Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Befoeterde GT-R verower N-Ring
Soos ’n omgekrapte Godzilla met ’n seer toon is Nissan se GT-R besig om enige teenstand voor hom plat te trap. En Godzilla maak seer, baie seer. Die magtige Duitsers word in hul agterplaas aangevat deur ’n volume- Japanse vervaardiger en dit boonop op die Nürburgring in Duitsland. Nissan se befoeterde GT-R met gewone padbande het pas een van die vinnigste tye – 7 minute en 29 sekondes – vir ’n standaardproduksievoertuig om die Nürburgring behaal. In die proses is met woemawaens soos die Porsche GT2, Koenigsegg en SLR 722 GT klaargespeel. Die Nürburgring is natuurlik ’n vreesaanjaende renbaan in die Duitse woude wat letterlik al honderde lewens geëis het. Deesdae is die baan die plek waar vervaardigers mekaar elkeen op sy eie tyd die stryd aansê; ’n baan waar nuwe helde soos die GT-R gebore word en waar helde soos die Porsche GT2 sneuwel. Die tyd is amptelik die vinnigste tyd nóg van ’n volumemodel en ’n GT-R V-spec, wat ligter is met nog ’n paar ekstra perde onder die enjinkap, het glo reeds nie-amptelik ’n tyd van 07:25 om die ’Ring behaal. Dis blykbaar goed genoeg om met rykmanspeelgoeters soos die Carerra GT en Pagani Zonda F klaar te speel. Die GT-R se rekordaanslag is gedoen met sy amptelike toetsbestuurder, Tochio Suzuki, agter die stuur. Suzuki het verlede jaar ook ’n uitstekende tyd van 07:38 om die baan behaal (vinniger as byvoorbeeld die Porsche GT3), maar die Nissan-ringkoppe was nie tevrede nie en daar is weer probeer. Die GT-R is nie sommer net nog ’n Nissan met ’n warm enjin nie. Die GT-R het oor die jare heen homself gevestig as ’n supermotor en in sy jongste vorm skop die ou se turbo-aangejaagde V6-enjin 358 kW uit. Dink net aan die V-model wat ’n bietjie gewig afgeskud het en waarvan die enjin meer as 400 kW uitpomp. Die GT-R se krag gaan na al vier wiele, met verskillende programme vir die kragverdeling. En om die GT-R se Nürburgring-prestasie in perspektief te sien: die GT-R was vinniger as byvoorbeeld ’n Mercedes CLK63 AMG Black Series, wat eintlik ’n straatwettige renmotor is. Die Merc se beste tyd was 07:45 teenoor die GT-R se 07:29. Nou woeker Nissan se slim mense met die GT-R V-spec, wat glo binne ’n jaar sy verskyning sal maak.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|