Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Turke ervaar GP-drama
Felipe Massa het tereg die glorie ontvang vir sy oorwinning in Sondag se Turkse Grand Prix – hy het koel gebly onder druk en die uitdagings van dié uitsonderlike baan vir die derde agtereenvolgende keer te bowe gekom. Nie eens Michael Schumacher kon dié baan baasraak nie. So ook verdien Kimi Räikkönen alle lof. Hy het op pad na sy derde plek die ren se vinnigste rondte opgestel ondanks ’n beskadigde voorste drukvlerk. Sy benadering om die maksimum beskikbare punte in te samel ook wanneer hy nie in ’n posisie is om te wen nie, is die teken van ’n ware kampioen. Heikki Kovalainen verdien ook eer vir ’n uitstekende terugvegpoging nadat hy na twee rondtes ’n pap band moes gaan omruil en tot heel agter teruggesak het. In die proses om 12 de te eindig, het hy waarskynlik meer kere jaers verbygesteek as ooit in sy Formule Een-loopbaan. Maar ongetwyfeld was die ster van die ren Lewis Hamilton. Sy tweede plek het gekom ondanks McLaren se rekenaarvoorspellings dat hy van derde op die rooster af ten beste op ’n vyfde plek kon hoop. Hy het dus, soos ’n Senna of ’n Schumacher van ouds, meer uit die motor gehaal as wat redelikerwys verwag kon word. G’n wonder hy het die ren ná die tyd as sy beste tot dusver bestempel nie. Om Hamilton se prestasie in perspektief te stel, is ’n bietjie agtergrond nodig. Nog vóór Saterdag se kwalifiseringsessie het hy geweet hy sit met ’n probleem. Bridgestone se tegnici het hom en die span ingelig hulle is bekommerd dat sy regtervoorband weer kan bars soos wat verlede jaar gebeur het. Hulle het bevind dat Hamilton se unieke bestuurstyl en die manier waarop hy sy motor opstel buitengewone druk op die regtervoorband deur Draai Agt plaas – daardie swiepende, links-om vier-apeksboog aan die verste ent van die baan wat teen 226 km/h geneem word en reeds legendariese status behaal het. Om dié rede het Bridgestone voorgestel Hamilton moet ’n kort middelskof by sy tweestop-renstrategie insluit, maar McLaren se rekenaarfoendi’s het bevind dit sal hom te ver laat terugval. Hy en sy span het toe op ’n unieke driestopstrategie besluit. Die enigste manier hoe dié strategie vir hom kon werk, was dat hy voor moes wegspring en so gou as moontlik ’n groot voorsprong opbou om te vergoed vir die ekstra tyd wat hy in die kuipe sou moes deurbring. Toe hy Saterdag slegs ’n derde plek op die rooster kon behaal, was dit dus teoreties vir hom neusie verby en kon hy hom maar klaarmaak vir die vyfde plek – vandaar sy teleurstelling op televisie ná die tyd. Teorie en praktyk is egter twee verskillende dinge. Hamilton het die stang vasgebyt en uitstekend weggespring. Hy is tweede agter Massa die eerste draai in en het binne trefafstand gebly. Nadat albei hul eerste kuipestop gemaak het, was Hamilton op die Brasilianer se stert en in die 24ste rondte is hy by Felipe verby. Ná sy tweede kuipestop het hy tot derde agter Massa en Räikkönen teruggesak, maar toe hy tydelik voorloop terwyl hulle elk hul laaste stop uitvoer, het hy genoeg van ’n gaping opgebou om ná sy derde stop tussen hulle in te skuif. Dit was ’n meesterlike vertoning van eksie-perfeksie jaagvernuf, gladde spanwerk en vasberadenheid om nooit te gaan lê nie – ’n bewys dat die menslike aspek selfs die slimste rekenaarprogramme kan troef. Slegs sewe punte skei nou vir Räikkönen, Massa en Hamilton in die jaerstryd. Ná Sondag se vertonings kan enigeen van hulle nog die titel inpalm. ) Om met die skrywer in verbinding te tree of op sy weeklikse F1 e-nuusbrief in te teken, stuur gerus e-pos aan hendrikv@mweb.co.za. Vir inligting oor Grand Prix-toere, besoek www.podiumtravel.co.za.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|