Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Die syfers verklaar dié vuurpyl se naam
Wat kry ’n mens deesdae vir R4 miljoen? Wel, jy kan ’n Rolls koop, mits jy nie te veel regmerkies langs die legio opsies sit nie. Jy kan selfs vir jou ’n oulike eenslaapkamerwoonstel met beperkte see-uitsig op die buitewyke van Clifton aanskaf. Aan die ander kant kan jy jou Duits afstof, Brabus bel en ’n Brabus Bullit Black Arrow bestel. Maak net seker jy het ’n paar rand vir die invoerbelasting en lugvervoer. Hoekom ’n Bullit? Wel, jy gaan nêrens anders ’n V12-bi-turbo-C-klas kan aanskaf of die kans kry om 360 km/h in ’n relatief klein vierdeur-sedan te doen nie. Boonop is die kans om Porsche’s en R8’s te verneder met die kinders op die agtersitplek sekerlik elke sent werd. Brabus is nie amptelik in Suid-Afrika verteenwoordig nie en hoewel ’n paar ondernemings al probeer het om bestellings namens die Duitse toordokters te doen, is die euro/rand-wisselkoers beslis nie in ons guns nie. Dit keer Brabus egter nie om elke nou en dan sy jongste nuus aan Suid-Afrikaanse joernaliste te lek nie. Die Bullit Black Arrow is, aldus Brabus, ’n “bewys van sy tegniese vaardigheid, aangesien geen ander ombouer ’n V12 so maklik in die nuwe C-klas kan inbou nie”. Moet ook nie vergeet dat hulle die turbo’s (een op elke ry van ses silinders), die veringstelsel, vellings, ratkas en veral die remme heeltemal moes omtoor om die krag te kan hanteer nie. Die slotsom is in die spesifikasielys te sien. Altesame 537 kW, dink RS4 plus BMW 335i, en 1 320 Nm is beskikbaar onder jou regtervoet. Die syfers laat ’n mens verstaan waarom hy juis die Bullit heet en dit word verder versterk deur die 0-100 km/h-tyd van 3,9 s en 0-300 km/h-tyd van 24,5 s. Die syfers gee ’n mens ook ’n idee wat Merc met sy AMG-enjins kan doen as hy nie ’n meer konserwatiewe weg gevat het nie. Onthou dat hierdie 6 233 cc-V12 ook diens doen in motors soos die SL65 AMG, hoewel die krag hier beperk word tot 450 kW en die wringkrag tot 1 000 Nm. Brabus sê hy sal waarskynlik die wringkrag tot 1 100 Nm inkort om seker te maak die ratkas hou langer. Die enjin is getoor deur die elektroniese verstellings te verander, die suierwande te versterk en sterker suiers in te bou en groter tussenkoelers voor die turbo’s in te skroef. Om die enjin by te staan, is daar ’n nuwe uitlaatstelsel met minder kinkels vir beter asemhaling en vir ankers gooi is daar 38 cm, gegroefde en geventileerde skyfremme voor met twaalfsuier-remknypers. Agter is die skywe ook geventileer, maar daar is ses suiers minder en hulle verloor 2 cm in omvang. Die stabiliteitsbeheerstelsel en ABS-remme is herontwerp deur Brabus se ingenieurs self. Brabus sê die C-klas sal die krag op die pad kan neersit danksy ’n nuwe, verstelbare veringstelsel met rolstawe voor en agter en nuwe swaardiens, gasgevulde skokbrekers. Wat die voorkoms betref, doen die Bullit Black Arrow ook sy naam gestand. Hierdie pyl sit laag op die grond en sy nuwe skorte en koolstofvesel-drukvlerk is ontwerp om optimaal bo 300 km/h te werk. Verskeie Brabus-modelle het al ’n plekkie in die Guinness-rekordboeke en Brabus gaan ook mik vir ’n plekkie met die C-klas. Tot hy hierdie doelwit bereik, is sy fokus eers op die bestelboeke, iets wat hy skynbaar met gemak vul.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|