Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Kers eis 3 van gesin ná krag af is
Swartruggens. – ’n Bejaarde egpaar en hul seun het hier gesterf in ’n brand wat vermoedelik deur ’n kers veroorsaak is ná ’n kragonderbreking. Die lyke van mnr. Guillaume Johannes Oberholzer (79), sy vrou, Cornelia (73), en hul seun, Lourens (46), is in hul huis in Kerkstraat gekry. “Ek het wakker geword van ’n geraas wat geklink het soos klappers in ’n blik,” het ’n geskokte mev. Christine Cilliers, wat oorkant die Oberholzers bly, gister vertel. Toe sy uitkyk, was die huis in vlamme gehul. “Die vlamme het al by die dak uitgekom.” Volgens haar het byna niks, behalwe vir die voorste muur, behoue gebly nie. Al wat op die toneel herkenbaar was, was ’n paar stukke messegoed, koperpotjies en kastrolle. Supt. Koos Degenaar, provin-siale polisiewoordvoerder, het gesê dit lyk of ’n kers die brand veroorsaak het, “maar ons wag nog vir die finale verslag van die ondersoek”. Daar was die aand ’n kort kragonderbreking, het mense op die dorp vertel. Dit blyk asof die huis met sy houtvloere reeds ’n geruime tyd gebrand het toe Cilliers hulp ontbied het. Die Oberholzer-egpaar het sedert 1979 op die dorp gebly. Hul seun, Lourens, was geskei en het by sy ouers gewoon. Hy het nie kinders nie. Mev. Oberholzer se oorskot is digby die agterdeur gekry, haar seun se lyk in die gang en dié van haar man in ’n aangrensende vertrek. “Dit lyk of hulle uit die huis wou kom, maar (deur die rook) oorval is,’’ het ’n inwoner, wat anoniem wil bly, gesê. Mev. Sarie Oberholzer, die Oberholzers se skoondogter wat met hul oorlewende seun Jan (50) getroud is, sê haar skoonouers was wonderlike mense. “My skoonma was verfynd en sou byvoorbeeld vir jou koffie maak in ’n koppie met ’n piering, op ’n skinkbord. “Sy kon die lekkerste kos maak,’’ vertel sy. Bure en kennisse op Swartruggens onthou die egpaar as stil, nederig, sout van die aarde, Christelik en “regte plattelandse mense”. Cilliers sê dis vir hul almal ’n “vreeslike, vreeslike” skok. “Weet jy, ek sou hulle partykeer dophou, dan lei hulle die tuin nat – so saam-saam terwyl hulle hande vashou.” Mnr. Oberholzer het by ’n myn buite die dorp gewerk en mev. Oberholzer was ’n huisvrou.
|
|||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|