Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
By: Madiba in Orania
Die nuwe Suid-Afrika het miskien vir my eers regtig begin die dag toe Madiba by wyle mev. Betsie Verwoerd in Orania gaan kuier het. 15 Augustus 1995. Ek was ook daardie dag in Orania, die dorpie in die Noord-Kaap waar tant Betsie in haar laaste jare gewoon het. Ek was toe ’n joernalis by Huisgenoot en moes ’n artikel oor dié ontmoeting skryf. Die oggend – ek verbeel my dit was ’n Dinsdag – toe ek by die saal op die dorp kom waar die twee sou kuier, onthou ek, het daar reeds polisieskerpskutters op die dak gelê, ingeval daar dalk van iewers af ’n voornemende Wit Wolf sy verskyning sou maak. En oral het mense stil rondgestaan. Orania-mense. Dit voel so lank gelede.
Die notaboek waarin ek daardie dag aantekeninge gemaak het, lê oop hier by my waar ek nou sit en tik. Heel bo op die eerste bladsy, sien ek, het ek geskryf: “Hier is drie ambulanse. Sefie Jooste buk by een in, vat na die radio, en sê: ‘Ek gaan hom nou oorskakel op nasionale roep, manne.’ ” Dit, in ’n sekere sin, het vir my die belangrikheid van die dag saamgevat. Sefie was ’n ambulansman van De Aar of iewers, en toe die helikopter met Madiba uit Bloemfontein se koers aangevlieg kom, toe skakel hy sy radio waarskynlik die eerste en laaste keer ooit oor op nasionale roep, ’n kanaal vir dié wat die president omring. Maar eintlik was die hele wit Suid-Afrika daardie dag op nasionale roep. Tant Betsie was immers die weduwee van dr. H.F. Verwoerd, die argitek van die apartheidsbewind waaronder Mandela tronk toe gestuur is. En Orania, wel, in Orania woon baie mense wat nie sou omgee as Verwoerd steeds eerste minister was nie. Hoekom sou Mandela soontoe wil gaan? Dit was een ding toe hy minder as ’n maand tevore voor die Wêreldbeker-eindstryd in ’n Springbok-trui op Ellispark uitgestap het, maar wat was hy nou besig om te doen? Is dit werklik ter wille van versoening? Skuil daar nie iets agter nie? In ons gemoed hoor ons mos maar knaend die impi’s roep: “Bulalani amatakati!” Nes hulle in 1837 geroep het voordat hulle Piet Retief en sy manne in Dingaan se kraal by uMgungundlovu vermoor het. Tog: Hierdie keer was dit Din?gaan wat na Retief se kraal gegaan het. Dis ’n simpel verge-?lyking, ek weet. Madiba is nie Dingaan nie en tant Betsie nie Retief nie. Dinge in hierdie land is baie ingewikkelder as dít. Ek het geen begeerte om op Orania te woon nie, tog – só het dit gevoel – was daar daardie dag ook vir my iets persoonliks op die spel: Ek wou hê die Oraniërs moet Madiba mooi onthaal. Ek het in ’n dorpie in die Noord-Kaap nie ver van Orania af nie grootgeword, tussen mense wat maar was soos daardie wat die oggend voor die saal vir Madiba staan en wag het: Mans in Grass?hopper-skoene en met vaal pakke waarvan die moue effe te kort was, vroue met ge-teas-de hare. Ooms. Tantes. Madiba moet ons sien soos ons is, het ek gedink. En toe ek by die kombuis langs die saal kom, toe weet ek: Madiba gáán ons sien soos ons is. Die tantes was aan die woel. Die koffiewater het reeds in ’n groot, silwer urn staan en sing. En daar was souttert. En melktert. En koeksisters. En hertzoggies. En krimpvarkies. Op ’n tafel was koppies en pierings en kleinbordjies uitgepak. Noritake. Die Noritake-stel is vir Madiba uitgehaal. My oorlede ma het haar Noritake-stel net op nagmaal-Sondae en op Kersdag gebruik. Oorlede tant Betsie was toe al 94 jaar oud. Wilna Vernon, ’n verpleegster, het by haar gewoon en na haar omgesien. “Tant Betsie is baie op haar senuwees,” het Wilna voor die tyd gesê. “Jy moet darem weet sy is al 30 jaar uit die politiek. Sy is bang die pers vra haar ongemaklike vrae. Een het haar nou die dag gevra of sy Mandela haat. Sy haat hom nie. Sy ken dan nie eens die man nie.” In ons dorp het ons ook nie vir Madiba geken nie. Ek onthou net oom Niek Louw, die polisieman, het een keer vir my pa gesê as Mandela uit die tronk vrygelaat word, is dit net 48 uur, dan is al ons wittes in die see. Toe, net ná tien daardie oggend, land die helikopter met Madiba op ’n ooptetjie naby die saal in Orania. Madiba het een van daardie hemde aangehad wat lyk soos dié wat jy by die China Shop op Hopetown kan koop. Hy het nader gestap en mense met die hand gegroet. Een kêrel met ’n wilde baard en wit skoene het vir Madiba gesê: “Hallo, oupa. Ek’s bly jy’t ons tuiste kom besoek.” Hy vertel ook hoe veilig dit in Orania is: “My bakkie se wheel bearing het nou die dag gegaan. Ek haal toe die ding af, maar ek kry nie klaar nie. Ek los sommer die tools – die spanners en goed, jy weet – daar onder die bakkie. En jy kan nou gaan kyk, dit lê steeds daar. Niemand steel hier nie.” Madiba en tant Betsie se kuiery was privaat, maar Wilma Vernon het darem vir die media kom vertel wat aan die gebeur is: Die president het al vir ’n tweede sarsie koeksisters gevra. En hy drink koffie. Hy het hulle ook vertel hoe hy in sy jong dae altyd koeksisters in Johannesburg gekoop het. Careltjie Boshoff, ’n kleinseun van prof. Carel Boshoff, het ook vir die media ’n liedjie gesing: “Baba swartskaap, het jy baie wol? Ja, baas. Ja, baas . . . ” Ná die koffie en koeksisters het Madiba op die stoep kom staan, ingehaak. Elkeen het die geleentheid gekry om iets te sê. “Ek is hier net so goed ontvang soos ek altyd in Soweto ontvang word,” sê Madiba onder meer. Tant Betsie het van ’n velletjie papier begin lees: “Baie dankie, meneer die president, dat . . . ” Toe begin die papier in haar hande bewe. Madiba vat die papier sorgsaam vas en voltooi die sin: “ . . . u Orania besoek het”. Maak ons nie ’n te groot ophef van Madiba nie? wonder ek soms. Hy bly tog maar net ’n mens. Maar dan dink ek weer aan daardie dag in Orania: hoe Madiba tant Betsie help lees, en koeksisters eet, en geduldig staan en luister na ’n ou met ’n wille baard en wit skoene wat van sy bakkie se gebreekte wheel bearings vertel. Hoe die meeste mense wat die dag daar was, op die ou end besef het hierdie man wil vrede en versoening hê. Het ons daardie hand van versoening gevat? Soms dink ek so. Soms wil ek graag so dink. Soms weet ek nie. Ek weet nie of ’n mens deesdae steeds jou spanners onder jou bakkie in Orania kan los sonder dat dit gesteel word nie. In baie ander plekke in die land kan jy dit beslis nie doen nie. In hierdie land kan jy deesdae geskiet of verwurg word. Jy kan met ’n mes of tuinvurk doodgesteek word. Of jy kan met ’n graaf doodgeslaan word. Jy kan lewendig verbrand of verkrag word. Jy kan beroof of besteel word. Ek luister die laaste ruk knaend na Koos Kombuis se nuwe CD, Bloedrivier. Ek gaan nou, op hierdie oomblik, weer daarna luister. Snit nommer 11: “Waar is Mandela?” Waar is Mandela as die skaduwees daal? Waar is Mandela en wie gaan betaal? Waar is die reënboog? Waar is die glorie? Is die nuwe Suid-Afrika net nog ’n storie?
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|