Kommentaar op lesers se foto's: 7
Jan 11 2008 02:05:01:120PM - (SA)
Johann van Tonder, bekende fotojoernalis en sameroeper van die fotokompetisie se beoordelaarspaneel, sal gereeld deur die loop van die kompetisie wenke vir die neem van beter foto's gee.
Hy sal ook kommentaar lewer op van die foto's wat lesers ingestuur het.
Wenk 1:
Lily Coetzee het hierdie foto van die Fieschergletscher in die Switserse Alpe ingestuur. Verskeie voorbeelde van sogenaamde "inleidende lyne" was al hier onder bespreking. Veral in die natuur is dit iets waarvoor fotograwe gerus kan uitkyk. Let op rivierstrome, paaie, lanings, selfs mensgemaakte heinings en telefoondrade, wat die kyker se oog deur die foto kan lei.
Wenk 2:
Louis le Grange het 'n stadige sluiterspoed gebruik om hierdie effek te kry. Die foto is in die Kgalagadi-oorgrenspark geneem. Baie lesers het waarskynlik al gewonder oor soortgelyke foto's van sterrewiele. Die tegniek is redelik eenvoudig.
Selfs in die veld sal jy verbaas wees oor hoe baie natuurlike lig daar is wat nie met die oog waargeneem kan word nie. Kyk bv. hoe helder die landskap is in Louis se foto. Donkermaan, ver van stede is ideaal.
Stut die kamera op 'n stewige driepoot, stel die lens (verkieslik nie 'n zoom nie) op inifinity en f5.6. Gebruik 100ASA.
Kies B vir sluiterspoed. Dit is vanselfsprekend dat 'n sluiterkabel gebruik moet word sodat die kamera stabiel bly. Moenie onmiddelik eksperimenteer met 'n baie lang sluiterspoed nie. Begin met 15 minute.
Onthou basiese samestelling. Maak seker daar is iets om na te kyk op die voorgrond. Wys die lens in die rigting van die suiderkruis om die effek te kry van sterre wat om 'n sentrale punt draai.
Wenk 3:
'n Elektriese storm. Lourens Steyn het dit by Brits afgeneem. Weerligfotografie verg 'n bietjie raaiwerk omdat die ligintensiteit baie wissel.
Gebruik 'n stewige driepoot, 'n sluiterkabel vir stabiliteit en stel die sluiterspoed op B.
Die geheim is om die sluiter oop te maak en te wag totdat die weerligstraal verskyn en dan die sluiter toe te maak. Moenie probeer om die straal te "vang" deur die foto vinnig te neem wanneer jy die blits sien nie.
Teen 100ASA, probeer lensopening van tussen f5.6 en f11.
In die dag is dit moeiliker. Gebruik die kleinste lensopening (f22 of kleiner), maar omdat daglig 'n lang sluiterspoed sal beperk, moet jy bietjie vinniger op die sneller wees.
Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel
Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi
|