Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Jy gaan ’n kalmeerpil nodig hê
Sep 05 2007 04:57:22:807PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
'n Rit wat jou na 'n sigaret laat smag, selfs al rook jy nie. Die nuwe M3 is 'n reusesprong vir BMW.
Verwante Berigte
  • Óm die maan met 'n M3
  • 'n Renmotor vir die teerpad
  • Video:Jy gaan ’n kalmeerpil nodig hê
  • Leo Kok


    “Vat maar my hand as jy bang word.”

    Die spoed is 150 km/h en die enjin gil luidkeels in derde rat. Die M3 skiet sonder enige huiwering op ’n regsdraai aan die einde van die boonste pylvak af. Dis die Killarney-renbaan in Kaapstad.

    Op die nippertjie net voor die draai skop die bestuurder die rempedaal in soos ’n befoeterde merrie in die J&B Met, pluk die stuurwiel na regs en flik-flik die stuur dan sodat ek, die passasier, eerste deur die draai gaan.

    Agter die stuur gesels Augusto Farfus, bloedjong punteleier vir BMW in die FIA-wêreldtoermotor-reeks, asof ons besig is om tee en koekies langs die swembad te geniet.

    “As ons dit in ’n gewone kar gedoen het, het ons nou gerol,” sê hy. Teen dié tyd het die M3 die 230 km/h-kerf op die agterste pylvak verbygesteek.

    Farfus is deur BMW na Suid-Afrika gebring om te wys waar die perke van sy nuwe M3 sit, want ’n normale lid van homo sapiens se moed sal hom begewe lank voor die M3 ontsenu raak.

    Die paar rondtes agter die stuur en saam met Farfus, en natuurlik oor ’n paar bergpasse in die Kaap, het een ding duidelik bewys. Die nuwe M3 is sy voorganger ver vooruit en gewis een van die beste sportmotors op die mark.

    ’n Mens hoef net na die syfers te loer om te sien hoe die M3 verander het. Die gelid-sessilinder (252 kW) het uiteindelik afgetree en in sy plek is daar ’n V8 van 4 liter. Die enjin word gegiet en gemonteer in BMW se F1-aanleg in Landshut, Duitsland, en teen ’n piek van 8 400 r/min het dit die hoogste toere wat BMW nóg in ’n produksiemotor ingebou het.

    Die nuwe V8 het onafhanklike kleppe vir elke silinder, ’n nat-oliebak wat teen twee maal swaartekrag steeds werk, ’n aluminium-silikon-krukas en ’n enjinbeheerstelsel wat meer as 200 miljoen besluite per sekonde neem.

    Die syfers vertel die storie nog beter. Die V8 lewer sy piek van 309 kW teen 100 r/min onder die enjinpiek en die 400 Nm-wringkrag beteken die monster versnel deur 80% van sy toerestrek soos ’n weghol stoomtrein teen ’n berg af. Interessant genoeg weeg die V8 15kg minder as die ou gelid-ses.

    Die 100 km/h-strepie verdwyn in 4,8 s en die topspoed word elektronies beperk tot 250 km/h. Jy kan dit in vyfde haal, met die sesde rat wat nog in sy uiters sekure handratkas wag om gebruik te word.

    Die enjin is egter net een stukkie in hierdie indrukwekkende legkaart. Onder die vel is ’n nuwe veringstelsel, met magnetiese verstelling as opsie, wat slegs twee smal stutplaatjies van die vorige M3 oorgehou het.

    Die onderstel is so sekuur en vergewend dat BMW na ’n week van bekendstelling op Killarney nie bande geruil het nie. Dit beteken dat die onderstel al die verskillende bestuurders se insette kon filtreer sonder dat die bande te veel moes help klou.

    Die nuwe veringstelsel gebruik aluminium ruimskoots om gewig te bespaar en die gewig is gelykop verdeel tussen die voor- en agterwiele. Tussen die agterwiele is ’n elektroniese beperkte glip-ewenaar wat geen fisiese glip nodig het om al die krag tussen die twee agterwiele te verdeel nie. Tot 100% van die krag kan na enige van die wiele gaan.

    Terug op die teerpad rond die M3 die prentjie af. Die nuwe enjin voel soepel en uiters kragtig, maar nie so fynbesnaard soos sy voorganger nie. Dit beteken ’n mens kan soos ’n beskaafde bestuurder in die verkeer ry sonder om te sweet.

    As jy besluit om sy oor te draai, sal die stuurwiel (sien bl.4) jou alles vertel wat op die pad aangaan en sluk die M3 kilometers soos min ander motors.

    Die nuweling kos R650 000, ’n mededingende prys vergeleke met motors soos die 911 en RS4. Vir R55 000 ekstra kry jy palwisselende magnetiese ritbeheer, die M-drive-stelsel van die M5 en M6, satellietnavigasie en groter sitplekverstelling.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |