Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
UJ: Bastion kry hoogste noot
Musiek soos die sang van nagtegale, stemme wat dreun, gumboots wat die aarde laat skud en die sagte streling van ’n engel se stem. Dít en meer is wat die gehoor van die Serrie 2008-kompetisie beleef het. Die manskoshuis Bastion het Donderdagaand weggestap met die louere met hul fabriekswerkers-roetine, terwyl Lebone die vroueafdeling gewen het met hul sangvernuf en skoonmakerkostuums. Stephan Wolmarans, kultuur-huiskomiteelid van Bastion, sê hulle is baie tevrede met die uitslae. “Die hele serrie het nie vir ons gevoel soos ’n kompetisie nie, ons het net baie pret gehad. “Vanjaar se groep was ook redelik jonk en daar was ’n lekker gees en kameraadskap onder die mans.” Elke koshuis het vir maande lank voorberei om in die topses te beland en so maak Skoonveld, Benjemijn, Afslaan, Lebone, Oppierif en Bastion dit deur na die gala-aand. Die ligte gaan af, die huis is donker, en stilletjies sluip die Squeezas van Lebone tot op die verhoog. Hulle sing uit volle bors en is glad nie bang om te wys wat in hul steek nie. Oppierif het die tradisionele pad gevolg en ’n vertoning gelewer wat na aan hul wortels lê. Hulle was myners en met sterk stemme, ritmiese liedjies en ’n goeie storielyn was die gehoor betower. Bastion het groot gumboots gehad om te vul na dié vertoning. Hulle is dalk nie myners nie, maar dié fabriekswerkers is nie bang om hul manlikheid te wys nie. Hul werkersuitrustings en stuitige boodskappe tydens hul roetine (met ’n oulike boodskap aan Nita van der Berg, die studentedekaan) het die gehoor gaande gehad. Ná die pouse het Afslaan weggespring en met die hulp van ’n sogenaamde dr. Pieter vinnig lewe in ’n pasiënt ingesing. Benjemijn was stylvol geklee in groen-en-swart uitrustings en het die gehoor hoendervleis tot in hul kleintoontjies gegee met Koos du Plessis se “Kinders van die wind”. Skoonveld het ook nie geskroom om hul plek as die gewildste huis te vul nie en volbors uitbasuin “It’s raining men”. Hul geel reënjassies en swart sambrele het perfek by dié storm gepas. “It’s raining Skoonveld,” het een van die lede van die gehoor na die optrede gesê. ) Skoonveld het die algehele prys gewen vir beste eie komposisie en ook beste voorgeskrewe lied vir dames. Bastion het die prys gewen vir die beste voorgeskrewe lied vir mans en Oppierif sit op die troon vir mees diverse groep. Kyk ook na die foto’s van die gala-aand op bl. 2.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|