Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Ek wil sulke bosweelde tot op my drumpel bring
Ek het geleer die lewe maak, soos 'n rivier, sy eie draaie. Soms is die loop reguit en ander tye kronkel dit so krom dat jy nie die volgende hindernis kan sien nie. Filosofies, ek weet. Maar met 'n rivier het ek groot geword. As ons op 'n reis of besoek die dorp verlaat het moes ons altyd die rivier oorbrug. Soms was dit douvoordag en ander kere sterk skemer as ons verby gery het. Meestal het ons ook oor die rivier se watervlak en toestand 'n vinnige gesprek gevoer. Daar was baie riviere. Net een het egter uitgeloop op my spesiale plek. Het iemand julle al afgevra: "As jy dink aan 'n plek as joune, waar is dit? Of 'n plek waar jy al totale vrede en rus ervaar het?" Wel, aangesien ons definitief 'n filosofiese pad loop vandag gaan ek 'n antwoord gee. My plek is Lydenburg, dis my hart. Maar 'n spesifieke plek? By die bos wit Abele (vuurhoutjiepopuliere) bome wat tussen die berge staan op die Dullstroom/Lydenburg-pad. In die winter is dit lang kaal vingers en in die somer is die blare fyn-groen spookasem. Dit is seker een van die eerste dinge wat vir my geleer is: dat hulle vuurhoutjies daarvan maak. My hele lewe was ek bang dat dit afgekap word en iemand sy sigaret daarmee sal aansteek. Want sowat 20 km voor ek Lydenburg inry weet ek al met hierdie landmerk ek is by die huis. Dit is die bos. Dis seker hoe Dalene Matthee gevoel het oor haar geliefde Knysna-bosse. 'n Paar jaar gelede het 'n kosbare vriend baie moeite gedoen dat ek dit kan besoek. Met 'n Land Rover het ons oor die berg en deur 'n vallei gery totdat dit voor my was. 'n Pragtige waterval met 'n natuurlike rotspoel is ook sowat 600m daarvandaan. Terwyl ek hier skryf hoor ek hoe die kristalhelder water oor die spoelklippe kabbel. Die uitdrukking op my gesig was een van gewaarwording. Verskriklike gewaarwording. Slange en adders het net vir 'n oomblik deur my gedagtes gespoel toe ek tussen die bome gaan stilstaan het. Ek het my oë toegemaak en diep asemgehaal. Daar was nie woorde nie en ek het gehuil. Ja, ek is altyd emosioneel met diep ervarings. Dit was 'n kosbare oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Daarom het my hart amper gaan staan drie jaar gelede toe ek ontwikkeling daar bespeur. Dit voel vir my of elke beskikbare stuk grond in die area gestoot word vir 'n foreldam. My angs was van korte mette. Die nuwe eienaars wat die grond gekoop het, het dalk die populiere en rivier deur dieselfde oë gesien. In samewerking met die natuur is 'n klein paradys geskep. Die rivier en populiere is pure elegansie. Bosweelde wat ek graag tot op my voordeur se drumpel sal wil bring. Lydenburg is my hart, my groot liefde en huis.
Daar by die blou berge ...
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|