Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Laaste kans vir daai vierde plek, Adrian
Dis ’n geval van reg of weg vir die Suid-Afrikaanse A1 Grand Prix-span as hulle die naweek by die Brands Hatch-baan in Engeland gaan aantree. Danksy die jong Adrian Zaugg se drie seges en vier eerste wegspringplekke – en die res van sy reeks goeie vertonings regdeur die jaar – kan die SA span by Brands Hatch aantree as die vyfde span op die kampioenskapsleer. Nie net is dit hul beste seisoen nog die afgelope drie jaar nie, dis ook ’n uitsonderlike prestasie in dié nuwe reeks waar 22 lande teen mekaar meeding. Die Suid-Afrikaners het nog elke seisoen merkbaar verbeter, en vanjaar was die seisoen waar hulle uiteindelik sesde rat gevind het. En nou wag die naelbyt- laaste byeenkoms op hulle. Dit gaan naelbyt wees, want hoewel hulle nou vyfde is, is daar twee vaardige spanne op hul hakke wat gesamentlik in die sewende plek is. Duitsland en Ierland, wat albei al renne met gemak gewen het, is net nege punte agter Suid-Afrika. Die positiewe kant van die saak is egter dat Brittanje, wat tans vierde op die punteleer is, op sy beurt net ’n valhelm-lengte van sewe punte voor die Suid-Afrikaners lê. Zaugg-hulle kan dus tydens Sondag se kort snelren en die daaropvolgende hoofren daarop fokus om óf hul voorsprong bo Duitsland en Ierland te beskerm óf hulle kan voet in die hoek sit en kyk of hulle nie die vierde plek by die Britte kan oorneem nie. Sommer so voor hul tuisskare. Maklik sal dit egter nie wees nie. Die Brands Hatch-baan is juis die baan waar die A1-reeks se heel eerste ren destyds gehou is. Dis net 32 km buite Londen, en gevolglik kan baie mense soontoe opruk om hul span te ondersteun. Die baan self is 4,2 km lank en het ’n effens golwende profiel. Dit bestaan uit ’n reeks vinnige veegdraaie en behoort die A1-motors goed te pas. Volgens die SA span se spanbaas, Mike Carroll, sien hulle baie uit na die byeenkoms. “Ons het wel ’n bietjie teëspoed gehad gedurende die seisoen, veral in Mexiko toe Adrian ’n pap wiel gekry het toe hy besig was om die ren te wen. “Maar dis hoe dinge in motorsport gaan. Dis ons suksesvolste seisoen nog, en ons tegniese samewerking met die Franse span het ook baie tot ons goeie vertonings bygedra. “Dit gaan moeilik wees, maar ons sien uit na die uitdaging,” het Carroll vandeesweek voor die byeenkoms gesê. Switserland is tans die voorloper in die reeks met 150 punte en behoort die seisoen te wen te oordeel na sy reeks puik vertonings regdeur die jaar. Nieu-Seeland is tweede met 121 punte. Frankryk het hier en daar ’n hikslag gehad en is nou derde met 111 punte, maar steeds binne bereik van die Kiwi’s. Brittanje het 99 punte, gevolg deur Suid-Afrika met 92 punte.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|