Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Probeer, maar laaste plek nie syne
Port Elizabeth. – Hy het geweet hy is nie eintlik fiks genoeg om die Ysterman-kompetisie in ’n goeie tyd te voltooi nie, toe besluit hy om maar die laaste man oor die eindstreep te wees. Nick Rautenbach (47) van Potchefstroom was ná bykans 17 ure se swem, fietsry en draf oortuig hy is die laaste deelnemer wat die strawwe driekamp-kompetisie in die Baai betyds voltooi. Dié polisieman het die kompetisie sukkel-sukkel skuins voor middernag voltooi. Hy het net begin om sy “agteros-titel te geniet” toe ’n atleet van Port Elizabeth, Aiden Smith (36) stilletjies, met minder as vier minute op die klok oor, die eindstreep oorsteek. “Ai, en dit ís so moeilik om laaste te wees,” het Rautenbach later gespot. Hy het so byna-byna nie die kompetisie voltooi nie. Die blase onder sy voete het soos vuur gebrand en hy het die laaste skof maar hinkepink aangepak. “Dis hoekom ek toe besluit het om naby die universiteit eers ’n vinnige uiltjie te knip voor ek die pylvak aangedurf het,” vertel hy. “Selfs dít was nie eens genoeg om laaste te kom nie!” Vir albei agterosse was die skare wat tot 24:00 nog in hul honderde die laaste deelnemers luidkeels tot by die eindstreep toegejuig het, die hoogtepunt. “Ek het skoon bewoë geraak toe ek al die ondersteuners sien en hoor,” sê Rautenbach. “Dit was absoluut fantasties.” Francois Jacobs (37) van Centurion, die eerste blinde atleet tot nog toe wat aan die SA Ysterman-byeenkoms deelgeneem het, sê ook die ondersteuning was ongelooflik. “Om tussen die gejuig deur na die eindstreep te hardloop, was beter as om ál my verjaardae op een slag te hê,” het ’n emosionele Francois, wat spog met ’n uitstekende tyd van 13:59:13, gesê. “Ek is moeg en baie seer, die enigste deel van my lyf wat nie seer is nie, is my hart.” Van die 1 437 atlete wat die oggend weggespring het, het 33 deelnemers nie die driekamp voltooi nie.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|