Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Kragkrisis, duur kos tref werkers ergste’
Klerksdorp. – Mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, het die energiekrisis, hoë kospryse en misdaad as die Suid-Afrikaanse werkersklas se grootste krisisse uitgelig. Zuma was gister die eregas by die vakverbond Cosatu se Werkersdag-byeenkoms by die James Motlatsi-stadion (voorheen die sir Harry Oppenheimer-stadion) in Orkney buite Klerksdorp. Ander leiers wat die skare toegespreek het, sluit in mnr. Membathisi Mdladlana, minister van arbeid, dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, mnr. Sidumo Dlamini, waarnemende president van Cosatu en me. Edna Molewa, premier van Noordwes. Die skare het “Awulethu’ mshini wami” (“Bring my masjiengeweer”), Zuma se bekende liedjie, luidkeels gesing toe hy die stadion binnegekom het en weer aan die einde van sy toespraak toe hy self hoofsanger was. Zuma het aan die sowat 13 000 mense gesê die energiekrisis moet as ’n geleentheid – en nié ’n probleem nie – beskou word. “Dit is ons geleentheid om elektrisiteit doeltreffender te gebruik en meer in infrastruktuur te belê. Dít sal weer nuwe werkgeleenthede skep.” Hy het die publiek gemaan om saam misdaad te beveg deur nie gesteelde goedere te koop nie en ook nie eie reg te gebruik nie. Kospryse was boaan die agenda met konsensus onder die sprekers dat die werkersklas die swaarste geraak word. “Ons sal samesprekings met sleutelspelers soos produsente, boereverenigings en handelaars voer om ’n oplossing te vind,” het Zuma gesê. Hy het ook gesê die regering se grondhervormingsprogram is “teleurstellend” en dat baie werk voorlê om die ANC se Polokwane-resolusie om 30% van landbougrond teen 2014 aan swart boere oor te dra, te bereik. Tans is slegs 4% van landbougrond in swart besit. “Ons moet arm mense se belange bevorder, maar terselfdertyd nié die kommersiële landbousektor se volhoubare groei belemmer nie. “Ek het onlangs met wit boere vergader en hulle steun grondhervorming en breë swart ekonomiese bemagtiging,” het Zuma gesê. Molewa het op haar beurt gesê sommige boere respekteer nog nie hul werkers se arbeidsregte nie. “Plaaswerkers en huiswerkers, veral in die plattelandse gebiede, het nie tans ’n sterk vakbond nie. Dit maak hulle baie kwesbaar. Die struggle teen rassisme en armoede duur voort,” het sy gesê. Dlamini het gesê die negatiewe ekonomiese faktore soos stygende brandstofpryse en voedselpryse is nie ’n probleem vir die ryk elite nie. “Hulle kan hul leefstyle aanpas. Die arm mense hét nie gordels om stywer te trek nie.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|