Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Opwekkers kos hospitaalgroepe miljoene rande
Hospitaalgroepe bestee miljoene rande aan ekstra noodkragopwekkers omdat Eskom nie altyd kragtoevoer kan waarborg nie. Ingevolge die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde moet hospitale op plekke soos teaters bystandkrag hê vir ingeval die gewone kragtoevoer onderbreek word, sê me. Marietjie Shelly, woordvoerder van die Life Healthcare-groep. Met die kragonderbrekings die laaste paar maande moes hospitale egter gereeld op dié bystandkrag funksioneer. As ekstra voorkomende maatreël vir wanneer die bystandkrag dalk onderbreek sou word, is nóg bystandkrag nodig. Volgens Shelly het dié groep sowat R45 miljoen opgedok vir nóg noodkragopwekkers vir “sy grootste hospitale”. Dié kragopwekkers word ingevoer en gaan eers oor ’n paar maande in werking wees. Die Netcare-groep het R15 miljoen aan noodkrag-opwekkers by vier van sy hospitale bestee, het dié groep reeds vroeër aangekondig. “Dit kos twee tot ses keer meer om op noodkrag te funksioneer as op gewone elektrisiteit,” sê Shelly. By die Life Fourways-hospitaal in Johannesburg was daar die laaste paar maande sowat twee kragonderbrekings per week. “Dit het die hospitaal R7 000 per week gekos om die kragopwekker te laat werk,” sê Shelly. Dit is beleid by albei hospitaalgroepe om operasies te voltooi wanneer die krag afgaan, maar om nie met ’n operasie te begin wanneer net die noodkrag beskikbaar is nie. “Ons het egter nog nooit ’n probleem met ons kragopwekkers gehad nie,” sê Shelly. Toe die krag eergister tydens ’n hartomleidingsoperasie in die Fourways-hospitaal afgegaan het, is Eskom gekontak om die kragtoevoer te herstel “as ekstra voorsorgmaatreël,” het sy gesê. Die operasie, wat gedeeltelik met noodkrag gedoen is, is suksesvol afgehandel, het Shelly gesê. Eskom kon teen druktyd nie sê wat die rede vir die kragonderbreking was nie. Altesame tien staatshospitale in Gauteng was kwytgeskeld van die afgelope twee maande se geskeduleerde kragonderbrekings. “Dít omdat hulle probleme gehad het met hul noodkragopwekkers,” het mnr. Louis Pieterse, woordvoerder van City Power, gesê. Dr. Obakeng Mookeletsi, adjunk-direkteur-generaal van die Gautengse gesondheidsdepartement, het vroeër gesê die kwytskelding was nodig om noodkragopwekkers te versien en te herstel.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|