Melville mak gemaak
Mense van Melville veg terug om dié Jhb-buurt saans weer leefbaar te maak sy inwoners.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Kan jy dié Afrikaans praat?
Feb 18 2008 09:24:28:370AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Hennie van Deventer, Melkbosstrand

"Heyta da al julle leka dingetjies. Die naam is Adri en ek is di nuwe jeugwerkertjitji hie bydi kerk."

"Daar is 'n paar leka goetrs wat ons wil doen ini kwartaal soos soki hou, dalk 'n road trip, kamp. battle of the pool geeks, LAN-aande en moenie wory ni, di deurnagte gan nogsteeds da wees."

"So, as julle verby di kantoor loop, ko groet, show ur beautiful face baby. Laat mens welkom voel hie man, hoe's jo hart dan?"

"Mwah."

Hierdie ou gryse in die ouderlingsbank se hare het omtrent orent gespring toe hy hierdie verspotte taal in sy (NG) gemeente se nuusbrief sien. Dit was 'n harde inisiasie in sms-taal (mixit?) en die begin van 'n gemeentelike taaldebat wat al warm begin raak het.

Waar in die saak die uwe hom bevind, blyk seker uit die volgende kort en kragtige antwoord aan een van die leraars wat wou weet of 'n mens dit nie tog maar as 'n nuwe soort morsekode moet sien nie: "Goeie ou dae - morsekode; Nou se dae - morsige kode!"

In elk geval, morsekode of morsige kode - so 'n kode is/was mos geen skryftaal nie. Eersgenoemde is ingespan om telegrafiese of radiografiese seine te stuur. Laasgenoemde se funksie is om bondige sms'e rond te blits. Dis al.

Kommunikasietaal op skrif met die jeug van 'n gemeente? Kan mos nie wees nie.

Later het nog skokke gekom. "Enjoy Sondagskool! Mwah mwah A3'tji." So is die jongklomp twee weke later aangemoedig. Nog 'n week later word 'n Valentynsdans (dans!) aangekondig - "mwah mwah jule leka dingetjies".

Mwah mwah. Dit klink nogal verleidelik - so met die Sondagskool saam. Maar alle grappies op 'n stokkie. Is ek werklik 'n verstokte ou reliek van 'n verbygegane era as sulke goggas my so teen die bors stuit?

Buiten vir die klaarblyklike opvoedkundige implikasies - o.m. op die bloedjies self wat hoeka so sukkel om te spel en op die arme skole se stryd om 'n nie-lesende kindergenerasie basiese spelreëls te leer - sien ek in hierdie "morsige kode" verskeie ander rooi ligte.

Een is die impak op dissipline. Ons kla graag oor dissipline wat oral by skole wyk voor wanorde. In dieselfde asem keur die kerk wanorde en dissipline-loosheid op die taalakker goed. Dit rym mos nie?

Ek loop my vas in argumente soos dat hierdie sogenaamde "idioom van die jeug" kinders teruglok kerk toe en dat Jesus nie Afrikaans gepraat het nie. Bid jou dit aan! Weet nie of die verdorwe jong geslag nog Bybel lees nie, maar in my Afrikaanse Bybel praat Jesus inderdaad (ook) keurig en korrek my taal.

Moet ons die Bybel ook maar vir die jongklomp oorsit in mixit? Toe, Bybelgenootskap, roer julle!

Hierdie oom-uit-die-oude-doos vra met trane in sy oë: bring tog vir hom wetenskaplike bewyse dat prysgawe van taalstandaarde al iewers die towerstaffie was wat die jeug vir die kerk herower het. Watter gesaghebbendes kan aangehaal word? Watter gemeentes dien as model? Watter steekproewe is gedoen, ook onder die jeug self? Moet die kerk dan agter elke nuwe smaak aandraf om kinders se guns te probeer wen? As die "smaak van die dag" is om openlik 'n dampie te slaan of met dwelms te eksperimenteer, gee ons dan ook maar toe omdat "dit is wat die jeug wil he?"

Ek is 67, grys, passievol oor my taal, besorg oor kommunikasie-vaardighede wat onheilspellend tuimel en ongemaklik met allerlei nuwerwetsighede in die kerk. Dis teen daardie agtergrond dat ek hard en duidelik wil sê: ek glo die kerk se taak is om die brood te bring, nie om vulsels na elke smaak aan te bied nie.

Want as jy eers begin toegee en toegee, beland jy op 'n gladde glybaan sonder brieke. Verantwoordelike grootmense sal uiteindelik iewers die streep moet trek. Maar waar?

Die vraag is: wat gaan ons doen as ons na 'n jaar ontdek ons het agter 'n eendagwonder aangehardloop? Hoe gaan ons die gedane skade dan omkeer? En skade is onvermydelik as selfs die kerk nou al vir kinders begin leer hulle kan maar bak en brou soos hulle lus het.

"Anything goes,baby. We're cool, man, cool. Mwah.mwah!"

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

 
Mxit taal, 18/02/2008, Dawie
ja nee, tipise afr mnse!!! kn jlle dt darm lees wt k hier skrf???? seke ni!!! ipv jlle self bekomer oori geweld en aner blanrike issues, breek jule koppe oor peti sht. eks ampe 30jr jnk en like di taal!!!! baja baja baja!!! kry 'n lewe of 'n tiener om jul te leer spel!!!
Oom Hennie se beswaar wys dis cool!, 18/02/2008, Jaco Strydom
Ek sê altyd dit is goeie teken as die ou omies nie van `n jeug ding hou nie! Dit bevestig dat dit cool is. In jeugbediening verloor jy dikwels of die respek van omies en tannies of jy mis die jongmense. As ek kan kies maak ek eerder vir oom Hennie duiwel in en bereik die tieners.
Die kerk is nie `n kultuurvereniging wat die Afrikaanse taal en tradisies moet beskerm nie. Gaan kyk maar hoe gaan dit in gemeentes se jeug waar die verstokte "oom Hennie" die ou SKJA ding probeer doen op die tradisionele manier. Dit suck om die minste te sê en die getalle wys dit gewoonlik. Jesus was nie "stuck up" nie. Hy was vry. Hou asseblief vir oom Hennie van die jeugkomissie af! Lekker om te hoor dat daar dapper jeugwerkers is wat kant kies vir jongmense.
Afrikaans, 18/02/2008, Sjert
Afrikaans was in Pannevis se tyd al 'n kombuistaal. Niks het verander nie!
Belaglik, 18/02/2008, Jolene
Ek kan nie glo dat mense tyd het om iets so uit verband te ruk nie. As die gemeenskap 'n probleem met die brief in hulle gemeente se nuusbrief gehad het, dink ek hulle kon dit onder hulself uitwerk.
Ek sien nie hoe die artikel die beeld gehaal het nie. Daar is daagliks soveel moord en kapings, en daarop sê hulle niks. As die gemmenskap nie die boodskap gekry het nie, sien ek nie hoe dit die res van die land se probleem is nie.
Morsige Kode, 18/02/2008, Andr?mit
Baie geluk aan al die kommmentators wt hulle teen hierdie gruwel uitgesprrek het - oom Hennie, baie dankie dat jy ons opnuut laat wakker skrik het!
Nee wat, net soos die manier waarop ons die swak dienslewering in die "nuwe" S.A. "aanvaar" en daaraan meedoen, net so probeer die "hensoppers" om alles vir hulself makliker te maak!
Aan julle (die hensoppers) wil ek net die volgende sê: "As julle te sleg is om iets te koester wat jule eie en spesiaal is nie, moet assebleif nie verwag dat diegene van ons wat nog 'n greintjie trots in ons het, ook so moet wees nie!"
Ek weier volstrek en skaar by by die gelowiges (en gedissplineerdes) - ek is anti-morsige taalgebruik - vir watter rede ookal!
Kan jy die taal praat?, 18/02/2008, Ina du Plessis
Moet sê ddit laat mens partykeer ineenkrimp as jy die hoor. Maar dan wil ek ook by dit sê dit verbly my hart om te sien hoeveel jongmense Sondagaande in die kerk is. Nie omdat hulle gedwing word nie, maar omdat hulle regtig daar wil wees!
En dan kan n mens net dankie sê dat kerk toe gaan vir hulle belangrik is, en dat vir hulle lekker is om die Woord aan te hoor! Jy laat die morsige taal maar verbygaan, al is dit nie hoe ons deur die skool gegaan het nie. Die belangrikste, weeg in die end die swaarste.
ek dink nie dit is platvloers, 18/02/2008, Ook 'n ouer
nie, dit is 'n vinnige manier vir kinders om met sms-taal en mxit taal met mekaar te kommunikeer. Op 'n amptelike blad vir die kerk, sou dit wel onvanpas wees. Ongelukkig is ons kerke besig om baie jongmense te verloor, en ek wonder of dit nie juis is omdat ons nie WIL aanpas nie. Sien die kinders nie juis dit as 'n onwilligheid aan die kant van die ouer garde om hulle te aanvaar nie? Vra maar net.
Morsige Kode, 18/02/2008, Santie
Toe ons op skool was, was ons gepenaliseer vir spelfoute, maar vandag gee hulle nie om hoe hulle spel nie, dit is so gebroke taal dat ek eintlik skaam kry. Kyk hoe verkrag ons mooie taal. Ek dink dit is uiters vieslik, die een wat mixit uitgevind het was seker met 'n stuk suurpap uit 'n drein gelok, dit is hoekom hulle nie ordentlik kan praat nie. Sny hulle tonge uit en kap hulle vingers af.
Morsige kode, 18/02/2008, Ds Jan Bekker
Ek het net gewonder of hierdie optrede en taal van die werkertjie ook aanvaarbaar sal wees as dit 'n manlike werker sou wees. Die ge-mwah en ge-mwah is vir my nie baie bevorderlik vir die sedes nie. Kan die manlike werkers ook sulke dinge vir die dogters stuur? Sal u tevrede wees as hierdie boodskappe deur 'n manlike werker aan jou dogtertjie gestuur word?
Ons lewe in 'n tyd waarin elke seun en elke meisie mekaar op skool en by die kerk druk as hul kom en gaan. Hierdie jeugwerker kan maklik as suggestief deurgaan met die "leka dingetjies". Ek glo daar moet norme en standaarde aan ons jeugwerkers gestel word. Jes.3:12 s?3:12 "Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot 'n dwaalweg gemaak."
Dit is vandag asof die kinders die ouers en die Kerk/rade aan die neus lei. Ons verlaat God se pad en al wat saak maak is om die jeug in die kerk te kry, maak nie saak met watse metodes en ondinge nie! NEE! Hul moet mos kom omdat hul God liefhet. Hul moet kom omdat hul diensbaar wil wees aan God en sy werk. Ons kerkjeug moet 'n voorbeeld wees vir die ongereddes daar buite!
Daar is nie meer standaarde op taalgebied, kleredrag gebied en selfs gedragsgebied onder baie jeug nie. Ek haal my hoed af vir Reyneke du Preez as moeder. Dit is waar die krisis ontstaan. By die huis, met moeders wat nie tuis is om hul kinders in die we?an die Here groot te maak nie. Daar is oormaat geld beskikbaar en volop aardse bederf, maar nie veel liefde, tug en sorg nie. Ek wil ook hê die jeug moet lief wees vir God se Woord. Ons moet hul egter ook leer om ordelik te wees, selfs met hul taal, want God is 'n God van orde.
Morsige kode, 18/02/2008, Juliette
Ek het reeds kommentaar gelewer, maar wil darem vir oulaas weer my opinie gee. Francois meen : "Kommunikasie gaan nie oor die simbole wat gebruik word nie, maar eerder oor die vermoë om 'n boodskap oor te dra." Ja tog, maar ek stem ook saam met Thinus, die jong predikant van Pta - ons jongmense is slimmer as wat ons dink, dis nie nodig om "af te praat" na hulle nie, hulle KAN kommunikeer, en ek dink die meeste van hulle sal die boodskappe van die "jeugwerkertjitji" agteraf (indien nie openlik nie) aflag en as skreeusnaaks en belaglik beskou, en bereik hierdie jeugwerker dan werklik haar doelwit?
Genade mens, 18/02/2008, Francois W
My kleinsus gebruik ook sulke taal en ek vind dit heel komieklik. Die jongklomp se sms'se en manier van kommunikeer is darem maar iets vreemd. Selfs vir my wat nog nie eers 30 is nie. Ek moet net byvoeg dat ek ook dink dit is uiters onvanpas om sulke lagwekkende taal te gebruik in offisiële kennisgewings.
Stuur dit aan jou vriende. Mixit soveel as jy kan, maar genade mens, as dit by offisiële besigheid kom, kerk of te not, hou dit tog asseblief Afrikaans. Ek dink ook die alewige Mwah Mwah's en die verkleinwoordjiestjies is Uncool! Is ons jeug wragties dan so terug op die brug?
Taal en Spelling is TOG belangrik, 18/02/2008, Amanda van der Merwe
Ek glo, vandat selfone ons mark toegeval het, het ons jeug se verstand ook stil gaan staan as dit by spelling en taal kom. Ek kry daagliks met mense te doen wat GLAD NIE kan spel nie en dit is frustrerend om eers die e-posse,smse en fakse te ontsyfer. Waarom skryf die kinders dan op laerskool speltoetse? Of het hulle so lui geraak dat ons pragtige taal nie meer saak maak nie? Kom nou julle, dit is mos nie so moeilik nie!
Morsige taal., 18/02/2008, XXX
Wat ek wil weet watter ander taal hetsy Engels, Frans, Duits , Japannees sal sulke liederlike taalgebruik toelaat in `n amptelike brief? Ek glo nie een nie! Hoekom moet ons dit aanvaar? Nee, dit is nie aanvaarbaar nie . Die kinders wat vandag op skool sit kan ook glad nie meer spel nie en ook nie tel nie. Is dit waar dit gaan eindig?
Mooi so, 18/02/2008, spraaterapeut
Mr Van Deventer se posisie oor die "kwaliteit" van afrikaans is 'n kwessie wat orals oor die wêreld oor alle tale gedebatteer word. Ek is van die posisie dat 'n debat soos hierdie baie belangrik is. Dit is mense soos mnr. Van Deventer wat help om ons taalwortels te bevestig en om ons te herhinner wat vir ons belangrik is oor ons taal.
Dit is ook die "minder suiwer" Afrikaans wat, of ons wil of nie, die taal verander en help groei. Die feit dat Afrikaans verander, is nie noodwendig sleg nie, en verseker sy voortbestaan (of mense nou saamstem met die kwaliteit daarvan is natuurlik 'n ander kwessie).
Op die ou end is niemand natuurlik 'n honderd persent gelukkig oor die "stand van hulle taal nie", maar debatte soos hierdie is 'n belangrike deel in die groei en vestiging van ons taal. Lank lewe Afrikaans! Vir die wat belangstel, sien Prof David Crystal se boek oor Language Death (Cambridge University Press).
Belaglik, 18/02/2008, Francois
Gaan ons nou sommer maar ander veroordeel en diskrimineer teenoor die metode wat hulle gebruik om te kommunikeer ook?
Kommunikasie gaan nie oor die simbole wat gebruik word nie, maar eerder oor die vermoë om 'n boodskap oor te dra.
Ek wens Suid-Afrikaners wil tog nou ophou om so kinderagtig te wees deur elke dag te soek vir nuwe redes om eerder agteruit te beweeg as vorentoe.
KAN JY AFRIKAANS PRAAT, 18/02/2008, LOUWRENS
WAT MY BEKOMMER IS DAT AL DIE MENSE WAT KOMMENTAAR LEWER BEKOMMERD IS OOR HULLE TAAL EN NIEMAND VRA OF DIE WERKERTJIE DIE KINDERS VIR JESUS BEREIK NIE. EK IS GRYS EN RAAK AAN DIE SESTIG , IS BAIE LIEF VIR MY TAAL EN DIS WAARDEVOL VIR MY MAAR AS SY KINDERS VIR JESUS SE KONINKRYK KAN WEN HET SY MY GOEDKEURING.
Morsige kode, 18/02/2008, HW
Daar is 'n tyd en 'n plek vir alles. Informele sms'e aan vriende en familie is verskoonbaar. Enige amptelike korrespondensie (kennisgewings, sake briewe, verslae ens.) regverdig ordentelike taalgebruik. Nog nooit het ek 'n Engelse kennisgewing onder oë gehad waar die taalgebruik morsig is nie. Waarom ons (Afrikaanssprekendes) altyd dinge goedpraat en probeer regverdig gaan my verstand te bowe.
Elke individu is verantwoordelik vir sy persoonlike bydrae tot sy gemeenskap, al is dit iets so eenvoudig soos 'n kennisgewing. In hierdie spesifieke voorbeeld van Hennie, vra ek net, waar is die gehaltebeheer? Iemand het die slordigheid goedgekeur. Dis teleurstellend dat standaarde selektief toegepas word.
Morsekode ( morsige )kode, 18/02/2008, Theo
Die tye verander wel,JA,maar nie die bybel of ons standarde nie.Die duiwel lei ons in die versoeking elke dag.Meng jou met die semels en die varke eet jou op. Wat lekker is,is nie altyd reg nie.Sê hulle ook aan die regter in die hof (HEYTA,Cool,Hoe's jo hart dan Baby)ek glo nie,so kry respek vir GOD en ander om jou!! Dankie,Oom Hennie jy doen goeie werk vir ons Vader in die hemel.
Morige kode, 18/02/2008, Esbe Krynauw, Melkbosstrand
As oud-onderwyseres van graad een tot drie met meer as 25 jaar ondervinding van spelprobleme by ons kleintjies, kan ek eenvoudig nie meer "cool" en onaangeraak bly deur die krabbeltaal week na week in die kerk se Nuusbrief nie.
Moet ons kerk dan agteroor leun om populêr by die jeug te bly met die gebruik van sms-taal? Wie gaan ly as daar byvoorbeeld oor vyf jaar weer berigte verskyn oor ons jeug wat nie kan lees of spel nie? Miskien ons, wat sê dis OK om te spel soos jy die woord hoor? Iets drasties behoort gedoen te word. As 'n oud-skoolhoof kan ek nie dink dat ons onderwysers van vandag nie met my sal saamstem nie.
Morsige kode, 18/02/2008, Hennie van Deventer
Dankie vir die stroom bydraes. Dis 'n riem onder die hart dat soveel taalharte nog soos myne klop. Ek gaan hierdie kommentare verwerk en terugvat gemeente toe dat ons verder kan stoei oor sulke banale taal.
Morsige Kode, 18/02/2008, Johan van Emmenes
Dit is tog jammer dat ons selfs in vandag se lewe steeds mense het wat ander wil voor se presies hoe hulle, hulle Bybel moet lees, wat hulle moet glo en ook hoe hulle dit moet uitleef.
Christus het gekom om ons vry te maak. Ons kan nie bekostig om 'n generasie te word wat mekaar nie kan verdra nie. Wat nie hou van die manier hoe ander dinge doen nie bloot net omdat dit nie is hoe ons dit doen nie.
Verstaan my asseblief mooi. Vir jare was die gevegte onder Christene oor die manier van Doop, oor of ons ons hande mag opsteek en ander derglike dinge.
Vir die jong mense van vandag, lyk ons wat hier oor stry soos "Wit gepleisterde grafte" want hulle weet tien teen een lank voor ons, dit gaan oor Christus in jou hart. En daarom die vrymoedigheid (ja ek weet Oom hulle verkies om dit rebelsheid te noem)van die jeug om selfs in hulle godsdiens, hulle uitleef van hulle verhouding met 'n Lewende God, te praat soos hulle met mekaar komunikeer. En wie is ons om te sê... Aikona - Dis nie wat Christus in Hebreeus of was dit nou Grieks probeer s?et nie!
Morsekode en 'n (morsige) kode, 18/02/2008, Reyneke du preez
Die nuwe manier van skryf is defnitief onaanvaarbaar. Ek het twee tieners en hulle het gou geleer om nie in mxit taal met my te kommunikeer nie. Ek skryf doodeenvoudig hulle sms in regte taalvorme oor, stuur dit terug en hulle moet weer die boodskap oortik en terug stuur.
Hulle het baie vinnig geleer reg skryf want hulle mors hulle eie tyd en geld. Dieselfde het met hulle skoolwerk gebeur.
Rooipen oor die huiswerk,oorskryf was nie meer vir hulle nie en het begin reg skryf.
Die verklarende woordeboek het toe die plek van tiener tydskrifte ingeneem na 3 keer se oorskryf.
Morsige kode, 18/02/2008, Thinus
Ek is 'n jong predikant in Pretoria. Ons het meer as 'n honderd hoërskooljeug lidmate in die Kerk. Ons stap as gemeente 'n pad waarin ons in pas wil bly met die tyd waarin ons leef.
Daar is bepaalde veranderinge en aanpassings wat nodig is en voortdurend nodig gaan wees. Maar om met oppervlakkige afrikaans vorendag te kom is nie die antwoord nie.
Dit is inderdaad so dat ons moet pasop vir hoë woorde en moeilike/verouderde begrippe, maar om ons taal te vervlak tot 'n aangepaste brabbeltaal is ongelooflik irriterend en oneg.
Oom Hennie, ek stem saam met jou. Julle jeugwerkertjitji kan gerus maar Afrikaans praat. Ons tieners verstaan dit. Hulle het immers tot nou toe Afrikaans in hulle ouerhuise gepraat. Ek moet sê ek het baie kontak met kinders in ons gemeente en by die skole van die omgewing, en dit was nog nooit vir my nodig om swak Afrikaans te gebruik sodat hulle my verstaan nie.
Ook hulle het nog nooit met my op daardie wyse gepraat nie.
Sterkte daar in Melkbosstrandtjitji.
Morsige kode, 18/02/2008, "n Ouer wat omgee
Ai Mense kom By! Die Liewe Vader gaan nie kyk of jy suiwer Afrikaans gepraat het nie maar of jou hart aan Hom behoort en of jy mense na Hom gelei het ongeag jou taalvoorkeure!
Julle is vinnig om te kritiseer maar wat doen jy om die jeug na Christus te lei? Wat die akademie betref asseblief - moenie betrokke raak in hierdie gesprek as jy nie tans 'n skoolgaande kind het wat onder die nuwe kurrikulum studeer nie - hul standaarde is inderwaarheid baie hoër as in die tyd toe julle matriek geskryf het! Ek weet, want ek is 'n betrokke ouer.
Pluk 'n standerd, 18/02/2008, Ansie
Nou hoe nou? Wil ons kinders eers 'n standerd druip omdat hulle nie KAN spel nie? Ek gebruik soms self ook afkortings, maar kyk na wie ek dit stuur. My ma het my geleer 'n mens het respek vir ander en ook vir ouer mense.
Hierdie is nie net respek vir ander mense nie. Dit gaan ook oor respek vir die die kerk en vir God. Ag nee man, wat soek jy by die kerk as jy nie respek het nie! Het jy ooit respek vir jouself?
Dit is nie nodig om so op te tree omdat jy dink mense gaan jou makliker aanvaar nie. Jy sal 'n buitestander bly.
Weg met die morsige goed!, 18/02/2008, Thomas
Eerstens kry Johan Kruger by my 120% vir sy bydrae. Ek het 'n dogter wat so pas haar Meestersgraad in Afrikaans met lof verwerf het. Probeer vir haar een van hierdie morsige goed stuur en kyk hoe word jy oor die kole gehaal! Dit geld haar hele omgewing en vriende. Net soos by Johan praat jy in hierdie huishouding korrekte Afrikaans en basta met die gemors. Dankie ook vir Hennie wat die saak aangeroer het.
Laaste maar nie die minste nie vind ek dit onaanvaarbaar dat dit wat hier blootgestel word dan werklik in kerklike aangeleenthede manifesteer. Net nog 'n voorbeeld van 'die kerk agter die mens aan'?
My Bybel leer my dat ek ten alle tye moet reformeer na die waarhede van die Bybel toe - daar waar baie plek is vir vreugde maar geen plek vir ligsinnighede nie.
morsige kode, 18/02/2008, Christa
Ek hou reeds lankal niks van die taal waarmee ons jonges kommunikeer nie. Is dit dalk bietjie "platvloers"?
Morse (Morsige)kode, 18/02/2008, Petro
Ek het aan my dogter, gr11, die naweek gesê dat hierdie morsige morse sms taal gaan veroorsaak dat sy elke dag 'n speltoets uit die woordeboek gaan skryf totdat die hele woordeboek deurgewerk is. Vir 'n sms is dit dalk aanvaarbaar maar wat skoolwerk betref kan hulle beslis glad nie spel nie!!!
Morsekode en 'n mors(-ige) kode!, 18/02/2008, Johan Kruger
Beste Hennie van Deventer,
Net soos jy is ek ook grys, halfkaalkop en baie lief vir my taal. Ek kan ook nie hierdie vieslike nuwe "Gemorsikaans" verdra nie. Dit is ongelukkig nie die kinders se skuld dat hulle deesdae "Gemorsikaans" gebruik nie. Dit is in die eerste plek die ouers se skuld, en in die twede plek Kaderleerplankadawer, Pandora-Onderwysvrotboks & Kie se skuld.
Dit is die ouers se skuld omdat hulle nie meer verantwoordelikheid vir hul kinders se akademiese opvoeding wil aanvaar nie. "Ek betaal mos skoolgeld, dit is die skool se plig om hulle akademies op te voed". Tuis het hulle ook nie meer tyd om aan hulle kinders te bestee nie. Hierdie ouers het nie 'n idee wat in die skole met hulle kinders se akademiese opvoeding aangaan nie. En Kader en Pandor het nie 'n idee wat 'n suksesvolle leerplan behels nie.
Wie moet nou hierdie kinders leer? Wie moet hulle leer van taaltrots, Afrikaans praat en skryf en lees sodat hulle dit eendag ook aan hulle kinders kan oordra?
Kinders lees nie meer nie. Hulle is werklik aan hulle self ooorgelaat, en jy weet wat gebeur as 'n ding uit onkunde gebore word.
In ons huishouding is die belangrikste boeke naas Die Bybel die Afrikaans Verklarende Woordeboek, Engelse Verklarende Woordeboek en die Afrikaans/Engelse Woordeboek. Die standaard antwoord op 'n kind se vraag oor hoe 'n woord gespel word is: "Kyk in die woordeboek".
Ek het drie dogters wat dank die Vader aldrie reeds by Tukkies studeer. Wanneer hulle vriende kom kuier het toe hulle nog op skool was, en hulle "Gemorsikaans" gepraat het, het ek hulle huistoe gestuur met die opdrag om die "A" afdeling van die HAT te gaan bestudeer.
Hulle was weer welkom om te kom kuier wanneer hulle gereed was vir 'n mondelingse eksamen oor die betrokke afdeling. Nie een van hulle het ooit die toets afgelê nie, maar hulle taalgebruik het aansienlik verbeter wanneer hulle by ons aan huis was.
Maar Hennie, die taal is nie die groot kopseer nie. Die kinders se totale akademiese toekoms is die groot kopseer. Want as gevolg van die huidige leerplan gaan ons skole van hierdie jaar af elke jaar 'n verlore akademiese geslag voortbring en aan die wêreld uitspoeg.
Sover dit die jeugwerkers betref, wel, met 'n waardestelsel soos in jou brief uiteengesit word die jeug net verder van die wal af in die sloot gehelp. En glo my, hierdie betrokke jeugwerker se manier is nie die uitsondering nie. Nee dit is eerder die reë.
Hierdie jeugwerkers is meestal so mislei, selfvoldaan en veroordelend. En dit in die naam van Godsdiens. Dit laat 'n mens sidder.
Morsige kode, 18/02/2008, Juliette Ferreira
As mens nog verby die morsige taal kan kyk (wat ek moeilik doen - ek is in my dertigs, nog lank nie grys nie, maar net so passievol oor my taal), lyk dit vir my "di nuwe jeugwerkertjitji" is maar taamlik ligsinnig ook. Nee wat, my kind word nog op die oudtydse manier van die Koninkryk (en ander dinge)geleer. En hy floreer.
Morsige kode, 18/02/2008, Dr Lourens P Barnard
Ek is van mening dat die morsige kode so deel geword het van ons daaglikse bestaanswyse dat niemand meer iets te sê het daaroor nie, tot nou.
Ek prys vir Hennie oor sy skrywe en het selfs al gewonder of ek die enigste een is wat die nuwe (of tewel ook al ou) gier nie kan goedpraat nie. Dit het al so erg geword dat selfs my eie moeder van 54 ook al van die sms taal gebruik maak. As ek daagliks my e-pos oopmaak en ek sien die gebruik van my moedertaal in so 'n onsmaaklike wyse, stuur ek dit dadelik terug en skryf dan ook dat ek dit nie verstaan nie en die skrywe nie in een van die land se amptelike tale geskryf is nie. Ek kan nie beskryf hoeveel dit my irriteer nie.
Ek het ook intussen verneem dat die Bybel WEL al vertaal is in die nuwe sms-taal.
Waarheen gaan die wêreld?
Morsekode en 'n (morsige) kode, 18/02/2008, ???????
Ek sit met 2 tieners in die huis en ek moes leer om hierdie nuwe mixit kodes of verkorte woorde wat hulle gebruik leer. As hulle my sms dan is dit in morsekode's, so leer dit, dit is die beste manier!
Ek het al agtergekom dat hulle partykeer self sukkel om hulle eie boodskappe te lees!! As ek die kinders sms gebruik ek self hulle kodes! Ek kan nie sien wat fout is daarmee nie, of jy nou voluit tik en of jy dit verkort dit is dieselfde dit gaan net vinniger!
 
Hierdie kommentaar fasiliteit is nou gesluit.
vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |