Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Tuks: Ruda het hoop vir land en sy jonges
May 13 2008 05:55:28:043PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Ruda Landman verduidelik hoe belangrik dit vir mense is om na mekaar te luister. Foto: Inge van Rensburg
Mia Willemse


Die atmosfeer is gelaai met afwagting.

Niemand weet wat om te verwag van hierdie sterk “leeuwyfie” wat al tot binne die hartjie van Afrika na die waarheid gaan soek het nie.

Ruda Landman is in swart geklee, maar die helderrooi gordel om haar middel trek onmiddellik jou aandag.

Dié gewese ondersoekende joernalis van M-Net se televisieprogram Carte Blanche is passievol en nie bang om uit te staan nie.

“As daar een ding is wat ek oor die afgelope paar jare geleer het, dan is dit om te luister,” is Landman se les aan die studente wat na haar kom luister het. Die Journalism Society het haar genooi om studente en spesifiek B.A.-talestudente wat in joernalistiek spesialiseer toe te spreek.

Landman, wat by die Universiteit van Stellenbosch studeer het, het ook ’n graad in tale verwerf.

“Om ’n student te wees, is iets wat niemand van jou kan wegneem nie en dis ’n fantastiese tyd in jou lewe, maar moenie net deur die lewe sweef soos ek gemaak het nie. Lees. Neem in. Daar is so baie rykdom in literatuur.”

Op skool en universiteit was hierdie ystervrou die meisie wat mondelinge verpes het. Die een wat die werk as die openbare spreker in ’n groep vermy het en ook die een wat ’n vak sou los as dit te veel pratery vereis het.

Maar dis tydens haar ervaring by Monitor, ’n radioprogram op RSG, waar die vurige Landman wat ons vandag ken, gebore is.

“In radio kan niemand jou gesig sien nie, so jy kan foute maak en jy kry ’n kans om jou persoonlikheid ten volle te ontwikkel. Ek het só baie geleer.”

Die lyne op haar gesig vertel van die avonture wat sy al beleef het. Van die wonderlike stories wat sy al beleef het, sluit in toe mense wat hul grond in die ou bedeling verloor het dit weer teruggekry het. Maar daar was ook bang-oomblikke, soos toe sy midde-in ’n oorlogsituasie in Mogadishu vasgekeer is.

“Joernalistiek vat jou na plekke waar jy nooit gedink het jy gaan wees nie. Dis ’n fantastiese rigting. Jy weet nie wat nog op jou wag nie.” Sy is nie meer die skaam, teruggetrokke meisie nie, maar ’n vrou wat hoop het vir ons land, vir ons mense, en vir studente en jong mense.

Sy haal haar 21-jarige seun, Johannes, aan: “Ma, ons gaan die wêreld verander. Óns generasie.”

Professionele trots straal uit Landman. En dis hierdie trots wat sy in jong harte wil laat posvat.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |