Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Zimbabwe: Partye is in die drukgang
‘Comrade Robert Mugabe, president van Zanu-PF . . .” sê mnr. Morgan Tsvangirai moedswillig. “Comrade Morgan Tsvangirai, president van MDC-T . . .” kap mnr. Robert Mugabe met skaars bedekte snedigheid terug. Dis was hoe die twee leiers van die strydende partye Maandag met die historiese ondertekening van die memorandum van verstandhouding (MV) oor ’n onderhandelde toekoms vir Zimbabwe mekaar vir die eerste keer in meer as tien jaar aangespreek het. Dis nie dat hulle bly was om mekaar ná al die jare weer te sien nie. Inteendeel, die aanspreekvorm was die eerste skoot in die onderhandelings oor ’n regering van nasionale eenheid (RNE) wat gister in Pretoria sou begin het. Tsvangirai het Mugabe in die proses afgemaak tot net nog ’n partyleier in die geskil. Mugabe – nie ’n politieke analfabeet nie – het Tsvangirai afgerangeer na net ’n faksieleier van die beweging vir demokratiese verandering (MDC). Hierdie tussenspel tydens die ondertekeningsplegtigheid in Harare, onder pres. Thabo Mbeki se toesig, het nie net die grond tussen Tsvangirai en Mugabe gelyk gemaak nie, maar terselfdertyd aangedui waar hul ankers in die grond is. Die pad na kompromie Vir Tsvangirai om na Mugabe as die Zanu-PF-leier te verwys, was ’n doelbewus onsubtiele verklaring dat hy Mugabe se herverkiesing op 27 Junie verwerp. Wanneer MDC-amptenare oor en met Tsvangirai praat, verwys hulle na hom as “meneer die president”. En hulle bedoel nié die “president van die MDC” nie. Insgelyks is Mugabe se verwysing na Tsvangirai as die leier van MDC-T ’n bevestiging dat hy steeds die president van Zimbabwe is en dat hy die uitslag van die verkiesing op 29 Maart, wat Tsvangirai met ’n kortkop gewen het, verwerp. Mugabe se vertrekpunt is gesetel in sy eie woorde kort ná die eenman-verkiesing van 27 Junie: “Ek is Robert Mugabe; ek is die president van die Republiek van Zimbabwe.” Tsvangirai se vertrekpunt is 29 Maart. Hy het in daardie verkiesing 47,9% van die stemme gewen teenoor Mugabe se 43,3%. Die MDC (gekombineerd) het 110 parlementêre setels gewen teenoor Zanu-PF se 99. In die senaat is die telling gelykop 30-30. ’n Verdere 33 senatore word deur die verkose president aangewys. Die MDC het feitlik alle plaaslike owerheidsverkiesings gewen. Die hele internasionale gemeenskap, die Afrika-unie (AU), die Verenigde Nasies (VN), die G8-lande, die Europese Unie (EU) en Suid-Afrika self erken die geldigheid van die 29 Maart-verkiesing. Die politieke afstand tussen 29 Maart en 27 Junie, van waar Mugabe en Tsvangirai nou na mekaar toe moet beweeg, is ligjare van mekaar verwyder. Die MV is slegs die eerste klein skuifelstappie weg van dié ankerpunte na mekaar en ’n kompromis. In enige onderhandelingsproses, veral waar die partye feitlik ewe veel óf ewe min gewig dra, kan verwag word dat hulle hul hakke eers so ver moontlik van mekaar sal inslaan. Daarop volg die gee-en-neem op pad na ’n gedwonge skikking om by ’n kompromispunt uit te kom wat so na as moontlik aan die partye se onderskeie vertrekpunte is en so ver as moontlik van dié van die teenstander. Die taak van die fasiliteerder – in dié geval Mbeki, gerugsteun deur die AU – is om ’n kompromispunt te manipuleer waar albei partye meen hulle is so na as moontlik aan hul realistiese aspirasies. In die geval van Zanu-PF en die MDC lê dié punt so na as moontlik aan ’n bevestiging dat die MDC die wettige meerderheidsparty in Zimbabwe is en dat Mugabe, óf sy aangewese opvolger, die president van die land is en bly. ’n RNE is net haalbaar as ’n kompromis gevind kan word tussen Tsvangirai en sy party se verworwe reg om te regeer en Mugabe se de facto -status as staatshoof. Die drukgang van twee weke waarin die partye hulle nou bevind, is ideaal geskik om die partye van hul trone na die werklikheid van magsdeling te dwing. ) André le Roux is die Afrika-redakteur van Media24.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|