Hoeveel het jý gewen?
Kliek hier vir die jongste én vorige Lotto-wennommers en uitbetalings.
Beeld
Olimpiese Spele in Beijing
Die SA span, nuus, agtergrond en ander inligting oor vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing, China.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe Web     BLITSGIDS
Vennote


Koud ken geen perke nie
Apr 04 2008 10:33:55:027AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Kobus Pieters vang vis op 'n ysmeer in Kanada.
Nerina Pieters


Die ruite van ons woon-stel ruk verwoed. Ons het geen idee wat buite aangaan nie. Spierwit yskristalle versper jou sig na buite. Die temperatuur is -37°C maar die aanvoelbare temperatuur is ’n lieflike, verfrissende -51°C! Almal draai hulself in lae en lae klere toe – net wapperende wimpers steek uit (en selfs dit vries soms aanmekaar vas).

’n Lekker diep asemteug laat jou neushaartjies onmiddellik vries en dis nogal komies om te sien – die arme stokstywe wit outjies op aandag voor jou neusopening. Die wind slaan jou tussen die oë met ’n lekker ice cream hoofpyn , trane loop by jou wange af van die koue “briesie” en my man vertel hoe hy byna-byna weer beswyk het toe hy die kar uit die garage gehaal het.

Sy linkerneusvleuel is spierwit gevries. Môre is dit ’n blaas met velletjies wat vir dae afdop. Sy ore het ook al so deurgeloop. ’n Mens kom dit nie eens agter nie. Dis so koud, ’n mens het geen gevoel meer nie.

Hy het vanoggend lug in die kar se wiel gaan pomp, maar die naaste garage se lug was gevries! Ons kar is letterlik ingeprop om sy hartjie mooi warm te hou sodat hy darem kan vat in hierdie weer.

Ons ry ’n Ford – built for life in Canada – sê hulle. Dit moet wees, want my ou Uno waarmee ek rondgerits het in Suid-Afrika sou die sneeu net so een kyk gegee het en self by ’n krans afgejaag het. Die sneeu waai spookagtig voor jou uit op die paaie en sigbaarheid is minimaal.

Ons bly nou al sewe jaar hier op ’n plattelandse dorpie in die suidweste van Kanada. Soms voel dit soos ’n leeftyd en ander kere kan ’n mens nie glo soveel jare het al verby gegaan nie.

Ons het die voorreg gehad om wonderlike goed hier te beleef, maar die Arktiese winde bring ’n mistroostigheid wat ’n ou laat wonder wat maak ’n mens nou eintlik hier so ver van jou geliefdes af.

Die winters hier is so te sê 13 maande lank en die somer terg jou net so vir ’n rukkie voordat dit weer verby is. Dan dink ek altyd hoe lank die winter in Suid-Afrika altyd vir ons gevoel het. Maar nou moet ek bysê, die mal winters in Kanada is baie meer draaglik as die winters in Suid-Afrika. As ek dink hoe passief ek altyd in die winter in Suid-Afrika gevoel het!

Jy word yskoud wakker onder vier duvets, spring uit die bed, trek aan teen ’n rekordtyd en wonder of jy dit sal regkry om drie wessies oormekaar aan te trek. Soms is dit warmer buite as binne-in die ysige huis. Die hele gesin, insluitende die honde, baklei vir plek om die ou gasverwarmertjie in die sitkamer. Dit voel party dae of ’n mens net nooit warm gaan word nie.

Wel, dit maak seker net sin. Suid-Afrika is aangepas vir die lieflike, lang somermaande terwyl Kanada weer vir winter van onder vriespunt-temperature aangepas is. Alle huise en geboue is verhit en as jy nie nodig het om die hitte van jou huis te verlaat nie, kan jy heeldag binne rondbaljaar in ’n T-hemp, salig onbewus van die wêreld wat amper buitekant vergaan.

Vandag is my dag tuis en al het ek ’n bloeiende wond gehad, sou dit moes wag vir môre wanneer ek wel noodgedwonge die huis moet verlaat om werk toe te gaan. Maar tot dan sal niks my buite kry nie.

Al is dit so koud bly die spierwit wêreld steeds na al die jare vir ons sprokiesmooi. Die lug is gewoonlik die mooiste blou en die spierwit yskristalle op die bome lyk soos koraal in ’n Karibbiese see.

Die sneeu demp alle geluide en daar is ’n ongelooflike rustigheid in jou siel. Jy hoor net jou eie asemhaling en die kraak van die sneeu onder jou voete.

Die mense hier haat die sneeu, maar vir ons wat dit nooit geken het nie, bly dit ’n wonderwerk. Elke sneeuvlokkie is uniek. Ek sal my steeds verwonder aan al die vlokkies wat op my handskoen val – soveel detail. Glo my, ek het al ’n paar vreemde kyke gekry.

Ek het ook besef hoe ons dinge as vanselfsprekend in Suid-Afrika aanvaar het en nou is dít die goed wat ’n mens so erg mis. Dis hartseer dat ’n mens jou eie land eers moet verlaat voordat jy dit regtig waardeer.

Ek lees Marita van der Vyver se boek Die hart van my huis en dis heerlik om met ’n glimlag met soveel dinge te kan identifiseer. Dit laat ’n mens weer rustig word. Die frustrasies, verlange, eensaamheid . . . maar darem nog die vermoë om soms die humor in sekere situasies te sien. Maak nie saak waar ons is nie, ons harte is en sal altyd Suid-Afrikaans bly.

“Ons vir jou, Suid-Afrika!”

  • Nerina Pieters het die bydrae uit Swift Current in Saskatchewan, Kanada, gestuur.

  • Stuur jou storie, foto's en video's na mystorie@beeld.com.

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |