood.

Ek het ook nie ’n kaart by my nie. Nie dat ’n kaart jou deesdae in daardie gedeelte van die stad veel help nie: Daar is nie meer straatnaamborde nie. Die straatnaamborde is afgebreek of selfs uitgegrawe en as afvalyster iewers verkwansel. Of dalk is party van daardie borde nou in die mure of dakke van plakkershutte iewers.

Bertrams lyk nie meer soos toe oom Boet en tant Kleintjie daar gewoon het nie.

Dis maar die ou-ou storie: Op die sypaadjies lê bottels en papiere, die huise se dakke dop af, die voorhekkies makeer, die tuine is kaal. Die hoekwinkels is nou China Shops en cash loans-plekke.

Om die draai van oom Boet en tant Kleintjie af, onthou ek, was ’n kafee – ’n Griek se kafee, waarheen ek nie alleen mag gegaan het nie wanneer ons daar gekuier het. Die Griek, het my ma gesê, spuit dwelms by sy swiets in sodat die kinders daaraan verslaaf kan raak. En as jy eers verslaaf is, moet jy altyd na daardie kafee toe teruggaan om van daardie swiets te kry.

Ná heelwat ry en soek kry ek weer daardie Griek se kafee. Maar dis nie meer ’n kafee nie – al is die Coke-teken nog op die gewel en staan die swart letters nog dowwerig daar: Acropolis.

In die Acropolis woon nou mense – nog van Suid-Afrika se peetkinders. Voor die deur sit ’n man op ’n verfblik. Hy het ’n fez op en hy kyk hoe hang ’n vrou in ’n boerka wasgoed op aan ’n tou wat tussen twee pilare op die stoep gespan is.

Alles is nog dieselfde; niks is meer dieselfde nie.

Ek draai links in ’n ander straat in. By een huis het die garage ’n spaza-shop geword. By ’n ander een loer ’n boerbok oor die tuinmuurtjie, met ’n tou om die nek.

Ascotstraat. Ek herken die huis met die regop-dak: die smal voortuin, die sementpaadjie met die krake in, die appelkoosboom langs die garage.

Maar van die stoep se balke af hang nie meer varings in potte nie, en by die voordeur is nie meer ’n delicious monster in ’n groot asbeskelk nie.

Huise is nie jaloers nie. Huise is lankmoedig en vriendelik. Huise word nie verbitterd nie en reken die kwaad nie toe nie.

Huise bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Tant Kleintjie het altyd op ’n bont kussing op ’n hortjiesbank op daardie huis se stoep gesit en brei en Springbokradio-stories luister. Sy was ’n groot vrou, tant Kleintjie. Maar sy was nie van te veel eet so groot nie. Dit was haar kliere se skuld.

Ons het gewoonlik een keer per jaar van Daniëlskuil af Johannesburg toe gekom vir die Randse Paasskou en dan het ons by oom Boet en tant Kleintjie in Ascotstraat tuisgegaan.

Tant Kleintjie sou op die stoep sit wanneer ons in die Valiant op die sypaadjie stilhou. Sy sou swaar orent kom en haar wol oprol; en as dit koud was, sou sy van oom Boet se lang crimplene-kouse onder haar rok aanhê.

Dan sou sy op die boonste stoeptrappie gaan staan met haar arms oop, en dan sou sy iets sê soos: “My mag, julle moet doodmoeg wees. Kom nader! Kom-kom!” Dan sou sy na oom Boet roep: “Boet! Boo-hoe-oet! Die mense is hier.”

En wanneer tant Kleintjie my gesien het, het sy altyd gesê: “Kyk net hoe groot het die kind geword. Mensig, maar hy’t gerek. Kom soen jou tante. Toe, kom gee haar ’n klapsoen.”

Oom Boet se emfiseemhoesie sou iewers weerklink, en dan sou hy met ’n Gatsby-pet op die kop om die hoek van die huis kom, terwyl Buksie, hul foksterriër, sy been teen die Valiant se voorwiel lig.

Dan sou daar koffie wees, en kastrolle wat op tant Kleintjie se Aga-stoof sing.

Altyd wanneer ons ná ’n dag of drie van oom Boet en tant Kleintjie af weggery het, het Ma gesê: “Ek’t so lekker gekuier; ek’t net hopeloos te veel geëet.”

Oom Boet se gholfbalvormige posbus is ook nie meer daar nie, sien ek toe ek op die sypaadjie stilhou. En dit lyk nie of die appelkoosboom meer dra nie.

Op die stoeptrappies sit drie mans. Agter hulle leun nog een teen die voordeur se kosyn. Hulle staar wantrouig na my terwyl ek uit die kar klim en nader stap. Iewers in die huis speel kwaito-musiek. Of ek dink dis kwaito.

“Hallo,” groet ek in die mans se rigting. “You live here?”

“Yes,” antwoord een. Op sy hemp staan Love Machine, en hy praat met ’n aksent wat ek nie mooi kan plaas nie. Is dit Frans? Of Portugees?

Ek gaan staan voor hulle en weet nie juis wat om te sê nie. Wat sê ’n mens? My oom en tannie het hier gewoon en ek wil maar net ’n bietjie kom rondkyk?

“You all live here?” vra ek weer.

“Yes, all of us,” antwoord die een met die hemp weer in daardie aksent. Hy kyk na my. “From where are you?” vra hy.

Tant Kleintjie se stoep is ook lankal nie meer Sunbeam-rooi nie.

“I’m from South Africa,” hoor ek myself antwoord. “I’m actually from South Africa.”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |