Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
UJ: Regruk moet nou gebeur
Sportprestasies en Isaac Newton het baie gemeen. Soos almal (hopelik) weet, moet iets wat opstyg altyd weer daal. Na die prestasies wat die Universiteit van Johannesburg (UJ) se eerste sokkerspan die afgelope twee jaar bereik het , was dit ’n uitgemaakte saak dat hulle een of ander tyd weer aarde toe moes kom. Spelpeil van enige individu of span is maar altyd wisselvallig en die span bevind homself tans in die sesde posisie in die Gauteng-Oos-Superliga se eerste divisie. Hoewel ’n afname in spelpeil die helfte van die prentjie skets, is die ander faktor ’n taboe in die milieu van sport. “Om eerlik te wees, sukkel die span om homself te motiveer,” sê Sibusiso Mthembu, spanbestuurder. Daar is egter ’n rede hiervoor. “Dié situasie is ’n uitvloeisel van ons Sassu-toernooi-oorwinning. Sonder om oormatig krities te wees, het ons baie min erkenning vir ons prestasie gekry. Dit was nie eers genoem op die Sportburo se webtuiste nie en dit het die spelers se sielkundige toestand ’n dwarsklap gegee,” verduidelik Sibusiso. Ten spyte van stagnering in die Superliga, het die span homself reggeruk vir die Sassu-kwalifiseringswedstryde. “Die manne herwin hul intensiteit vir dié wedstryde omdat hulle graag die verdedigende kampioen wil bly. Dit is ook ’n lekker uitdaging vir hulle omdat die meeste spanne spesifiek daarop fokus om ons te wen.” Dit verskoon egter nie hul onderprestasie in die Superliga nie. “Gemotiveerd of nie, die Superliga is die enigste manier hoe ons werklik ’n groot rolspeler in Suid-Afrikaanse sokker kan word. Ons is die enigste klub by ’n tersiêre instelling wat nog in Gauteng se laer ligas meeding,” sê Sibusiso. Die span moet die Superliga se eerste divisie wen om bevorder te word na die Castle-liga, wat die trappie na die Vodacom-liga is. Bevordering na die Vodacom-liga beteken dat ’n span sy stem dik kan maak in Suid-Afrikaanse sokker. Dit gaan egter nie maklik wees nie. “Dit is definitief maar ’n drie tot vier jaar lange proses. ’n Mens sal maar geduldig moet wees, maar daar is geen twyfel dat die span op daardie vlak sal kan presteer nie. Ons het baie beter ondersteuningstrukture as ander spanne en ’n goeie borgskap wat ons baie help,” erken Sibusiso. Sy geloof in sy span word geregverdig deur die feit dat hulle juis in ’n vriendskaplike wedstryd teen Bahomi Stars, wat in die Vodacom-liga meeding, met 3-2 met die louere weggestap het. Hulle het ook verlede Saterdag die Superliga se voorlopers, Luso Africa, ’n span wat ook in die Vodacom-liga deelgeneem het, met ’n 1-1-uitslag gestuit. Die groot vraag bly dus of die span dit sal regkry om sy sielkundige futloosheid af te skud, want klaarblyklik het die span die vermoë om te presteer.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|