Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Luikrug met sterk, suinige turbodiesel en puik ratkas 'n wenner
Soms is dit lekker om aan iets nuuts gewoond te raak; om buite die sirkel van byderwetse normaliteit te gaan staan en ander moontlikhede raak te sien. Honda, die vervaardiger wie se reputasie ongekende groei wys, het sy luikrug-Civic buite die sirkel langs Renault se Mégane gestoot en was nog nie ’n dag spyt nie. Waar die Mégane se agterstewe en gebruikersvriendelikheid gewildheid verseker het, het die Civic die nieumodiese faktor ’n stap verder gevat deur iets anders as ’n gewone instrumentepaneel te bied. Dis afgesien van ’n buitengewone space age-neus wat soos die Seat León amper ’n reguit lyn met die dak se A-pilaar vorm. Die diesel-Civic, die i-CTDi, speel in uitgelese geselskap in ’n marksegment wat slim kopers lok. Hierdie is mense wat die driedimensionaliteit van hul kar geniet: die kompaktheid van ’n luikrug, die ekonomie van ’n turbodiesel en die gekombineerde sportiwiteit daarvan. Die Civic staan nie net uit met ’n nuwerwetse instrumentepaneel nie, sy enjin van 2,2 liter het die grootste kapasiteit in sy klas. In vandag se tyd is dit nie ’n goeie ding nie, maar die i-CTDi se liggewig-aluminiumenjin doen dit met groot diskresie teenoor die ekologie. Volkswagen se Golf en Audi se A3, Alfa se 147 en Fiat se Bravo, Ford se Focus, BMW se Een-reeks, Toyota se Auris, Opel se Astra en die Mégane het almal kleiner enjins – waarvan net die BMW meer wringkrag het. Die Honda lewer, soos die BMW, sy krag al van 1 750 r/min af. En al het hy nie dieselfde versnelling nie, raak die Civic nie uitasem terwyl die toere klim nie. Hierdie soort kragkurwe bied saam met Honda se wonderlike sesgang-handratkas, ’n klein stuurwiel met netjiese terugvoer, vlymskerp versnellerreaksie, goed gestelde koppelaar-aksie en sportagtige vering op 225/45-bande die soort ervaring wat jou laat knik wanneer jy met ’n ware driver’s car kennis maak. Die diesel-Civic knetter ’n bietjie teen luierspoed, maar demping teen padgeraas is uitstekend. Jou indrukke spruit uit hoe jy agter die stuur sit en wat aan jou gebied word. Maklike en duidelike ratskakeling met ’n kieriekop wat lekker in die hand voel, kombineer uitstekend met die goeie wringkrag en dít wat jy op die hoofaanwyser hier reg voor jou sien – die toerenaald. Dis jou hooffokus, maar Honda het amper alles tot reg voor die bestuurder geskuif. Daarom kan die wye maar vól instrumentepaneel iemand dalk oorstelp. Ook omdat die klimaatkontrole half agter die stuur wegkruip. Dinge soos die groot digitale spoedmeter net onder die ruit/enjinkap se lyn werk amper so goed soos BMW se Head-up Display, wat in die voorruit geprojekteer word en verhinder dat jy jou oë lank van die pad af neem. Die sportpedale, lekker voetrus, stewig-geleerde sitplekke, kopstutte, gemoedsrus danksy die stabiliteitsprogram wat die agterwiele individueel kan rem, gerieflike armleuning op ’n fris bêrekas, groot voordeure en goeie beenruimte agterin is nog plusse. Die blikagtige metaalafwerking in die deure en om die ratkierie verminder die aansien van die swart kajuit en die glasagtige materiaal in die instrumentekoepel gaan maklik krapmerke wys. Sig agtertoe word deur die stertdrukvin belemmer, totdat jy daaraan gewoond is. Jy kan nie die neus sien nie en die lugskort skraap maklik, maar dis gelukkig van nylonrubber. Die radio-CD-speler is baie netjies in die sentrale instrumentepaneel geïnkorporeer om aspirant-diewe te systap, maar die afwesigheid van outomatiese ligte pla – soos ook die gebruik van ’n aansitterknop saam met sleutelaanskakeling. Die i-CTDi is in die boonste helfte van sy segment geprys, maar regverdig dit met ’n meneer van ’n enjin wat danksy ’n stuk slim ingenieurswerk goed gebalanseerd is. Die enjin word gevoer uit ’n brandstoftenk wat tot onder die voorste sitplek geskuif is. Die Honda se wigvormige voorkoms wat deurgevoer word tot in fyner detail soos die dubbele uitlaatpype en voorste misligte is nie meer so nuut nie. Maar dis steeds verfrissend in Honda se eerste diesel-luikrug en omdat dit jou inlei tot ’n baie interessante stuurkajuit. Tweeliter-turbodiesels soos die 120d, die A3 en Golf is duurder, maar hulle is danksy uiters duursame gehalte in die binneruim die Honda se meerdere. Honda het met die bekendstelling van sy Civic gesê dat hy ná sewe generasies reg van voor af begin. Dit blyk waar te wees aangesien die suinige i-CTDi ’n reuse-sprong in die regte rigting vir dié vervaardiger is.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|