' 'n Kankerpasiënt moet déélneem'
Dr. Ivan Cohen het nie gedink hy gaan lewend wees wanneer sy boek verskyn nie.
Beeld
Super14-bepalings en -uitslae
Bepalings, uitslae, puntestand in 2008 se Super14-rugbyreeks. Klik hier vir die spanne, hul kleure. Nuwe reëls.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web   Teken in
Vennote


Boetestelsel nie die enigste oplossing
Apr 28 2008 04:58:29:363PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Heléne Cilliers


Die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika sal nie opgelos word deur die instelling van slegs ’n boetestelsel nie, glo mnr. Koot Naudé, die bedryfshoof by Iskhus Power.

Dié onderneming, wat op energiedoeltreffendheid fokus, het al talle groot maatskappye gehelp om ’n beduidende hoeveelheid elektrisiteit te bespaar.

Maar Naudé voel dis onregverdig dat dié maatskappye groot bedrae geld bestee om meer energiedoeltreffend te wees, en dan aan dieselfde boetestelsel onderwerp word as maatskappye wat niks omtrent besparing doen nie.

“Die Carlton-sentrum het R10 miljoen bestee om sy gebou energiedoeltreffend te maak. Dié sentrum se elektrisiteitsverbruik is nou 23% minder as voorheen, maar as daar kragonderbrekings is, word dit ook daardeur getref. Dis ’n onregverdige stelsel,” sê Naudé.

Volgens hom het ’n boetestelsel alleen nog nooit gewerk nie.

“Wêreldwyd is daar altyd ’n wortel én ’n stok met enige strategie wat geïmplementeer word.” Naudé sê ’n nasionale energiestrategie in Suid-Afrika behoort uit drie komponente te bestaan, naamlik prys, gedrag en tegnologie.

Wat prys betref, moet daar aanpassings gemaak word. Dit beteken nie net dat daar verhoogde tariewe ingestel moet word nie, maar daar moet ook gekyk word na ondernemings wat ooreenkomste met Eskom het waar die tariewe wat hulle per eenheid betaal, baie laer is as wat dit kos om die elektrisiteit te produseer.

Om verbruikers se gedrag te verander, sal daar egter aansporings moet wees en nie net boetes nie, glo Naudé. “Ekurhuleni is die enigste metro wat ’n korting van ’n half persent aan ondernemings toestaan as hulle ’n 10%-besparing kan bewys.”

Derdens moet ’n mens kyk na die tegnologie wat ingespan kan word om energie te bespaar. “Kragopwekkers los een probleem op, maar dit gaan vir ons ’n dieselprobleem skep,” sê Naudé.

Energiebesparende gloeilampies sal ’n groot bydrae tot kragbesparing lewer, maar ’n oplossing sal gevind moet word om veilig ontslae te raak van gebruikte lampies wat gifgasse bevat.

’n Mens kan baie doen deur byvoorbeeld die elektriese las te verskuif na tye wanneer meer krag beskikbaar is, maar dit is meer doeltreffend by groot ondernemings.

“In ’n huis gaan dit selde ekonomies wees om krag so te bespaar. Almal moet bydra om die land as geheel te help. En dis hoekom aansporings noodsaaklik is.”

Naudé sê daar is baie ander tegnologie in die wêreld beskikbaar wat energiedoeltreffend is en waarvan baie in Suid-Afrika beskikbaar is.

Die Carlton-sentrum, Emperors Palace, die Tafelberg-kabelkar en verskeie ander groot ondernemings is voorbeelde hiervan.

Hulle besef dat die elektrisiteit wat hulle bespaar elders gebruik kan word tot voordeel van die hele land.

Die Peermontgroep het nog vóór die elektrisiteitskrisis ’n stelsel deur Iskhus in sy elektriese verspreidingsnetwerk laat installeer, wat tot groot kostebesparings gelei het.

“Ek voel persoonlik nie dat ons enige voordele moet kry nie. As ons die pas aangee, kan kleiner ondernemings en individue dalk ons voorbeeld volg wanneer hulle sien wat die voordele is,” sê mnr. Jim Flaherty, groep-onderhoudsbestuurder by Peermont.

Tog glo Naudé dat Suid-Afrikaanse sakeondernemings oor die algemeen nie toegewyd genoeg is aan nasionale prioriteite nie.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |