Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
’n Goue kind propvol woema
Potchefstroom. – Hierdie is ’n klein botteltjie propvol woema. Die sporttoekoms van Joné Kruger (10) van die Laerskool ML Fick wink blink. By die onlangse Suid-Afrikaanse atletiekbyeenkoms vir laerskole het sy ’n goue medalje ingepalm vir hoogspring met ’n hoogte van 1.33 m. Die SA rekord is 1.36 m. In verspring het sy, ondanks ’n spierspasma, ’n allemintige 4.36 m ver gespring en ’n goue medalje ingepalm, en in die hekkies was sy slegs 0.03 s agter die wenner. Dis beslis goue atletiekgene wat die donkerkoppie gekry het. Ma Ciska, ’n onderwyseres, beter bekend as Ciska Buys, het op haar dag ook ’n opskudding op die atletiekbaan veroorsaak toe sy verskeie SA rekords laat spat het. Ciska is haar oudste dogter se afrigter. Kleinsus Karla (4) “piekel nog net oral agter haar sussie se goed aan, maar sy toon ’n belangstelling in gimnastiek”. “Ek is gek na sport. Ek het SA korfbal gespeel en aan die SA ope vir gimnastiek deelgeneem. Ek het oor die 6 m ver gespring, was SA skolekampioen en SA o.21-kampioen. Dit was in die isolasietyd en ons het dus nie dieselfde blootstelling gekry as nou nie,’’ vertel Ciska nadat Noordwes-Beeld haar prestasies uit haar uit moes trek. Sy meen sy het nie die “big match temperament” gehad wat haar dogter het nie. “Joné byt vas en presteer baie, baie goed onder druk en by groot byeenkomste.” Sy en pa Kobus is baie trots op hulle kind. Joné het vandeesmaand tien geword, maar is reeds onder die top-23 tennisspelers in die land in die o.12-afdeling. Sy het Noordwes reeds twee keer by die SA gimnastiekkampioenskap verteenwoordig. Boonop is sy een van die toptien leerlinge vir akademie in haar gr. 4-klas, was as junior die skool se sportmeisie van die jaar, het ’n A+ ingepalm vir klavier in die kunswedstryd en het dubbele goud in Kumon Engels en goud in wiskunde behaal. En dan speel sy ook vir die o.10A-span netbal. “Die kind maak ons moeg. Daar is mense wat dink ons druk haar. Dis nie die waarheid nie. Sy doen hierdie dinge self. Ons probeer rem aandraai, maar sy wil nie kies tussen tennis en atletiek nie. Sondae pak sy haar hekkies hier in die agterplaas om te oefen. Dan gee ek oor aan Kobus, want sy put my uit!” Joné kla effens dat haar ma te streng is met haar. “Sy baklei meer met my as met die ander atlete,’’ kla sy. Haar ouers beskryf haar as ’n mededingende kind wat nie sommer tou opgooi nie. “Ek wil die beste wees. Niemand dwing my nie. Dis nou maar net so,’’ sê sy beslis.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|