Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Dom’ fout kos Zaugg
’n Mens wil nou nie soos ’n Lotto-speler klink nie, maar met ’n bietjie meer geluk kon die Suid-Afrikaanse A1 Grand Prix-span die seisoen op ’n puik hoogtepunt afgesluit het. Was dit nou net nie vir daardie hefboomdomkrag in die kuipelaan nie. Die SA-span het Sondag in die seisoen se laaste byeenkoms op die Brands Hatch-baan in Engeland twee verdienstelike uitslae behaal om die seisoen steeds in die vyfde plek af te sluit. Dit was egter hittete of Ierland (sesde) het hulle op die punteleer ingehaal, terwyl Switserland, soos reeds vroeër bepaal, die kampioenskaptrofee huis toe gevat het. Tydens die kort snelren het Suid-Afrika se Adrian Zaugg ’n goeie wegspring in ’n hand vol punte omgesit toe hy die ren in die sewende plek voltooi het – presies waarin hy gekwalifiseer het. Dit was ’n goeie vertoning synde daar voortdurend ’n gestoei en ’n gestamp op die smal baan was wat sommige jaers in die randskerms laat beland het. Brittanje se Robbie Kerr het die ren van die begin tot end gelei om waardevolle punte in te samel. Die Britte was in ’n goeie derde plek op die punteleer, maar het saam met Nieu-Seeland om die tweede plek geveg. Kerr se sege het dus aan die tuisspan ’n vroeë voorsprong gebied. Nadat die Suid-Afrikaner dié eerste potensieel gevaarlike spoedwal van ’n snelren suksesvol oorgesteek het, het die lang hoofren voorgelê. Weer het Zaugg in die sewende plek weggespring, en weer was dit op die tone loop om uit die gestamp weg te bly om die eerste paar draaie. Hierna het Zaugg vinnig in ’n gemaklike ritme beland waar hy al hoe meer druk op die twee motors voor hom begin plaas het. Hoewel die span se eerste oogmerk was om hul vyfde plek op die punteleer te verdedig, sou ’n goeie vertoning hulle help om selfs ’n aanslag op die vierde plek te maak. ’n Ramp het die span egter tydens die eerste van die twee geskeduleerde kuipestoppe getref. Zaugg en sy span het die motor se vier wiele blitsig omgeruil, en hulle was op pad om ’n posisie danksy dié blitsvertoning op te skuif, toe die hefboomdomkrag agteraan die motor nie ordentlik uitgehaal is nie. Toe Zaugg wegvlieg, was die domkrag nog vasgehaak aan die motor. Die Suid-Afrikaner het goed 30 m ver in die kuipelaan gery voordat die domkrag vanself losgekom het. Vir dié gebeurtenis is die span dadelik met ’n deurrystraf gepenaliseer – ’n stap wat hulle effektiewelik uit die ren gehaal het. Terloops, dié reël (dat ’n mens nie ná ’n kuipestop met iets aan jou motor nog vasgeheg in die kuipelaan mag wegry nie) is uniek aan die A1-reeks. Dit geld nie in Formule Een nie. Zaugg het sy straf kom uitdien, en weer in die 18de plek op die baan teruggekom. Hoewel hy hard probeer het om plekke op te maak, kon hy teen die tyd wat die geruite vlag gewaai het, net tot in die 11de plek vorder. Die Ierse span, wat die Suid-Afrikaners se grootste bedreiging om die vyfde plek was, het egter self ’n fout tydens die ren gemaak. Hulle was in ’n botsing betrokke en het van die baan gejaag. Suid-Afrika se vyfde plek was dus nie meer in die gedrang nie. Dit was desondanks ’n goeie einde vir hul beste seisoen nóg in dié drie jaar oue reeks. Indië se Narain Karthikeyan het die ren van die begin tot die end gelei en ’n puik sege behaal. Nieu-Seeland se Jonnie Reid was in die tweede plek – net goed genoeg om aan die Kiwi’s ’n verrassende tweede plek op die punteleer te besorg, slegs een punt voor die Britte. Die eerste ren van die nuwe seisoen vind op 21 September op die Mugello-baan in Italië plaas.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|