Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Hoë kragprys as afskrikmiddel ‘werk net tot ’n punt’
Deur vrees oor die elektrisiteitsprobleme by die publiek in te boesem, kan hulle aangespoor word om minder krag te gebruik, maar dié strategie kan ook te ver gevoer word. Só het bedryfsielkundiges gister gereageer op die strategie van voorgestelde prysverhogings wat Eskom wil inspan om verbruikers aan te moedig om minder elektrisiteit te verbruik. Verhogings in tariewe van tot 60% is onlangs deur Eskom aanbeveel. Luidens ’n berig in die Sunday Independent is ekonome glo tydens ’n inligtingsessie deur amptenare van die departement van openbare ondernemings ingelig dat die rede agter die skielike skerp styging is om verbruikers te skok sodat hulle hul gedrag só verander dat kragverbruik permanent met 10% sal verminder. Mnr. Ziel Bergh, verbonde aan die fakulteit bedryfsielkunde by Unisa, meen vrees as afskrikmiddel werk baie keer. “Mense wil eerder gemaklik wees as swaarkry en in baie gevalle sal hulle minder elektrisiteit gebruik as hulle met hoër pryse of selfs die afsny van krag gedreig word.” Hy meen egter dié afskrikking kan te ver gevoer word sodat mense later nie gehoor daaraan gee nie. Volgens Bergh wil dit tog voorkom of besparing by die meeste mense begin posvat en dat hulle besef dat hulle met minder moet klaarkom. Prof. Coen Bester, bedryfsielkundige verbonde aan die Vrystaatse Universiteit, verwys na twee sienings om mense se gedrag te verander. “Die een is die sogenaamde effek van Thorndike waar jy ’n bepaalde respons van mense wil hê en wanneer jy dit kry, beloon jy dit. Die ander is deur ’n soort skrikbewind.” Bester meen verbruikers sal meer doen om elektrisiteit te bespaar as die probleme in dié opsig deursigtig en volledig aan hulle gekommunikeer word. “As daar egter verdagmakery is en mense byvoorbeeld vertroue in Eskom of sy leiers verloor, kan daar ’n vertrouensbreuk ontstaan. Mense glo dan later nie meer wat hulle hoor nie.” Volgens Bester is mense nog bereid om ’n bydrae te lewer om krag te spaar deur byvoorbeeld hul geisers af te skakel of van alternatiewe soos gas of opwekkers gebruik te maak.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|