Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Puk: Ouers beïnvloed prestasie
Jy probeer jou bes om jou kursus deur te kom, maar ten spyte van jou moeite het jy ’n hele sleepsel vakke wat jy agter jou aantrek. Daar kom ook nie veel simpatie van die ouers se kant af nie. Inteendeel: die kritiek reën neer soos hael as jy naweke huis toe gaan. Kan jou ouers moontlik ’n aandeel in jou slegte punte hê? Me. Sheryl-Anne Malek, ’n sielkundige verbonde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Instituut vir Kinder- en Volwasseleiding, meen studente se akademie kan nie as ’n geïsoleerde aktiwiteit gesien word nie, maar moet eerder as deel van ’n groter eenheid gesien word. Sy reken die keuse van ’n kind se loopbaan betrek en beïnvloed die hele gesin. “ ’n Mens moet in ag neem dat ’n stresvolle omgewing ’n direkte invloed op ’n student se konsentrasievermoë het. “Gevolglik sal konflik tussen familielede en onnatuurlike druk om te presteer ’n student se studies direk affekteer,” sê sy. Malek meen hoë verwagtinge en invloed van ouers kan bepaal hoe ’n student funksioneer in sy akademiese omgewing. “Ander invloede is ook die student se selfverwagtinge, kulturele en sosio-ekonomiese oriëntering en hoe hy of sy daarvoor aangepas is. “As ouers van vroeg af aan ’n kind wys dat hulle vertroue het in sy vermoë, ondersteun dit die kind se selfvertroue.” Sy sê positiewe gebare van die kind se ouers se kant af dien weer as motivering vir hoër akademiese prestasies omdat die kind dan meer selfvertroue in sy eie vermoëns het. Malek sê ook dit help baie as ouers hul kinders aan hul eie loopbane blootstel en inlig oor die werkvereistes. Die kind kan dan deur die ouer se ervaring vertroud raak met verskillende loopbane en hierdeur sy eie loopbaan oorweeg. “Dit gebeur egter dat ouers te betrokke raak in hul kinders se jong volwasse lewe en só die normale ontwikkeling tot onafhanklikheid belemmer,” waarsku sy. Wat van ouers wat hul kinders dwing om ’n sekere rigting te studeer, hoewel die kind in iets anders belang stel? “Dit is belangrik om te onthou dat mense verskillend reageer in verskillende situasies.” Daar is dus geen standaardformule om ’n student se reaksie te voorspel as hy of sy gedwing sou word om in ’n rigting te studeer waarin hulle nie belang stel nie. “Dit is waar motivering die maak of breek van ’n student se loopbaan vorm. “Indien ’n student dit moontlik vind om ten spyte van vooropgestelde verwagtinge steeds sy eie motivering te skep, is daar geen rede waarom hy nie sal kan uitblink nie. “Sommige studente kan volhou daarmee om hul ouers se ideale na te streef en in die proses besef dat dit vir hulself ook ideaal is. “Ander kan later onvergenoegd voel en ’n hele ander rigting verkies,” sê Malek. Sy sê alles hang af van die interne motivering wat studente moet skep om vol te hou met die studievereistes. “Dit is hoekom dit van uiterste belang is vir studente om hulself te ken en aan te pas by die studentelewe.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|